Gender of geslag?

Gender of geslag?

Deur André Bekker

8 November 2020

ʼn Vraag wat ʼn behoudende Christen vandag vir homself duidelik in hierdie verwarde wêreld moet uitklaar, is of die Bybel na die mens in terme van sy gender of geslag verwys. Dit kom voor of die onderskeid van die twee terme nie duidelik verstaan word nie, en die oorsprong en gebruik daarvan onbevraagteken gelaat word.

Die twee terme verteenwoordig twee wêreldbeskouings, wat Dr. Nicolosi, ’n kliniese sielkundige, in ʼn neutedop soos volg opsom:

‘Dit is ons gevoelens en begeertes wat ons vertel wie ons regtig is.’

Hierdie woorde som die fundamentele aanname van die gay- en transgender-beweging op.

Volgens hierdie filosofie, as ’n vrou sê dat sy soos ’n man binne voel, moet sy ’n man wees, en ons moet haar begin aanspreek as ‘hy.’ Net so, as ’n man homoseksueel aangetrokke voel, dan moet hy gay wees. Toeval het sulke mense eenvoudig geskep om anders te wees, en ons moet daardie andersheid vier en dit nooit bevraagteken nie.

Maar daar is ’n ander wêreldbeskouing, ondersteun deur millennia tradisie sowel as dekades van kliniese waarneming wat ’n heel ander prentjie skets. Ons liggame vertel ons wie ons is …. Tradisionele sielkunde en die Joods-Christelike wêreldbeskouing beskou die mensdom as deel van ’n universele heteroseksuele natuurlike orde.

Ons het dus in hierdie gesprek te doen met verskillende wêreldbeskouings. LGBT werk vanuit ʼn wêreldbeskouing waar God afwesig is en ons aangewese is op ons gevoelens en begeertes. Die Christelike wêreldbeskouing werk vanuit die uitgangspunt dat God besluit het. Toe God geskep het, het Hy besluit dat alle lewe in die skepping sal funksioneer en voortplant in twee komponente, wat ons ken as “manlik” en “vroulik”. Dit geld van mens, dier en plant. Manlik en vroulik leef in simbiose tot mekaar tot wedersydse voordeel van mekaar en instandhouding van die lewe. So het God dit beplan en tot stand gebring.

Dit is belangrik om te verstaan dat die eerste wêreldbeskouing op ʼn baie jong teorie gevestig is, en fokus op hoe die mens homself subjektief psigies beleef. Die ontstaan ​​van genderteorie hou verband met die feministiese en lesbiese, gay, biseksuele en transgender (LGBT) studies wat in die 1970’s aan baie universiteite in die VSA bekendgestel is, en in die negentigerjare versprei het. Die konsepte, metodes en navorsingsonderwerpe daarvan is nog steeds ’n saak van kontroversie, en dit is onmoontlik om ’n definisie te gee wat op alle genderstudies van toepassing sal wees. Vandag word dit as ʼn interdissiplinêre wetenskap bestudeer, alhoewel dit geen grondslag in die empiriese wetenskap het nie! Gender is ’n sosiale konstruk, en nie ’n biologiese toestand nie.

As ons daarom bv. die terme “gay”, of “seksuele-oriëntasie” gebruik, gebruik ons ’n sosiopolitieke term wat geskep is om politieke doeleindes te bereik. Dit is nie terme wat ontstaan het uit empiriese navorsing in die sielkunde nie.

Die Bybel praat ook nie van die mens in terme van sy gender- of seksuele-identiteit nie. Hierdie terme is vreemd aan die Bybel en is ʼn slaggat vir ʼn Bybelse antropologie. Die Bybel se beskouing van die mens is ʼn objektiewe biologiese geslagtelikheid, nl. manlik en vroulik (Gen. 1:26-28, Gen. 2:4-25). Dit is van belang om op te let dat daar in hierdie Bybelgedeeltes geen sprake is van ʼn sogenaamde seksuele-oriëntasie nie. Seksualiteit word uitgebeeld binne die geslagtelikheid van man en vrou.

Kom ons neem nou Lev 18:22 as ʼn voorbeeld:

(22)Met ʼn manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ʼn mens met ʼn vrou het nie. Dit is ʼn gruwel.

Hier is net sprake van geslagtelikheid en nie seksuele-oriëntasie nie. Wat is die implikasie hiervan? Dit is ʼn gruwel as ʼn man, ongeag sy seksuele-oriëntasie, met ʼn ander man seksueel verkeer soos wat ʼn man met ʼn vrou seksueel sou verkeer. Hier is dus nie net sprake van ʼn “homoseksuele” persoon nie, alhoewel hy hierby ingesluit is, maar word hier na enige man verwys.

3 thoughts on “Gender of geslag?”

  1. Nou wil str8 mense vir ons kom vertel hoe ons voel. Julle pleeg sonde, maar wil ander se kamtige sonde uitwys. Wat sê julle Bybel van die singer en die balk?
    Verkondig net haat. Maar so is die kerk besig om sy alie te sien en leeg te loop met mense se oë wat oopgaan vir die leeuns wat vertel word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui