Formulier gestop: Was dit kerkregtelik in orde?

*******

Formulier gestop: Was dit kerkregtelik in orde? | Kerkbode

Kerkbode

28 September 2022

Ds Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: In die media gons dit oor die aankondiging dat die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) nie die Algemene Sinode (AS) se opdrag gaan uitvoer om ’n formulier vir bevestiging van selfdegeslagverbintenisse (SGV) op te stel nie. Die nuus wat soos seismiese golwe deur die land getrek het laat ons met ’n paar kritiese vrae:

  1. Was dit ’n goeie besluit? Ja, dit kon dalk ’n goeie besluit wees, mits dit ’n aanduiding was dat die ASM uiteindelik ook begin doleer oor die skade en skeuring waarin die AS die NG Kerk gedompel het. Dan was daar vir baie dalk ’n klein straaltjie van hoop vir die NG Kerk se toekoms. Maar ongelukkig blus die flou verskoning dat hulle nie ’n formulier kan opstel nie aangesien die AS se besluit oor SGV kwansuis nie ’n beginselbesluit was nie, elke vlammetjie van hoop. ’n Goeie besluit met ’n vals motief bly ’n slegte besluit.
  2. Mag die ASM self besluit om ’n besluit van die AS te ignoreer of te herroep? Nee, hulle moet AS se besluite uitvoer, maak nie saak hoe hulle daaroor voel nie. Daarom, om doelbewus te ignoreer is minagting. Ten spyte daarvan sou die ASM tog ook kerkordelik reg opgetree het indien hulle met ’n skoon gewete die regte motivering kon gee. Wat is dit? KO Art 23.1 bepaal: “Die besluite van vergaderinge of hulle gevolmagtigdes is bindend, in soverre dit nie in stryd is met die Woord van God, die belydenis van die kerk en die Kerkorde nie (sien Artikel 1 en 2)”. Dit beteken dat geen besluit van enige kerkvergadering wat in stryd is met die Bybel, enige bindende gesag het nie. Enige besluit wat in stryd is met die Bybel is dus per definisie reeds ongeldig. Wanneer die AS dus van die ASM verwag om ’n kerklike formulier op te stel vir die kerklike seën en kondonering van ’n on-Skriftuurlike seremonie, het die ASM nie net die kerkordelike mandaat nie, maar ook die Bybelse plig om dit as ongeldige besluit te weier.
  3. Waarom dan hierdie besluit? Die ASM motiveer hulle besluit nie met Bybelse besware of persoonlike berou nie, maar eerder met selfregverdiging. Hulle probeer mos lankal om lidmate te oortuig dat die AS in 2019 nie regtig vir of teen die Bybelse regverdiging van SGV gekies het nie. Gemeentes kan kwansuis self daaroor besluit. Met hierdie mooiklinkende maar valse argument het hulle reeds geslaag om verskeie sinodes te keer om nie ’n Art 37 besluit te neem nie. Ongelukkig weerspreek die AS se besluit om ’n formulier op te stel vir die kerklike bevestiging van SGV al die mooiklinkende argumente om lidmate te paai.

Die ASM erken dit is onmoontlik om ’n formulier op te stel vir die seën en kondonering van SGV. Hulle swak motivering plaas die kerk op dun ys om nog ’n hofsaak plus miljoene rande dankoffergeld te mors.

Net een eerbare opsie bly oor: Erken eerlik ons kan nie so ’n formulier opstel nie, want dit is in stryd met die Here se Woord. Dan staan ons met ’n skoon gewete op vaste grond, naamlik die gesag van die Woord en die bepalings van die Kerkorde.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui