Druk bou oor 2015-besluit, meen gemeente

Druk bou oor 2015-besluit, meen gemeente | Kerkbode

29 Mei 2019

’n Gemeente naby Secunda in Mpumalanga is besig om ’n “drukgroep” binne die kerkverband te vorm, om te probeer toesien dat die NG Kerk ophou “om selfdegeslagverhoudings goed te praat”.

“Ons weet van vier of vyf gemeentes wat sê hulle loop die pad saam met ons,” het Frans Kok Woensdagaand (29 Mei) aan Kerkbode gesê.

“Ons het ’n boodskap van liefde om uit te dra, maar ons definisie van liefde is baie anders as die wêreld s’n,” sê Kok, ’n ouderling by die NG gemeente Charl Cilliers.

Kok het verwys na ’n verklaring waaraan die gemeente volgens hom etlike weke gewerk het en waarin daar gesê word dat persone, kerke en ampsdraers wat die beoefening van homoseksualiteit as aanvaarbaar verklaar, “in liefde vermaan word dat hulle eendag hierdie optrede voor God sal moet verduidelik.”

Die gemeente “distansieer” hulself daarin van die besluit wat die NG Kerk se Algemene Sinode in 2015 rondom selfdegeslagverbintenisse gemaak het. (Sien die kassie onderaan hierdie berig vir die volledige 2015-besluit).

“Die kerkraad het in ’n kerkraadsvergadering op 14 Mei 2019 besluit om ’n gravamen ingevolge die bepalings van Reglement 19 van die Kerkorde in te dien ten einde die Algemene Sinode se besluit van 2015 ongeldig te laat verklaar,” luidens die verklaring wat Kerkbode hieronder ten volle publiseer.

Dr André Bartlett, moderator van die streeksinode waarbinne die gemeente val, is reeds in kennis gestel van die besluit. “Ek het op uitnodiging van die kerkraad op Donderdagaand 23 Mei ’n gesprek (met die kerkraad) gehad. Ek was op versoek van die dagbestuur van die Hoëveld-sinode vergesel deur dr Gys Loubser, een van die lede van ons Sinodale Dienskommissie (SDK). Die gesprek is ook bygewoon deur ds Henk Boshoff, die voorsitter van die ringskommisie van die Ring van Standerton, en ds Jurie Blom van die gemeente Bethal. Voor én na die gesprek met die kerkraad was ek verskeie kere in gesprek met die leraar, dr Bennie Marais,” het Bartlett gesê. “Dit was ’n openhartige gesprek waar ons die geleentheid gebruik het om respekvol na die standpunte van kerkraadslede te luister, en daarna verduidelik het dat dit ons gevoel is dat ons in ’n breë kerk waar ons oor verskeie sake van mekaar verskil, altyd weer moet leer om mekaar te akkommodeer.”

Bartlett het by navraag gesê hy meen die 2015-besluit, wat na ’n hoë-profiel-hofsaak vroeër vanjaar rondom hierdie kwessie die kerk se geldende besluit geword het, is ruim bewoord. “Die 2015-besluit maak uitdruklik daarvoor voorsiening dat gemeentes en kerkrade hulle eie standpunte oor die saak kan formuleer. Die ongeldigverklaring van die 2015-besluit is nie daarvoor nodig nie. Trouens die ongeldingverklaring van dié besluit gaan juis tot gevolg (hê) dat één standpunt op die hele NG Kerk afgedwing word – iets wat nie deur die 2015-besluit gedoen word nie,” aldus Bartlett.

Kok, wat namens sy gemeente as een van twee woordvoerders oor die saak aangewys is, meen egter die kerk “probeer lidmate behou” en “almal gelukkig hou” met hierdie benadering. “Ons wil ’n drukgroep vorm dat die saak nie by die Algemene Sinode (wat in Oktober vanjaar in Gauteng plaasvind) “verbygekyk” gaan word nie,” het Kok verduidelik.

Die verklaring gaan verder: “Die hoop word uitgespreek dat ander gemeentes wat ’n soortgelyke standpunt inneem ook hierdie proses sal gebruik om druk op die komende Algemene Sinode te plaas om die besluit van 2015 kerkordelik te herroep.” – Kerkbode-verslagspan.

Verklaring ten opsigte van hofuitspraak aangaande die homoseksualiteitskwessie in die NG Kerk.

Die leraar, kerkraad en gemeente van die gemeente Charl Cilliers, distrik Secunda, Mpumalanga het met skok en teleurstelling kennis geneem van die hofuitspraak aangaande die homoseksualiteitskwessie in die NG Kerk.

Ons distansieer ons van die 2015 besluit van die Algemene Sinode aangaande  selfdegeslagverhoudings en ook van die persone wat God en die Bybel in ’n wêreldse hof uitdaag om hulle homoseksuele optrede en lewenstyl te regverdig;

God is nog altyd en sal vir altyd eerste gestel word in navolging van die Bybel wat dien as ’n tydlose bron van wat reg is en wat verkeerd is;

Die Woord van God is duidelik dat die vergewing van alle sondes (waarvan homoseksualiteit slegs een is) nie moontlik is sonder ware berou en die belydenis van daardie sondes nie.  Dit vereis dan ook ’n doelbewuste poging tot weerhouding van hierdie sonde in die toekoms. Hierdie vereiste word deurgaans in die Ou en Nuwe Testament uitgespreek maar is veral duidelik in Romeine 10:10 en 1 Johannes 1:9;

Persone, kerke en ampsdraers wat die beoefening van homoseksualiteit as aanvaarbaar  verklaar word in liefde vermaan dat hulle eendag hierdie optrede voor God sal moet verduidelik.  Hulle loop die gevaar dat hulle deur hul optrede siele vir die koningkryk van God verlore kan laat gaan;

Uit die bestudering van die redes wat deur die geleerde Regter verskaf is, tesame met die feit dat appél nie deur die Algemene Sinode teen die besluit aangeteken is nie, blyk dit dat die NG Kerk, in besonder en alle kerke in die breë , in die steek gelaat is deurdat:

  1. Onvolledige pleitstukke ingedien is;
  2. Toegewings gemaak is wat die essensie van die debat / saak gekelder het;
  3. Daar toegestem is tot ’n substantiewe ondersoek wat die regte van die kerk in die algemeen kan benadeel; en
  4. Die Algemene Sinode nie die Kerkorde se prosedurele voorskrifte ken en / of toepas nie.

Die kerkraad het in ’n kerkraadsvergadering gehou op 14 Mei 2019 besluit om ’n gravamen ingevolge die bepalings van Reglement 19 van die Kerkorde in te dien ten einde die Algemene Sinode besluit van 2015 ongeldig te laat verklaar.

Die hoop word uitgespreek dat ander gemeentes wat ’n soortgelyke standpunt inneem ook hierdie proses sal gebruik om druk op die komende Algemene Sinode te plaas om die besluit van 2015 kerkordelik te herroep.

2015-BESLUIT OOR SELFDEGESLAGVERHOUDINGS

  1. Die Algemene Sinode herbevestig die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense.
  2. Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ’n verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.
  3. Die Algemene Sinode herbevestig die besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou word.
  4. Die Algemene Sinode besluit om in die lig van 1 hierbo erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou – en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.
  5. Dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) geld vir die legitimasie en ordening van alle persone. Punt 7 van die besluit van 2007 verval.
  6. Die Algemene Sinode erken die diversiteit van beskouinge oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël.
  7. Die Algemene Sinode bevestig die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ’n gees van Christelike liefde te doen.
  8. Die Algemene Sinode bied hierdie besluite oor selfdegeslagverhoudings aan met nederigheid na ’n ernstige soektog en as die beste toepassing van die boodskap van die Bybel soos ons dit tans verstaan. Die Algemene Sinode versoek lidmate, gemeentes en kerkvergaderings om weereens op ’n selfstandige soekproses na die toepassing van die boodskap van die boodskap van die Bybel hieroor te gaan. In die soektog kan studiestukke van die Algemene Sinode van 2007, 2011, 2013 en 2015 ernstig gelees word. In ooreenstemming met NGB Art 2 behoort die besondere en algemene openbaring gebruik te word, dws die beste huidige menswetenskaplike bevindings.
  9. Die Algemene Sinode besluit om ’n Christelik-Bybels-etiese model oor die seksualiteit vir alle mense te ontwikkel om gemeentes te begelei in die lig van voorafgaande besluite. Hierdie saak word ook verwys na die Taakspan vir Leerstellige en Aktuele Sake, wat reeds ’n soortgelyke opdrag in A.8.2 bl 172 punt 7.4 ontvang het.
  10. Die Algemene Sinode besluit om ’n bevatlike oorsig van die NG Kerk se reis met homoseksualiteit saam te stel en te versprei om gemeenteleiers te bemagtig in die begeleiding van gemeentes oor hierdie saak.

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui