NG Kerk gaan nie uitspraak oor gay-huwelike beveg

Kyk ook:

Ek bevraagteken die rede waarom die NG Kerk nie die hofuitspraak gaan appelleer nie, baie sterk. Die hoofrede is omdat hulle waarskynlik die hofsaak wou verloor. Die hofuitspraak pas hulle eintlik perfek. Hulle is immers progay (kyk Nelis Janse van Rensburg erken hy is progay en Gemeente ‘kies liefde bo vrees’ met aanstelling van gay leraar). En hulle is hoogs waarskynlik goeie vriende met die Gaums.

*************

NG Kerk gaan nie uitspraak oor gay-huwelike beveg | Netwerk24

Deur Malherbe Nienaber

19 Maart 2019 21:56

Die NG Kerk (NGK) gaan nie appelleer teen die hofbeslissing verlede maand dat hy gefouteer het toe daar in 2016 besluit is dat selfdegeslaghuwelike nie in dié Kerk voltrek mag word nie.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het Dinsdag gesê die Kerk het “van die begin af te kenne gegee dat hy die besware op ’n kerklike wyse wou hanteer en nie die hof as opsie oorweeg nie”.

“Daar is duidelike riglyne in die kerkorde oor remedies wat gebruik kan word om besware op kerklike wyse te hanteer. Die kerkorde is duidelik daaroor dat die kerk uit die hof moet bly.”

Volgens Claassen sou dit dus in stryd met die Kerk se aard wees om homself na die hof te wend en aansoek om appèl te doen.

“Die kerk is steeds onherroeplik verbind om met deernis en respek die saak van selfdegeslagverhoudings vorentoe op kerklike wyse te hanteer.”

Die NGK het in 2016 sy besluit oor huwelike van dieselfde geslag gewysig nadat hy die jaar tevore beslis het dat elke kerk self kan besluit of hy dié verhoudings wil erken, gay paartjies in die huwelik wil bevestig en gay predikante wil aanstel.

Nadat die hooggeregshof in Pretoria op 8 Maart beslis het dat die NGK gefouteer het met dié besluit, is die Kerk se vorige besluit van 2015 weer geldig.

Die hof het in sy uitspraak gesê die NGK het nie by sy eie reëls gehou met die besluit in 2016 nie en inbreuk op die regte van gay lidmate gemaak.

Die groep wat die saak na die hooggeregshof geneem het, sluit in dr. Frits Gaum, voormalige redakteur van Kerkbode, en sy seun Laurie Gaum.

Hulle het aangevoer die huwelik is ’n statutêre instelling en dat die NGK hom aan die Wet op Burgerlike Verbintenisse moet onderwerp ingevolge waarvan gay paartjies mag trou.

Die NGK het op sy beurt aangevoer die kerkbesluit skend nie gays se regte nie omdat hulle vry is om by enige kerk aan te sluit. Andersins kan gay mense ook hul eie kerk begin, het die kerk gesê.

Volgens die hof kon die NGK geen argumente bied oor hoekom sy besluit in 2016 in belang van die samelewing was nie.

Luidens die hofuitspraak het die 2016-besluit gay lidmate se reg op vryheid van geloof, gelykheid en privaatheid geskend.

*************

Kerksaak: Regsprosesse stop hier | Kerkbode

19 Maart 2019

Die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) het gister besluit om te berus by die uitspraak wat op 8 Maart 2019 in die hooggeregshof in Pretoria gemaak is.

Volgens dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het die ASM besluit om nie verder met regsprosesse voort te gaan óf die uitspraak oor selfdegeslagverhoudings teen te staan nie.

Soos vroeër deur Kerkbode berig, het die lede van die Algemene Taakspan Regte (ATR) ʼn voorstel voorberei.

Die ATR-voorstel is met die ASM gedeel en hulle het gister daaroor gestem.

Volgens Claassen het 48 lede van die ASM aan die elektroniese stemming, “wat aan al die vereistes vir ʼn wettige stemming voldoen het”, deelgeneem.

“ʼn Beduidende meerderheid” was ten gunste van ʼn voorstel om by die uitspraak te berus, sê Claassen.
“Die kerklike gesprek oor selfdegeslagverhoudings sal voortgesit word met respek en volle inagneming van die betekenis en implikasies van die hofuitspraak,” sê Claassen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui