Hofuitspraak laat my wakker skrik

Kyk ook:

Op 18 Junie 2019 het ek die volgende e-pos van iemand gekry oor die NG Kerk hofuitspraak oor selfdegeslagverhoudings. Hy bevestig wat ek in NG Kerk gaan nie uitspraak oor gay-huwelike beveg sê: dat die regspan wat die NG Kerk verteenwoordig het hoogs waarskynlik die saak wou verloor. In werklikheid was die hofsaak vir hulle ’n oorwinning.

Ek het hier en daar kommentaar ingevoeg in die brief.

***********

Hi Daniel

Eerstens. Baie dankie vir die webwerf [glodiebybel.co.za] en die inligting wat julle daarop het. In die huidige tyd is dit nogal verfrissend! Wat my die meeste pla is dat die kerk nie die inligting het nie…of nie wil gee nie.

Wat volg is maar net my onlangse storie van hoe ek wakker geword het.

Tweedens. Ek (as ’n NG Kerk lidmaat) het onlangs finaal wakker geword, toe ek en my vrou voor die TV sit en SABC Nuus rapporteer rondom die debakel van die hofuitspraak oor selfdegeslagverhoudings. My gevoelens oor die aanvanklike hofbeslissing was gemeng – ek was nie regtig verbaas nie, maar ’n rukkie later het die eintlike skok gekom toe ek verneem het dat die leiers besluit het om nie die saak verder te neem nie: Kerksaak: Regsprosesse stop hier

Ek was buite myself… Hoe kan die kerk stop? Op die uiters minimum, kan ons nie die saak oorlaat aan die sekulêre howe nie. En dis toe dat ek besef het: daar is ernstig fout met die huidige bestuur. Maak nie saak hoe ons daaroor verskil nie… die beslissing moet binne die kerk gebeur (ek is baie bekommerd oor die regering se inmenging). [Kommentaar: Jy is nie die enigste een nie. Kyk Hof sê gay-uitspraak is ‘geensins onduidelik’.]

En toe kom ek af op die artikel: ‘As jy hier ook waai, toyi-toyi ons’ en hier verwoord Dr Gert Duursema ook my gevoelens:

“Na my mening staan of val die kerk as kerk op hier­die punt. As ons nie die godsdiensvryheid het om self te besluit wat ons hoor die Here in sy Woord vir ons sê nie, het ons ons bestaansreg as kerk verloor. Vir my gaan dit by oorweging van ’n appèl nié om selfdegeslagverhoudinge nie, maar om die Sola Scriptura; die reg om na die Skrif alleen te luister, die reg om teen­oor die staat – en selfs teenoor die grond­wet te staan en te sê: ‘So spreek die Here …’

Dis toe ek Dr Gert Duursema google, dat ek op julle webwerf [glodiebybel.co.za] afkom.

En toe kom gemeente Charl Cilliers, distrik Secunda, Mpumalanga en sê:

“…die NG Kerk (het), in besonder en alle kerke in die breë, in die steek gelaat is deurdat: 1. Onvolledige pleitstukke ingedien is;”

Nee, sekerlik is ons bestuur nie so lamsakkig nie… Onvolledige pleitstukke?

Ek lees toe maar self die hofbeslissing deur en wraggies, telkemale sê die regters, geen feite of argumente aangebied nie (minstens 5 keer):

  • [64] … The Church has an onus to prove that the discrimination is fair, but put up no facts in the papers to discharge this onus.
  • [69] Gaum is correct that in the opposition to the application the Church has set out no facts as to why the discrimination is fair. This of course defeats the purpose of opposition, especially in view of the presumption of unfairness. Facts setting out why the discrimination is fair must be set out in the opposition, not for the first time in the heads of argument. Gaum obviously contended that due to this vacuum in the opposition, the gauntlet has run and the court must accept that the 2016 decision did unfairly discriminate.
  • [81] … The Church presented no argument or facts setting out that the overall impact does further the constitutional goal of equality or that in this context the exclusion is fair.
  • [82] … without any facts set out in the Church’s opposition as to why in terms of the factors listed the discrimination is fair, then the Church has not proven that the discrimination is fair.
  • [92] In the opposition no facts were set out justifying the decision in terms of section 36 of the Church. In argument for the Church it was submitted that justification does not come into play.

En toe word ek mooi wakker… Sola Scriptura is ’n bewegende beginsel – altans vir die NG Kerk. Ek wonder wat Luther en Calvyn sou sê oor die gepekel. En op ’n manier, het ons die wolwe in die skaapkraal toegelaat – het die kerk met opset die saak verloor of was dit net swak voorbereiding? [Kommentaar: Dit is reg. Dit kan net een van hierdie twee opsies wees. Ongeag watter opsie dit is, dit is ’n skreiende skande.]

Om eerlik te wees, ek lees dit kom al ’n rukkie aan (van julle webwerf, spesifiek die “trojaanse perd“), en ek het nie geweet nie. Ek het gevoel iets is nie heeltemal reg nie, maar ek kon nooit indink dat dit so erg is nie. Daaroor skaam ek my.

Maar ons kerk (spesifiek ons gemeente) gaan maar aan asof niks gebeur het nie, miskien omdat die uitvoering van sake van dag tot dag nie eintlik daardeur geraak word nie.

En toe ek nou wakker is, wel, toe is die koffie koud. Ek voel afgesny van die kerk. Die belofte wat ek voor in die kerk gemaak het… Dit is nie meer dieselfde kerk nie.

Groete

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui