Twis laat NG Kerk op wankelende bene stotter

Kyk ook Piet Strauss se brief Drukgroep se styl pas nie by NGK se werkwyse (18 Okt 2019).

*********

Twis laat NG Kerk op wankelende bene stotter | Netwerk24

Deur Daan Nortier, Bloemfontein

17 Oktober 2019

Die resultaat van die twisgesprek in die NG Kerk (NGK) oor Bybelse waarheid grens aan ’n volkstragedie. Stellig die Afrikanervolk se grootste hartskerk stotter op wankelende bene.

Dis om van te ween, want dis nie gister se kerk dié nie. Die eerste gemeente is 426 jaar gelede in Kaapstad gestig.

Lidmate verlaat die kerk om verskeie redes, maar veral één het die kerk in die hart getref. Die doeltreffend postmoderne offensief op “Bybelse waarheid” deur die sg. LGBTI-faksie vanuit onverdunde humanisme het die kerk (dalk noodlottig?) verwond. Dié aanslag moet in perspektief beoordeel word. Wie die aanslag gelei het, is oorbekend. Hulle het hulself pronkerig in spesiale T-hemde in die sinode uitgestal; professoraat et al.

In die groter verband van die Liggaam van Christus, die kerk in veelvoud, was dié aanslag weinig meer as ’n randeier-diskoers in ’n kleiner kerk. Verreweg die grootste deel van dié liggaam leef in ons swart gemeenskappe. Hulle mors nie asem op dié soort twisgesprekke nie. Van dié kerke groei soos boontjie­ranke. Hulle fokus op die Stigter van die kerk se opdrag in Matt. 28:19: “Gaan dan heen, maak dissipels van alle nasies.”

In kontras stoei die NGK verbete. Wie het die enigste waarheid beet? Die Bybel of die Grondwet? Die kerk is onverkwiklik deur ’n duur hofsaak gesleep. Dit het glo in die omgewing van R3 miljoen gekos. Watter geld moet daarvoor betaal? Hoe hartseer dat soveel van getroue lidmate se kollektegeld stellig daarvoor in die slag sal bly. Dit is dikwels ’n geldjie wat ’n weduwee of bejaarde moet afknyp as ’n dankbare, enigste offer.

Die sg. “liefde” word in hope opgeskep. Dit loop soos goue stroop oor koerantblaaie. Liefde vir God en Sy woord of vir die selfsinnige eie-ek? Hoeveel liefde onderlê die resultaat wat nou die Afrikanerhart getref het? Wat is die kwaliteit van liefde wat eerder verdeel as saamsnoer?

Alles in en oor die gesprek speel af teen Jesus se laaste gebed vóór die geweld en smaad van die kruis. Hy het in sy baie intieme gesprek met sy Vader met herhaling gevra: “Vader, ek bid dat hulle één sal wees. Één soos U en ek.” Wat is daarvan oor?

(Volksblad het verskeie briewe teen en ten gunste van die NG Kerk se besluit oor gays ontvang. – Briewered.)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui