Dominees weet nie meer wat is reg en verkeerd

Kyk ook:

Die volgende brief het in gedrukte Kerkbode verskyn.

************

Dominees weet nie meer wat is reg en verkeerd

2010/12/03

Marius Joubert van Robertson

Eenvoudige dominees soos ek skryf nie aan Kerkbode nie en praat ook nie op sinodes nie. Om die doodeenvoudige rede dat jy nie die Skrif aanhaal of die spesifieke betekenis wat dit in jou omstandighede wil sê nie, want jy gaan teologies uitmekaar getrek word vir jou Skrifuitleg.

Dit is nie wat die Woord daar beteken of wat die presiese betekenis van die spesifieke perikoop wil sê nie. Die feite is egter dat daar ’n groot aantal dominees soos ek is wat saam nie meer weet wat reg en verkeerd is nie. Dominees wat mense in die kerk moet bedien wat so radikaal verskil ten opsigte van spiritualiteit en sienswyse van wat die kerk behoort te wees en is. Ek is al 28 jaar lank ’n NG predikant en lief vir die mense van die NG Kerk. Ek worstel saam met baie mense en dominees met “issues” wat die kerk nie wil verstaan nie.

Ek het soos baie ander ontnugtering ervaar met die kerk wat nie in staat is om ’n verskil te maak in mense se lewe nie, terwyl jy wonder waarom mense soos Angus Buchan baie meer “suksesvol” is as die kerk. Maar die kerk vind baie redes om hom ook uitmekaar te trek oor onder meer sy teologie. Daar is ’n spreekwoord wat lui: “You can have all the paper qualifications to be a clown, but unless you can make people laugh, you are not qualified.”

Ek is bevrees daar is baie van ons dominees en kritici wat nie in staat is om ’n verandering in ons omgewing te bring nie. Hulle mag bekende name in die media wees en baie boeke geskryf het, maar hoeveel mense sal eendag voor die poorte iewers God dank vir jou insette van geloof in sy lewe.

Ons het al die teologiese kwalifikasies, maar ons is nie regtig effektief nie. En as die Moreletas ’n verskil maak, dan word hulle doodeenvoudig gebrandmerk as fundamentaliste. Natuurlik is daar aan enige vis grate, maar jy hoef dit nie te eet nie. Die fundamentaliste het hulle foute, maar hulle hart is immers ingestel om ’n verskil te maak wat sigbaar is in mense se lewe.

Mense wíl in die NG Kerk bly, miskien is ek naïef om dit te glo. Kom ons los die randsake en begin om terug te keer na die basiese Evangelie van God wat omgee en selfs die korrektheid van die Wet gekanselleer het, omdat ménse vir Hom so belangrik is.

Die NG Kerk beskik (ek weet ek veralgemeen – want dit is nie oral so nie) nie meer oor die vermoë om die tye te lees en buite die boks te kan dink en funksioneer nie. Ons teologiese suiwerheid is fantasties en ek weet ons moet so wees. Dwaalleer is allermins aan te beveel en net so gevaarlik. Maar as die Titanic sink, speel die orkes hulle ongelooflike, mooi, geestelike musiek terwyl niemand meer luister nie, want dalk mis mense die reddingsboot! Ek wonder net of ons nie moet ophou musiek maak en probeer om mense in reddingsbote te kry nie! Die NG Kerk is besig om stadig te sink, en ons speel rustig ons korrekte, ongelooflike, mooi musiek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui