Jean Oosthuizen oor Die Trojaanse Perd in die NGK

Hier volg Jean Oosthuizen, hoof joernalis van Die Kerkbode, se reaksie op die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk op sy webwerf, Kletskerk.co.za, onder die opskrif “Daar galop glo ’n Trojaanse perdjie in die NG Kerk rond”. Dit is uiters sarkasties en pas nie by ’n kerkkoerant se joernalis nie.

Let ook op wat Jean se slagspreuk is: “Jesus is like Elvis…A very Nice guy but His fan club freaks me out.” – Gareth Cliff
As Jesus slegs ’n “nice guy” is en Jean hom nie vereenselwig met medegelowiges nie, wonder ’n mens of hy glo dat Jesus die seun van God is…

“Wanneer mense in teologiese debatte sarkasties en venynig raak is dit duidelik dat jy op baie gevoelige tone getrap het.”

Gekopieër vanaf:

http://www.kletskerk.co.za/viewtopic.php?f=1&t=11726

Wed Nov 17, 2010 4:26 pm

’n Groepie godsdienstig-ver-regse fundamentaliste in die NG Kerk het ʼn boekie saamgeflans waarin hulle nou die NG Kerk op sy herrie wil gee. Hulle meen daar is ʼn Trojaanse perd in die NG Kerk.

Ten minste twee van die bydraers is ou bekende voormalige deelnemers aan Kletskerk. Hulle is Henrietta Klaasing en Gideon Aggenbag, ʼn afgetrede NG dominee. Albei van hulle het aan die spits gestaan van ʼn mislukte veldtog wat verlede jaar begin is om Kletskerk en sy deelnemers by soveel as moontlik mense in diskrediet te bring en swart te se smeer. Hulle het destyds gebruik gemaak van die e-pos metode om hulle veldtog te voer en mense verdag te maak. Die e-posse is regdeur die land aan ringe en sinodes gestuur.

Die slag het hulle hul mes in vir feitlik die hele NG Kerk.

Nog ’n bydraer is die alombekende kreasionis Hennie (Sesdag) Mouton. Hy glo vas Adam en Eva was historiese figure wat 6 000 jaar gelede in ’n ommesientjie as volwasse mense uit modder ontstaan het en geselsies in een of ander tuin aangeknoop het met ’n pratende slang. Dis nie duidelik of die slang Aramees of Hebreeus gepraat het nie.

Die titel van die boekie is die Trojaanse perd in die NG Kerk en die subtitel is die Kanker van Evolusie en Liberalisme. Die boekie is opsigself ’n perd van ’n ander kleur. Dit lyk nie of enige uitgewer kans gesien het om dit uit te gee of sy naam daaraan te koppel nie. Byna soos daai sektariese traktaatjies wat die Jehovas so vrygewig uitdeel as hulle Sondae aan jou deur kom klop. Dit sal glo vroeg in Desember op die rakke verskyn maar nêrens word melding gemaak van ʼn uitgewer of ISBN nommer nie. Dit moet privaat bestel word. Lyk my selfs CUM wil nie met ʼn tang daaraan vat nie.

Die perdeboekie is op bestelling teen R80 elk plus posgeld beskikbaar. Maar as jy vir almal onder die Kersboom een wil los en jy bestel agt van hulle en meer, kry jy dit vir R60 stuk plus versendingskoste.

Dit beloof werklik om vermaaklike leesstof te wees vir almal wat belangstel in Middeleeuse denke. Evolusie, wat gesien word as die vrot appel in die NG Kerk se kis, kry “uitgebreide” aandag, omdat die “omhelsing van evolusionisme verwoestende en verreikende gevolge het op sake wat deel is van die gereformeerde belydenis”.

In wat genoem word ’n voëlvlug oor die hoofstukke van die boek word daar onder meer gesê: Die hoofstuk oor die huwelik en saambly toon aan wat met ’n sogenaamde minder veroordelende verklaring ten opsigte van saambly beoog word, naamlik om vir die soveelste keer akkommoderend te wees. “Ons kan nie die Woord van God verander om by die kultuur van die dag of om by mense se sienings en filosofieë te pas nie. In Sy Woord is dit duidelik dat seks buite die huwelik deur God verbied word,” word gesê.

Enkele gedagtes word uitgespreek oor die Evangeliese Inisiatief (EI). Alhoewel daar waardering is vir die getuienis wat die EI uitdra ten opsigte van wat die “waarheid” is, is die vraag in die boekie: Doen die EI genoeg om ’n omkeer te bewerkstellig?

Die agste hoofstuk toon aan presies “hóé ongelyk” die speelveld tussen liberales en behoudendes al geword het. Met behoudendes word eintlik bedoel die ver-regse fundamentaliste of soos wat ons hulle hier op Kletskerk leer ken het as die Bybelboelies.

Die media werk glo op vele terreine aktief mee om postmodernistiese liberalisme in die kerk in te voer. En hier kan julle maar by voorbaat weet sal die uwe en Kletskerk se “sondes” seker nie gespaar bly nie.

Die skrywers is:

  • Dr. Henrietta Klaasing (Skrywer en boeksamesteller)
  • Dr. Hennie Mouton (Skrywer en boeksamesteller)
  • Ds. Gideon Aggenbag (Skrywer)
  • Daniel Louw (Skrywer)
  • Ds. Jan Louw (Skrywer)
  • Ds. Hanan Viljoen (Skrywer)
  • Dr. Koos Visser (Skrywer)

Bydraers:

  • Anna Louw
  • James Maré
  • Pieter Pelser
  • Dr. Kobus Stapelberg
  • Sarel van der Merwe
  • Ellison Mouton

Die voorblad herinner aan daai outydse gogga-maak-vir-baba-bang boekies waarmee stout kinders bangemaak is met die duiwel wanneer hulle stout is. Moenie glo nie, vrees net!!

_________________
“Jesus is like Elvis…A very Nice guy but His fan club freaks me out.” – Gareth Cliff

Wed Nov 17, 2010 9:46 pm

Asclepios wrote:

Beste Baasjean,

Die styl en groepering laat my snuf in die neus kry van geheime organisasies soos die AB van ouds. Iewers moes die klompie saamgebroei het en mekaar opgesteek het.

Wie is die hoofman wat die boekie gedryf het..?

Ben die hoofvrou van projek Trojaanse perd is skynbaar antie Henrietta Klaagster met Hennie Sedag Mouton as haar adjudant. Vandat die antie ook afgetree het, het sy mos baie tyd ophande om kwaad te stook. Ek neem aan die bejaarde ou oom Gideon wat eers in sy laat middeljare tot die bedieng geroep is en nou by die APK die wit waks uit almal preek het hulle ook gehelp.

Ek hoop net nie die ou oom is so veroordelend en agteraf in daai boekie soos wat hy was in die smerige e-possies wat hy agter my rug vir dominees die wêreld vol gestuur het nie. Ou oom Aggenbag het seker nie gedink sy sluwe gekonkel sal toe ook op my lessenaar land nie. Sies, iemand wat homself op die waarheid beroep en vir ander preek terwyl hyself agter die deur staan is darem ’n lelike ding hoor. Dis veel erger as ’n Trojaanse perd. Miskien moet ek van daai briefies hier pos. Dis mos in elk geval die wêreld vol gestuur.

_________________
“Jesus is like Elvis…A very Nice guy but His fan club freaks me out.” – Gareth Cliff

Thu Dec 02, 2010 8:03 pm

Jammer om julle teleur te stel maar selfs ek het beter verwag. Ek het toe die “voorreg” gehad om die groepie aartsverkrampte dwepers se smerige boekie onder oë te kry. Wel, nou nie die ware Jakob nie (want ek mors nie geld op twak nie) maar ’n elektroniese weergawe daarvan.

Daar is hoegenaamd niks nuut in die ou boekie nie. Dieselfde vroom gesanik wat die ou spul Bybelboelies hier en elders ook maar kwytgeraak het. Almal is verkeerd behalwe hulle. Diegene wat nie soos hulle dink nie dwaal en net hulle weet wat is reg en verkeerd.

O alles is tog swaarmoedig geskyf en alles is sonde, sonde, sonde…

Daar is net een ding in die boekie waarop ek trots kan wees. Dit is dat daar so negatief na my verwys word al is dit dan nou ook propvol blatante leuens, halwe waarhede en verdraaiings. Ek sou my morsdood skaam as hulle iets goed van my sou sê. Ek wil op geen manier aan dieselfde kant staan as daardie klompie witgeplesisterde grafte nie.

Maar gelukkig is hulle en hul vroom veroordelende manier van glo vinnig besig om uit te sterf. Ek dink nie die smerige ou boekie sal énige impak hê op die breër geloofsdebat nie. Dit is maar net ’n laaste paar desperate skoppe teen die prikkels. Dit is tog wel goed dat dit verskyn. Hopelik kan dit meer mense tot die besef bring hoe gevaarlik dit kan wees as sulke mense die oorhand sou kry oor mense se denke. Dit verdom nie net ’n samelewing nie. Dit is ’n yslike verleentheid vir al wat denkende gelowige is.

Selfs die stukkie wat oor die uwe en oor Kletskerk geskryf word is so vol bog dat niemand wat meer as twee breinselle het dit ernstig sal opneem nie.

_________________

“Jesus is like Elvis…A very Nice guy but His fan club freaks me out.” – Gareth Cliff

Thu Dec 02, 2010 8:31 pm

Kraai2010 wrote:

Jean, ek verskil effe van jou siening.

Dis juis die massas wat die breinselle kort wat alles in die boekie vir soetkoek gaan opeet. Ons weet mos nou al teen die tyd watter invloed hierdie massas het, veral met gebedsgroepies en verbannings/boikot smsé en sulke dinge.

Ek wil eerder voorstel dat, indien daar in hierdie ou boekie swart op wit leuens oor jou staan, jy eerder die skrywers en uitgewers daarvan so bietjie moet warm met regsoptredes en eise. Regtigwaar, ek is ernstig, en jy en KK gaan myle se beter publisiteit daaruit kry, plus geld. ( Ek vra net 10% van die eis vir hierdie stukkie advies)

Ag nee wat Kraai. Ek ken daai soort boekies en traktaatjies al goed genoeg. Dis nie die tipe goed wat juis by die “massas” afgaan nie. Dit is veels te hoogdrawend daarvoor. En waarvoor sal ek my moeg maak om hulle traktaatjie enige geloofwaardigheid te gee deur hulle met regsoptredes te dreig? Dit is presies wat hulle graag sal wil hê om martelaarstatus te probeer kry. Dit wat daarin staan is werklik nie iets wat ’n herlewing soos wat hulle hoop gaan veroorsaak nie. Daar het al talle sulke geskriffies die lig gesien. Hierdie is een van die swakker pogings.

Wat wel opvallend is, is dat die grafika wat hulle gebruik om die traktaatjie te adverteer merkwaardig ooreenstem met grafika wat gerbuik is in die smeerveldtog oor Kerkbode en Pomp. Selfde ou storietjies, selfde ou bende.

_________________
“Jesus is like Elvis…A very Nice guy but His fan club freaks me out.” – Gareth Cliff

Sun Dec 05, 2010 6:25 pm

Ek sien Lizatjie met haar duisend en een internetpersoonlikhede tannie Henrietta Klaagster wat op haar oudag glo spog met ’n graad in die teologie nogal en die nimlike Hennie Sesdag Mouton van slangepraatfaam lees darem nog Kletskerk. Ag dis mooi. Goed om te sien hulle kan maar nie wegkom van die goddelose plek af nie. Wat sou die wêreld tog doen sonder sulke getroue wagters op Sionsmure? Ek wonder of ou oom Aggies ook nog so getrou hier rondsnuffel. Seker maar. Wat ek nie van Hennie Sesdag en sy bende Bybelboelies verstaan nie is dat hulle aanhou om Kletskerk te adverteer. Hennie Sesdag raai selfs mense HIER aan om op Kletskerk te kom kyk wat ek oor hulle boekie skryf. Raar maar waar. Hulle vra dat Kletskerk se skakel van die NG Kerk se forums verwyder word en nou adverteer hulle dit self daar. Slaan my met ’n papnat snoek!

_________________
“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.” – Mattt:23:15

Sun Dec 05, 2010 9:54 pm

Kraai2010 wrote:

Annette wrote:
Hoekom kan die boek nie by BoekBlik verkoop word nie?

Annette

Elke regte boek het ’n ISBN nommer, wat hierdie boek blykbaar nognie het nie, daarom kan hy in geen boekwinkel verkoop word nie, totdat hy ’n gerigestreerde ISBN nommer gekry het.

Blykbaar het die boekie ’n ISBN nommer. Lyk my daar was nie ’n uitgewer wat die geskriffie wou uitgee nie. Nou smous hulle die twakkies wat hulle kwytraak sommer so self.

_________________
“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.” – Mattt:23:15

Tue Dec 07, 2010 9:35 pm

Hierdie een hoort eintlik op die draad vir ligte luim maar aangesien dit op my Voortrekkerwoord uit die Trojaanse perdeboekie kom pos ek dit hier.

Dalk kan die boekie nog ’n treffer word met al sy weird stukkies. Komediante soos Pieter Dirk Uys kan maar net daaruit voorlees om die gehore te laat skater.

In die laaste hoofstuk word voorstelle gemaak van vrae wat aan predikante gevra behoort te word wanneer hulle aansoek doen vir ’n pos.

Hier is een van die vrae. I kid you not!

Trojaanse-perdedrolle-vir-vye-te-koop wrote:
BYLAAG D: Voorgestelde vrae wanneer ’n predikant beroep word

Glo jy dat Genesis 1 – 11 letterlik waar is: dat God in ses 24-uur dae geskep het, 4004 vC. en dat daar ’n wêreldwye vloed was wat almal op aarde uitgewis het behalwe die mense en diere op Noag se ark? As die antwoord hierop “ja” is, dan is die kans werklik baie goed dat so ’n persoon se gesindheid oor die res van die Bybel reg is.

_________________
“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.” – Mattt:23:15

Tue Dec 07, 2010 11:24 pm

Barend wrote:
Dit is nogal vir my aandoenlik om die goeie verhouding wat jy en die mense het te sien. Ek meen julle verskil radikaal van mening, maar jy adverteer gereeld hulle boekie op Kletskerk… en hulle raai weer lesers aan om ook eers jou mening oor die boekie te lees, voordat hulle dit koop (jy is een van daai liberales na wie se menings die link verwys). As almal in die kerk nou so mense aanmoedig om “die ander kant” se standpunte ook te lees, sal die lidmate mos baie goed ingelig word Groete
Barend

Dankie Barend ek het geweet jy sou my medemenslikheid teenoor die Perdeboekie se mense verstaan. As ek nie hulle boekie adverteer nie, wie sal? Ek moet sê ons vorder mooi. Net die anderdag was daar perde omdat die NG Kerk se webwerwe skakels na Kletskerk toe gehad het. Nou sit die Perdeboekie se mense sommer self die skakels na Kletskerk op hulle eie webwerf. Is dit nie wonderlik nie. Hulle is die kerk nou een voor. En ek sien Kletskerk word selfs aangegee as een van die bronne in die Perdeboekie se bronnelys.

Ek is bly daaroor want nou kan mense self kom lees hoe daardie afgetrede dooms en anties en sesdaggers perdedrolle vir vye aan goedgelowige mense wil verkoop.

Dan sien ek ook hulle is diep beswaard (soos oor alles) oor my signiture wat ’n aanhaling is van Gareth Cliff: “Jesus is like Elvis…A very Nice guy but His fan club freaks me out.”

Ongelukkig moet ek bieg dat Jesus vir my inderdaad in daardie opsig soos Elvis was. Baie van sy ondersteuners freak my uit.

Maar ter wille van ons goeie verhoudinge het ek my signiture vir eers aangepas met ’n teks uit die Bybel. Ek wil darem nie my vriende aan die anderkant te kwaad maak nie.

_________________
“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.” – Mattt:23:15

Wed Dec 08, 2010 9:39 am

terloops wrote:

Izak du Plessis wrote:
Jy kan die boekie hier verniet te lese kry.

http://dl.dropbox.com/u/7447561/shared/Trojaanse%20perd.pdf

Ek hoop eerlikwaar nie dat dit die finale manuskrip is wat gebruik is om die boek te laat druk nie, want die bladuitleg en tipografiese versorging laat veel te wense oor. Maar ek sal hulle die voordeel van die twyfel gee en hoop die boek lyk nie soos die dokument nie.

Ek hoop eerlikwaar ook nie so nie. Lyk my daar het een of ander bose gees of demoon in die PDF ingevaar. Die hoofstuk (Hoofstuk 4) oor homoseksualiteit is behoorlik van die duiwel besete want dit word oor en oor herhaal. Of miskien hou van die perdemanne soveel van die manneding dat hulle dit weer en weer wil lees. Dalk sit ons nog met ons eie Ted Haggard in ons midde. Dit sal my nie verbaas nie. Ek het alhoeka hond se gedagte dat party van hulle net TE veel protesteer teen gaywees.

Wed Dec 08, 2010 5:39 pm

Hennie Sesdag Mouton het my ernstig laat weet die skakel na hulle perdeboekie wat nou wyd en syd op die internet beskikbaar is, is ’n “onwettige kopie van ’n ou weergawe” van die boekie.

Dit is nie duidelik hoe die nuwe weergawe van die oue verskil nie. Dalk het die pratende slang nou ook benewens Aramees en Hebreeus ook Hooghollands aangeleer. Of dalk bulk Bileam se donkie in die nuwe weergawe nou ook in ’n 1933 Afrikaans.

Hoe dit ook al sy, die ware Jakob is volgens Mouton ’n perd van ’n ander kleur. Ek neem aan hy is darem steeds Trojaans.

Hennie Sesdag Mouton wrote:
Jean Oosthuizen, ek versoek jou hiermee ernstig om die verwysing na ’n onwettige werkskopie van ’n foutiewe ou weergawe van die boek “Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme” van jou kletskerk te verwyder. Afgesien daarvan dat dit gebaseer is op ’n onvolledige, uiters voorlopige, en moontlik verdraaide weergawe, is dit ’n onwettige kopie want geen e-weergawe is ooit vir verspreiding beskikbaar gestel nie. Hennie Mouton

Wed Dec 08, 2010 8:13 pm

Kraai2010 wrote:
Hennie kan jou nie dwing om die skakel te verwyder nie, want dit is nie kk se skakel wat veroorsaak het dat die pdf op die net beskikbaar is nie. Hy sal die eienaars van dropbox moet aanspreek, en dan sal hy die verraaier in sy midde moet loop soek wat die file aan dropboxLeaks beskikbaar gestel het.

Jong ek hoop nie daai Judas is ou oom Aggie Aggenbag of tant Hetta Klaagster nie want dan is daar mos ’n Trojaanse perd van epidermiese proporsies in boeta Sesdag se stal.

Thu Dec 16, 2010

Ek het toe die harde kopie van die Trojaanse houtperdjie onder oë gehad. Die ware Jakob verskil nie veel van die internet-weergawe wat die hele wêreld vol swerf nie. Behalwe dat dit nog meer leuens en halwe waarhede bevat as die elektroniese proefweergawe. Op papier kom die boekie selfs nog smeriger voor as die indruk wat dit op die internet skep.

Daar is ʼn paar interessante goed wat mens opval in die gedrukte boekie. Een van die eerste dinge wat opval is dat die voorwoord toe nie deur prof Dolf Britz geskryf is soos wat in die elektroniese weergawes voorspel is nie. Mens wonder waarom nie. Het prof Britz wat so kwistig aangehaal word in die boekie dalk self koue voete gekry om die voorwoord te skryf? Die groepie ver regse fundamentaliste wat die smeerboekie geskryf het, het toe maar hulle eie voorwoord geskryf, die boekie self gepubliseer (geen uitgewer wou seker daaraan raak nie) en smous nou ook die boekie self van deur tot deur, oor die pos en by ʼn paar klein boekwinkeltjies.

Ek dink nie dit sal ʼn blitsverkoper word nie. Ek glo ook nie dit sal die vonk wees om die “groot herlewing” teweeg te bring waarop die skrywers hoop nie. Dit is geskryf in ʼn uiters langdradige prekerige outydse Afrikaans wat herinner aan die vervelige preke van party outydse dominees wat mens altyd aan die slaap gepreek het en waarvan mens niks onthou nie.

Boonop is dit propvol foute. Daar word byvoorbeeld deurgaans na Kerkbode se vorige redakteur verwys as dr Anton Pienaar in plaas van dominee Pienaar. Waar daar verwys word na dr Henk Gous se kommentaar op die evolusiegesprek by Tukkies se kweekskool word dr Gous se van reg gespel in die aanhaling uit Kerkbode maar verder spel die skrywers deurgaans sy van verkeerd. Die uitleg is om die minste te sê amateuragtig. Mens kan duidelik sien dit is tuis saamgeflans deur ʼn groepie amateurs sonder enige verbeelding.

Inhoudelik wemel die boekie van blatante leuens, halwe waarhede, versinsels en doodgewone kwaadwilligheid. Dit skrei ten hemele dat die skrywers en samestellers daarvan hulle beroep op die waarheid. Die een liegstorie of verdraaiing na die ander word in die naam van God aan die lesers as die evangelie opgedis. Hulle skep hulle eie God en almal wat nie saam met hulle wil glo aan die knorpotgodjie wat hulle self geskep het nie word summier hel toe gestuur. Alles natuurlik in vrome liefde want vromer as ’n groepie skynheiliges soos die kry jy nie sommer nie.

Daar was darem nog hier en daar ’n aanpassing in die gedrukte kopie. In plaas daarvan om te sê die aarde is 4004 vC geskape word in die gedrukte kopie beweer die aarde is “ongeveer” 4000 vC geskape.

Die humor het gelukkig behoue gebly. Al beskou die skrywers dit seker nie as humor nie bly dit baie snaaks. Daar word steeds verkondig dat die slang in die paradys letterlik gepraat het en so ook ou Bileam se donkie. Maar hulle sê steeds nie vir ons of die slang of die donkie Hebreeus of Aramees gepraat het nie. God het steeds die aarde in ses dae van 24 uur elk geskape, Noag en al sy diertjies was sowaar as vet regtig in die ark en Jona vir drie dae lank pens en pootjies in die vis se maag voordat die hom uitgespoeg het. Ek glo vas die boekie se grootse deug lê in sy vermaaklikheidswaarde. Lees dit hardop aan ʼn gehoor voor as jy wil hê hulle moet lekker lag. Toe ek dele daarvan gister vir ʼn paar mense voorlees dink hulle eers ek probeer snaaks wees en skeer die gek. Mens moet dus nie net negatief wees teenoor die boekie nie. Dit het beslis ’n vermaaklikheidswaarde ook.

Wat verstommend is, is die gretigheid waarmee die skrywers Kletskerk lees en fynkam op soek van vloekwoorde. So vertel hulle byvoorbeeld hoeveel keer mens die woord kak sal raakloop op Kletskerk as jy daardie gewraakte ou drieletterwoordjie gaan google. Ja, hulle het sowaar gaan google hoeveel staan daar kak op KK. Die antwoord op die tergende vraag sal jy ook in die Trojaanse perdeboekie vind. Ek sien egter niks daarin van hoeveel keer die woord drek in die Bybel voorkom nie. Dalk ken die skrywers nie die verskil nie vandaar al die drek wat hulle kwytraak.

Die verwysings na Kletskerk is ook heelwat meer uitgebrei in die gedrukte boekie as in die een op die internet. Maar dit is steeds net so buite konteks soos altyd. Mens kan maar net dink hoe buite konteks hulle uit die Bybel aanhaal as hulle dele uit Kletskerk so uit konteks aanhaal. So word daar onder meer verwys na goed wat ek sou geskryf het wat nie eers ek was nie. Die aanhalings uit Kletskerk is ʼn poespas van sinne en woorde wat geen samehangende sin maak nie.

Wat wel goed is, is dat die denke van hierdie groepie verdagmakers nou in een bundeltjie saamgevat is sodat almal met een oogopslag kan sien hoe agter die klip hulle regtig is. Hoe gouer hierdie Bybelaanbidders en hulle verwronge teologiese uitsprake uitsterf hoe beter plek sal die wêreld wees. Die slotsom waartoe mens kom as jy so deur die boekie blaai is dat dit die produk is van spul agter die klip godsdiensfossiele vir wie alles onder die son sonde is. ’n Spul suurpruime wie se enigste vermaak daarin geleë is om diegene wat nie soos hulle glo en dink nie verdag te maak en hel toe te stuur. Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.

[Kommentaar: Dit gebeur gereeld dat mense die man speel en nie die bal nie, en hierdie is weer ’n sprekende voorbeeld daarvan. Jean noem twee keer hoeveel leuens die “boekie” bevat en gebruik pragtig beskrywende woorde daarvoor: “…blatante leuens, halwe waarhede, versinsels en doodgewone kwaadwilligheid“. ’n Mens het gehoop dat hy darem ten minste net een van daardie onwaarhede sou noem. Is dit dalk omdat daardie leuens nie werklik bestaan nie?
Jean sê: “Waar daar verwys word na dr Henk Gous se kommentaar op die evolusiegesprek by Tukkies se kweekskool word dr Gous se van reg gespel in die aanhaling uit Kerkbode maar verder spel die skrywers deurgaans sy van verkeerd.
Hierdie is ’n baie misleidende stelling: Ons het jou wrintie ’n fout gemaak deur “Gouws” te spel, maar beide die woorde “Gous” en “Gouws” kom slegs een keer in die boek voor, dus is sy woorde “…spel die skrywers deurgaans sy van verkeerd.“, misleidend.
Ook het ons lyk my ’n fout gemaak met dr. Anton Pienaar ipv “ds.”, maar ons is nie die enigstes nie: Kyk bv http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Sportlui-dink-twee-keer-oor-geloofpraatjies-20091121 en http://getuienisforum.org.za/page/3?p=ppxfnfjvzl.
Ons sal die twee foute met die tweede opgawe van die boek regmaak :-).
Is dit die enigste foute wat Jean kan kry in die “boekie”?]

Tue Jan 04, 2011 1:07 pm

In die jongste Juig (beter bekend as Suig vanweë al die leuens wat uit hulle duim gesuig word) veskyn daar nou ’n artikel oor die perdeboekie. Jy hoef ook nie jou geld op Suig te mors nie en kan dit sommer HIER lees.

Angesien hulle weer in die artikel gratis reklame aan Kletskerk verleen doen ek maar dieselfde hier. Vir die wat nie weet nie, Suig is daardie godsdienstig ver regse fundamentalistiese blaadjie wat so lieg-lieg op die waarheid roem maar nie bereid is dat hulle eie sirkulasiesyfers onafhanklik deur die ABC sirkulasieburo ge-oudit word nie.

Uit vrees vir nog ’n galaanval laat ek dit maar voorlopig aan lesers self oor om die inhoud daarvan te beoordeel.

Ek sien darem die skryf van die boekie was vir een van die skrywers, Daniel Louw “vet pret”. Ek moet bieg die slag moet ek met hom saamstem. Die boekie is nogal plek-plek prettig.

Daniel Louw wrote:
Ons het nogal interessante tye met die boek wat ons nou verkoop: mense wat ons hof toe wil sleep, kletskerkers wat ons afkraak en dan het die boek nog gelek ook – dit was vir ’n ruk op die internet beskikbaar en toe moes ons net gate toestop. Vet pret 🙂

*****

Om ook die kommentaar van sy kletskerkmakkers te sien, kyk http://www.kletskerk.co.za/viewtopic.php?f=1&t=11726.

**********

Gaan lees gerus op hierdie Glodiebybel-webwerf wat heelwat later met Jean Oosthuizen en Griffelmedia, wat onder andere die uitgewer van Oosthuizen en ander se boek ‘Hier staan ek’ was, gebeur het. Ons kan en wil geen krediet daarvoor vat nie, maar sien dit as ’n bestiering en ’n stuk genade van God teenoor die NG Kerk:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui