Moderatuur moet antwoorde gee oor Belhar

Kyk ook:

Die volgende brief deur Ds Ockie Raubenheimer van Kaapstad het oorspronklik in Kerkbode aanlyn verskyn.

**********

Moderatuur moet antwoorde gee oor Belhar

2010/12/03, Ds Ockie Raubenheimer van Kaapstad

Die Belydenis van Belhar is reeds langer as 24 jaar ’n baie belangrike saak in die briewekolomme en sinodale vergaderings van die familie van NG Kerke. Volgens dr Allan Boesak is dit selfs deur die VGK as “tugroede” teen die NG Kerk gebruik.

In die 2007-opname het ’n oorweldigende meerderheid lidmate in agt sinodale gebiede van die NG Kerk téén die aanvaarding van Belhar as vierde belydenis gestem.

Ten spyte daarvan is die Moderatuur van die Wes-en-Suid-Kaapse Sinode van die NG Kerk tans besig met ’n intensiewe bekendstelling en stemmingmaking dwarsdeur die sinodale gebied met die oog op ’n voorstel voor die 2011-sinodale vergadering dat Belhar as vierde geloofsbelydenis en daarna kerkeenheid met die VGK aanvaar word. (Wat dan van die ander twee lede van die NG Kerk-familie?)

Geen ander saak het in die afgelope 24 jaar die optrede van die VGK dwarsdeur sy sinodale gebied, só oorheers as die beslaggewing aan Belhar nie. Die NG Kerk word gedurig gekonfronteer met “kerkeenheid op grond van Belhar as vierde belydenisskrif”. Die VGK het selfs kerke in Nederland, Duitsland en die VSA gekontak oor die aanvaarding van Belhar.

Ek het ’n paar vrae aan die Moderatuur van die NG Kerk in Wes-en-Suid-Kaapland:

  • Na watter “vrugte” in die kerklike lewe van die VGK kan die Moderatuur van Wes-en-Suid-Kaapland sy lidmate verwys ten opsigte van “die handhawing en toepassing van versoening, eenheid, samebindende krag deur die werking van die Heilige Gees”? Berigte verskyn van hofsake in die Vrystaat tussen die VGK en die NGK in Afrika; in Kaapland van NGK- en VGK-gemeentes in Wynberg en Durbanville wat kerkregtelike probleme met kerkeenheid ondervind en mekaar agterdogtig bejeën, selfs leraars en lidmate van die VGK wat mekaar met hofsake dreig en mekaar selfs te lyf gaan!
  • Vier-en-twintig jaar na Belhar het die VGK steeds in gebreke gebly om sy vrugte te dra – ten spyte van die entoesiasme van sy opstellers. Watter resultate kan die Moderatuur, en moontlik die Sinode van Wes-en-Suid-Kaap en die Algemene Sinode, verwag om die huidige oorweldigende nee-stemme van die NG lidmate tot aanvaarding van Belhar te “bekeer” sonder dat die huidige stroom van kerkverlaters groter word?
  • Is die Moderatuur van Wes-Kaap waarlik oortuig dat sy ywer vir die aanvaarding van Belhar en kerkeenheid met die VGK nie juis die teenoorgestelde uitwerking gaan hê nie – meer kerkverlating, selfs kerkskeuring?
  • Sou die tyd, arbeid en koste aan hierdie futiele werwingsoperasie nie beter gebruik kon word om sukkelende gemeentes te help nie?

Daar bestaan baie voorbeelde waar gemeentes van beide kerke hartlik saamwerk, en dít sonder Belhar!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui