Die missionale kerk-gedagte sit die pot mis

Kyk ook:

Seker die vier belangrikste dinge waarop die kerk moet fokus is:

  1. Gebed: Die Bybel is baie duidelik dat dit elke Christen se taak is om te bid (kyk Aanhalings oor gebed). Dit is van kardinale belang dat alle gemeentes gebed baie ernstig opneem.
  2. Sending: In Matteus 28 gee Jesus Sy laaste opdrag: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Dit is presies in lyn met die feit dat ’n mens slegs gered kan word van die ewige hel deur geloof in Jesus Christus (kyk Die Bybel oor sending en Die Bybel oor redding).
  3. Geestelike groei: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” (Efesiërs 6:12) Dit is daarom uiters belangrik dat Christene geestelik groei, die wapenrusting aantrek en gereed wees vir die geveg, want anders sal ons nie staande bly in ’n sondige wêreld nie.
  4. Suiwer woordverkondiging: As die kerk nie die Woord suiwer verkondig nie, sal die Christelike geloof afgewater word (kyk Die Bybel oor dwaling).

In Kerbode, 19 Februarie 2016 is daar vier artikels wat handel oor die missionale kerk. In die artikel “Almal trek saam in een missionale koers”, word gesê:

“…ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, by die vergadering van die Taakspan vir Missionale Transformasie vier aspekte van missionaliteit beklemtoon het. Hierdie vier is roeping, spiritualiteit, geregtigheid en diens.”

Hierdie vier punte is baie nader aan humanisme as aan die Bybel:

  1. Roeping: Ek wil nie baie sê oor hierdie punt nie. Dit is in elkgeval so vaag dat enigiets hiermee bedoel kan word.
  2. Spiritualiteit: Spiritualiteit is nie ’n begrip wat in die Bybel voorkom nie. Volgens Wikipedia verwys dit na feitlik enige betekenisvolle aktiwiteit en is nie gekoppel aan ’n spesifieke godsdiens nie (kyk die Wikipedia-artikel vir meer hieroor).
  3. Geregtigheid: Geregtigheid kom wel dikwels in die Bybel voor maar ek twyfel baie sterk of dit ’n sterk fokuspunt vir die kerk moet wees. Jesus is duidelik in Matteus 5:39 (draai die ander wang) dat ons nie op ons eie regte moet staan nie. Moet ons ons beywer vir die regte van ander? Verkondig eerder die evangelie aan hulle.
  4. Diens: Diensbaarheid kom ook dikwels in die Bybel voor. Maar dit staan steeds ondergeskik aan gebed, sending, geestelike groei en suiwer woordverkondiging. Diens aan mense sonder hierdie vier punte bly by liefdadigheid. Dit verlig mense se swaarkry op aarde, maar help nie dat mense in die hemel kom nie. In Markus 14:7 sê Jesus: “Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie.” Hieruit moet ’n mens aflei dat dit belangriker is dat mense naby aan God/Jesus is as aardse behoeftes.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui