Kerkbode artikels oor missionale kerk

Kyk ook:

Die volgende artikels het in Kerkbode van 19 Februarie 2016 verskyn oor die kerk as missionale kerk:

Dit is baie onduidelik wat presies die NGK leierskap met hierdie “nuwe” visie wil hê.

Met die NGK leierskap se geskiedenis die afgelope paar jaar (kyk Opsomming van skokkende NG Kerk-besluite), kan ’n mens egter nie help om skepties te staan teenoor enige nuwe inisiatief wat nie duidelik in lyn met die Bybel is nie. ’n Mens moet erken dat die taal in hierdie artikels nie “Bybelse taal” is nie. Die terme wat gebruik word, vind ’n mens nie in die Bybel nie.

Dit inspireer nie.

Kyk ‘n Missionale Kerk? deur Jan Louw, wat hierdie bespreek.

Kommentaar verskyn in [rooibruin blokhakies] tussenin die teks.

Almal trek saam in een missionale koers

(Uit Kerkbode, 19 Februarie 2016)

Neels Jackson

Die Taakspan vir Missionale Transformasie se oogmerk is om alle lidmate se geloof so te help vorm dat hulle as gestuurdes in die wêreld sal leef.

Dié gesamentlike taakspan van die Algemene Sinode bestaan uit die taakspanne vir Missionale Ekklesiologie, Lidmaatbemagtiging, Gemeentebediening, Erediens en Liturgie, Missionale Diakonaat en die Seisoen van Menswaardigheid.

Hulle het onlangs vir die eerste keer saam vergader vandat die Algemene Sinodale Moderamen einde verlede jaar besluit het dat missionale transformasie ’n prioriteit vir die NG Kerk moet wees.

Ds Freddie Schoeman, sameroeper van die Taakspan vir Missionale Transformasie sê die verskillende taakspanne binne die oorkoepelende taakspan werk nou almal saam. Hulle fokus almal op dieselfde doelwit en elkeen bevorder dit vanuit sy eie hoek.

So moet die Taakspan vir Missionale Ekklesiologie sorg vir ’n teologiese begronding van missionale kerkwees. Hulle taak is om leiding te gee oor hoe ’n kerk moet lyk wat ’n gestuurde kerk is.

Die Taakspan vir Lidmaatbemagtiging se rol is om aan te dui hoe die kerk lidmate moet toerus om as gestuurdes in die wêreld te leef.

Die Taakspan vir Gemeentebediening se fokus is op die leiers. Hulle moet kyk hoe leiers in ’n gemeente moet funksioneer sodat hulle die gemeente kan help om as gestuurdes in die wêreld te leef.

Die Taakspan vir Erediens en Liturgie moet die gemeentes help om die missionale karakter van ’n erediens na vore te laat kom. Dit gaan onder meer oor die werking van die Drie-eenheid, omdat dit is waar gestuurdheid gebore word.

Die Taakspan vir Missionale Diakonaat se fokus is maatskaplike en opheffingsprojekte waardeur die boodskap van God se liefde uitgedra word.

Dr Elize Morkel, voorsitter van die Taakspan vir die Seisoen van Menswaardigheid, sê hulle produkte soos die kruiskulturele Bybelstudies en plakkate is alles ondersteunende materiaal vir die kerk se missionale transformasie.

Sy wys daarop dat ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, by die vergadering van die Taakspan vir Missionale Transformasie vier aspekte van missionaliteit beklemtoon het. Hierdie vier is roeping, spiritualiteit, geregtigheid en diens.

[Kommentaar: Hierdie vier aspekte is meer belyn met humanisme as met die Bybel. Kyk die artikel Die missionale kerk-gedagte sit die pot mis wat hierdie in meer detail bespreek.]

Dat geregtigheid ’n belangrike deel van missionaliteit is, onderstreep die rol wat die Seisoen van Menswaardigheid het om te speel.

Sy wys ook daarop dat die Wêreldraad van Kerke reeds in 2013 groot klem gelê het op die verband tussen geregtigheid en missionaliteit.

Omdat die Seisoen van Menswaardigheid ’n gesamentlike projek is van die vier kerke van die NG Kerkfamilie, is die seisoen ook reeds ’n manier waarop geregtigheid vergestalt word.

Die vier kerke is ’n voertuig vir die uitdrukking van die Missio Dei, sê sy.

Alle gedooptes is gestuurdes

(Uit Kerkbode, 19 Februarie 2016)

Freddie Schoeman

Die woord transformasie het nie noodwendig in ons tyd ’n positiewe konnotasie nie. Om die waarheid te sê, transformasie het vir baie mense negatiewe gevolge in terme van werksverlies en ekonomiese agteruitgang. Transformasie is iets wat afgedwing word en mense word verplig om aan te pas of pad te gee. Mense se lewe word deur transformasie ontwrig.

Wanneer transformasie deur die Gees van die Here gedryf word, bring dit egter opwindende en energiewekkende beweging wat nuwe hoop en nuwe opgewondenheid oor die toekoms genereer. Dit is die soort transformasie wat al die afgelope ongeveer 15-20 jaar in die NG Kerk besig is om te gebeur. Te midde van baie belangwekkende, en belangrike sake waaraan die kerk moes aandag gee het hierdie transformasie byna ongesiens, onder die radar, plaasgevind.

Dit is die oorgang van die NG Kerk wat gerig is op die instandhouding van die Christendom na ’n kerk wat soepel dinamies word, ’n kerk wat omvorm en transformeer ten einde deel te wees van God se liefdevolle en lewegewende beweging na die wêreld.

Hoewel hierdie beweging al ’n geruime tyd aan die gang gekom het, is dit nou op die voorgrond geplaas deurdat die Algemene Sinodale Moderamen missionale transformasie formeel as een van die heel belangrikste prioriteite van die kerk geïdentifiseer het.

Hierdie besluit van die moderamen kan dalk een van die heel belangrikste besluite van die kerk wees in die onlangse verlede. Dit is gegrond in nuwe nadenke wêreldwyd oor die leer van die Drie-eenheid en die missionale aard van die drie-enige God.

Dit het enorme implikasies vir kerk en kerk-wees en het die potensiaal om geboorte te gee aan ’n kerk wat op nuwe en kreatiewe maniere die evangelie van Jesus Christus vergestalt.

In plaas daarvan dat die sendingwerk van die kerk op ’n armlengte bedryf word en met wisselende mate van entoesiasme ondersteun word deur die kerk, word sending nou deel van die skering en inslag van die kerk. Met erkenning aan die groot werk wat sendelinge die wêreld oor gespeel het en nog steeds speel en met groot opoffering en persoonlike swaarkry gepaard gaan, word daar tans wegbeweeg van ’n model wat net sekere besondere mense as sendelinge beskou het.

Sending is nie meer net die taak van ’n klein groepie sendingbelangstellendes nie. Al hoe meer word ingesien dat almal wat deel is van die kerk, alle gedooptes, gestuurdes is.

[Kommentaar: Jammer, maar ek staan baie skepties daaroor dat daar nie wegbeweeg wil word van sending nie. Die NGK leierskap het nog nie bewys dat hulle ernstig oor sending is nie.]

Ons word almal meegesleur deur ’n magtige beweging – die beweging van ’n lewegewende God na ’n sterwende wêreld waardeur die magte van selfsug, magsug en hebsug die stryd aangesê word en waardeur mense bevry word en in staat gestel word om te floreer en om sinvolle en betekenisvolle lewens te leef.

[Kommentaar: Hierdie is welvaartsteologie. Wat moet gesê word aan Christene wat die dood in die oë staar omdat hulle durf om hulleself Christene te noem?]

Hulle doen dit wanneer hulle die uitnodiging aanvaar om deel te neem aan die ewig-liefdevolle, hoopgewende, vreugdevolle gemeenskap van die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.

Deelname aan hierdie gemeenskap bring egte, lewegewende transformasie vir gelowiges, vir gemeentes – vir die kerk as geheel. Dit loop uit op ’n samelewing wat gevul is met liefde, pleks van haat, vrede pleks van konflik, vreugde pleks van droefheid en hartseer.

▶ Ds Freddie Schoeman is sameroeper van die Algemene Sinode se Taakspan vir Missionale Transformasie.

Gestuurdheid vra ’n paradigmaskuif

(Uit Kerkbode, 19 Februarie 2016)

Gedagtes oor kerkwees

Nelis Janse van Rensburg

God stuur sy Seun na die wêreld. Hy stuur ook sy Heilige Gees na sy volgelinge om van hulle ’n beweging te maak in die wêreld. Elke gelowige word so deel van God se sending na die wêreld.

So klink die basislyne van die sogenaamde “missionale teologie”. Missionale transformasie beteken dus dat die kerk sy selfverstaan en sy doen en late belyn met hierdie teologie.

Baie redeneer dat die kerk homself [Kommentaar: As ek mag hare kloof: dit was nog altyd die gebruik om na die kerk te verwys as “haar”, verwysende na die bruid van Christus.] nog altyd so verstaan het. Die beleidsdokument van die Algemene Sinode (2013) dui egter baie duidelike redes aan waarom daar inderdaad transformasie nodig is.

Oor die eeue het daar subtiele verskuiwings in ons kerklike denke plaasgevind. Die kerk het onder meer begin opereer vanuit verskillende posisies van mag. Reformasie beteken dat die kerk terugkeer na sy bronne.

Vandag verg dit ’n paradigmaskuif om ’n kerk te sien sonder mag, ontledig tot slawe, voortdurend selfprysgewend na die voorbeeld van die Hoof.

So ’n kerk is nie primêr hier ter wille van sy lidmate nie, maar ter wille van die heil van die wêreld. Elke gelowige leef dan vanuit ’n roeping en ’n opdrag. Elke gelowige word slaaf en kneg in ’n beweging wat gefokus is op die koms van die koninkryk.

Die Algemene Sinode se moderamen (ASM) het in November 2015 besluit om nou ’n strategie vir die missionale transformasie van die kerk te ontwikkel. Die ASM het slegs twee prioriteite vir die termyn bepaal. Missionale transformasie is sy eerste prioriteit. Die taakspanne wat hiermee gemoeid is, het onlangs saam vergader en groot vordering is reeds gemaak. Die ASM sal reeds op sy vergadering in Maart ’n voorgestelde strategie oorweeg.

Soos die strategie nou ontwikkel, word daar op vier vlakke gedink oor die lewe van die kerk, naamlik dié van die individu, die gemeente, die kerkverband en die samelewing.

Die implikasies strek wyd, van die geloofsgewoontes van individue en gemeentes, die erediens en liturgie, vars uitdrukkings van geloofsgemeenskappe tot by ’n “missionale kerkorde” en ’n fokus op die waarde van elke mens.

Op talle plekke is die proses van herbesinning en transformasie op ’n spontane wyse reeds goed op dreef. Gemeentes en individuele gelowiges vra grondig na die wil van die Here en breek deur eeu-oue vasgelegde gewoontes ter wille van gehoorsaamheid aan hulle roeping.

Daar is by my egter geen twyfel nie dat hierdie beweging net volhoubaar sal wees indien dit gevoed word vanuit ’n grondige kennis van God [Kommentaar: LW, hierdie is die woorde van iemand wat nie ’n probleem het om homoseksualiteit in die kerk toe te laat nie], gepaardgaande met ’n diepe bewussyn van die teenwoordigheid van God. Laasgenoemde verwys na ’n mistieke verbondenheid aan die Een wat in ons is en in die Vader is (Joh 14 en 15) en Homself weer en weer aan ons openbaar.

Oor die eeue was daar nog altyd in gereformeerde kringe ’n agterdog jeens die mistiek. Tog is die mistiek as die nadenke, aansprake, ervarings en verbeelding oor die werkinge en die werklike teenwoordigheid van God so deel van die godsdiens soos geloof self.

Allerhande voorstellings is gemaak dat mistiek wêreldontvlugtend is en subjektivisties, maar veral dat dit die sola Scriptura beginsel in gedrang bring.

Ander meen baie skepties dat dit gerig is op ’n versmelting tussen God en mens en dat dit nie rekening hou met die andersheid van God en die afstand tussen God en mens nie. Hierdie beoordeling van die mistiek was beslis nie altyd ongegrond nie.

Dit is egter goed om in hierdie verband weer kennis te neem van die werk van die Hollandse teoloog, Kornelius Miskotte. In sy omgang met die mistiek kom hy tot die eg gereformeerde oortuiging dat kennis van die teenwoordigheid van God altyd geïnterpreteerde kennis is vanuit ons kennis van die Woord van God. Dat ons vir God kan herken in die daaglikse gang van die lewe, is te danke aan ons kennis van Hom deur die Woord. [Kommentaar: Die argument van “geïnterpreteerde kennis” word gewoonlik gebruik om dwaalleer in die kerk in te sleep soos bv homoseksualiteit, saamwoon en die bestaan van die duiwel.]

In die missionale proses het ons ’n uitstekende geleentheid om nou weer te besin oor ons verstaan van die teenwoordigheid van God.

Elke gelowige sal opnuut vanuit sy/haar kennis van God en bewussyn van die teenwoordigheid van God die werklikheid tegemoet moet leer tree.

Hiervoor sal ons waarskynlik nuwe geloofsgewoontes moet aanleer. Ons gaan nie ander resultate behaal deur net dieselfde te bly doen nie. Ons het nuwe gewoontes nodig wat ons refleksie oor die Woord en die teenwoordigheid van God in ons lewe versterk.

Ons sal op ’n persoonlike vlak nuwe ruimtes moet ontsluit vir dieper nadenke en ’n verbintenis om bewustelik te leef in die teenwoordigheid van God. Dit gaan ’n reuse-impak hê op ons getuienis oor God – die hart van die missionale beweging.

[Kommentaar: Alles leë, vae woorde. Wat behels dit?]

Sonder ’n eerstehandse getuienis oor die teenwoordigheid van God in ons lewe, sal die missionale beweging nie momentum behou nie. Trouens, daarsonder sal die missionale teologie op die rakke van biblioteke en in dik verslae vasval.

▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Hoe word ’n gemeente missionaal?

(Uit Kerkbode, 19 Februarie 2016)

Becoming the Gospel: Paul, Participation, and Mission (The Gospel in Our Culture Series)
Deur: Michael J Gorman
Uitgegee deur: William B Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, Michigan. 2015

Freddie Schoeman

Die vermaarde sendingkundige, Lesslie Newbigin, sê in sy boek The gospel in a pluralist society: “I am suggesting the only answer, the only hermeneutic [means of interpretation] of the gospel, is a congregation of men and women who believe it and live by it.”

Hierdie woorde gee die tema van hierdie belangwekkende werk van Michael Gorman aan. Die groot vraag wat Gorman probeer antwoord (en dit deksels goed regkry) is: Hoe kan ’n gemeente as gemeente missionaal wees? Met ander woorde: Hoe kan ’n gemeente beweeg van ’n gemeente met sending- en uitreikprojekte na ’n gemeente wat in wese, in murg en gebeente missionaal is en so die evangelie vergestalt?

[Kommentaar: Dit sal ’n hartseer dag wees wanneer ’n gemeente wegbeweeg van sending- en uitreikprojekte. ’n Gemeente moet beide doen: sendingprojekte EN ook self die evangelie uitleef en demonstreer.]

Gorman se antwoord, kortweg opgesom, is die volgende: ’n Gemeente is missionaal wanneer dit deelneem aan die lewe en karakter van ’n sturende God wat Hom geopenbaar het in die gekruisigde en opgestane Christus en waar hierdie deelname lei tot diep transformasie van gemeentes.

Dit wil sê ’n missionale gemeente is ’n gemeente wat die DNS van die drie-enige God vergestalt.

Gorman maak gebruik van ’n baie ou konsep, theosis, wat beteken om deel te kry aan die Goddelike natuur (2 Pet 1:4). Aangesien die drie-enige God diep in sy wese missionaal is, kan ’n gelowige, gemeente en kerk wat die DNS van hierdie God deel van hulle eie identiteit maak, nie anders as om in wese missionaal te wees nie.

In hierdie tyd waarin die NG Kerk in soveel rigtings getrek word, is dit maklik om ons oog af te haal van die bal, van ons eintlike bestaansrede, naamlik om gestalte te gee aan God se lewegewende beweging na hierdie wêreld toe.

Gorman help ons om te verstaan hoe noodsaaklik die missionale transformasie van die kerk is.

▶ Ds Freddie Schoeman is sameroeper van die Algemene Sinode se Taakspan vir Missionale Transformasie.

2 thoughts on “Kerkbode artikels oor missionale kerk”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui