Brief van Andries Louw oor homoseksualiteit 2016-11-16

Kyk ook:

Andries Louw het die volgende brief op Woensdag, 16 November 2016 vir Beeld gestuur, maar dit is nie geplaas nie:

***********

Geagte redakteur

Die hoofartikel op Maandag 14 November “NG Kerk loop na verlede met sy gay-besluit” verteenwoordig duidelik die mening van heelwat lede van die publiek sowel as van sommige lidmate. Beeld is ook geregtig op sy eie siening. Daar is egter ’n baie algemene redeneerfout sowel as twee ernstige feitefoute in die artikel wat reggestel moet word.

Die eerste stelling in die artikel is reeds onlogies en aanvegbaar, nl dat die besluite van die Algemene Sinode “gays die rug toegekeer het”. Dit veronderstel dat ’n nee vir gay verhoudinge ook ’n nee vir gays is. Dit staan egter soos die meeste populêre sienings in kontras met die basiese reels van die logika. Dit is presies hoe die meeste jongmense in ’n stadium van hul tienerjare teenoor hul ouers en die huisreels argumenteer. Meestal besef hulle eers ’n paar jaar later, wanneer hulle meer volwasse geword het dat die onpopulêre reëls van hul ouers nie teen hulle as mense gemik was nie maar juis hul belange op die hart gedra het en hulle dalk op hierdie wyse van groot skade en hartseer bewaar het. Dit is ongelukkig nie polities korrek om op die negatiewe gevolge van gay verhoudinge te wys nie, hoewel die navorsing daaroor vryelik beskikbaaar is.

Die veronderstelling van die artikel is dus dat slegs een besluit van deernis en empatie kan getuig en dit is om gay verhoudinge goed te keur en te seën. En om die aandrang hierop te versterk word met groot stelligheid beweer dat die wetenskap en die biologie sou bewys het dat 10% van alle bevolkings gay is en dat dit voor geboorte reeds biologies bepaal word. Die naïwiteit wat uit hierdie stelling spreek is werklik verstommend. Die 10%-syfer is ’n mite wat deur die seksnavorser Alfred Kinsey in die vyftigerjare in die VSA gedoen is en wat al die jare sedertdein soos ’n mantra deur gay aktiviste van elke soort aangehaal is. Daar is egter herhaaldelik deur latere navorsers aangetoon dat Kinsey se metodiek in beide die samestelling van sy monsters sowel as in die verwerking van sy data growwe foute gemaak het, en dat dit duidelik is uit kritiese hersiening dat Kinsey vanuit sy ultra-liberale lewensfilosofie daarop uit was om die seksuele rewolusie van “vrye seks”, insluitend gay seks, te bevorder. So het hy bv ’n beduidende persentasie van sy proefpersone uit seksoortreders in gevangenisse gewerf. Sommige van sy eksperimente het hy ook op kleuters en babas gedoen wat ’n navorser laat opmerk het dat indien die wette op pedofilie op hom van toepassing gemaak was, hy self in die tronk sou beland het.

Die werklike syfer van homoseksuele mans in die meeste westerse lande word vandag deur die mees betroubare navorsing op tussen 2.5 en 3% geskat met lesbiërs omtrent die helfte daarvan. Die tweede deel van die stelling, nl dat gaywees of ’n homoseksuele oriëntasie onveranderlik voorgeboortelik biologies vasgelê is, is net soseer van alle waarheid ontbloot. ’n Studie in Nieu Zeeland op dertigduisend identiese tweelinge waarvan een gay was, het aangetoon dat slegs ongeveer 15% van die ander persone ook gay was. Identiese tweelinge deel egter presies dieselfde genetiese materiaal, wat daarop dui dat indien gaywees geneties bepaald sou wees, die ooreenstemming in oriëntasie 100% moes gewees het. Onlangse navorsing deur twee senior navorsers by Johns Hopkins Universiteit, nl Lawrence Mayer, M.B., M.S., Ph.D. en Paul R. McHugh, M.D., het meer as tweehonderd portuur-beoordeelde navorsingstudies in ’n verskeidenheid wetenskaplike navorsingsvelde soos epidemiologie, genetika, endokrinologie, psigiatrie, neuro-wetenskap, embriologie and pediatrie nagevors. Die bevinding van die verslag was soos volg: “Die geloof dat seksuele oriëntasie ’n inherente, biologies vasgelegde menslike eienskap is – dat mense “so gebore word” – word nie deur wetenskaplike bewyse ondersteun nie.” ’n Ander navorser wat self lesbies is, dr Lisa Diamond, praat van die “vloeibaarheid” van seksuele oriëntasie wat al meer in navorsing gevind word en ook as sodanig erken en verreken word.

Die werklike goeie nuus vir mense, veral ook jongmense wat met selfdegeslag-aangetrokkenheid worstel, is dat mense met ’n “homoseksuele oriëntasie” inderdaad kan verander en dat daar ’n menigte getueinisse is van persone wat inderdaad verander het, wat vryelik op die Internet gesien kan word. Hulp en restorasie tot die herontdekking van die eie geslags-indentiteit is beskikbaar vir diegene wat ernstig daarna soek.

Ds Andries Louw (emeritus)
Pretoria

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui