Aborsie ‘nuwe verslawing’

Kyk ook:

Die volgende artikel is van Beeld gekopieer.

*********

Aborsie ‘nuwe verslawing’

2012-09-03 08:43

Vicus Bürger en Selloane Khalane

ABORSIE is die “nuwe verslawing” en sommige sensasiejagters ondergaan nou aborsies om hul lus vir opwinding te stil.

Dít het aan die lig gekom nadat Volksbladondersoek ingestel het na vroue wat herhaadelik aborsies ondergaan.

Twee vroue wat elk al minstens agt aborsies ondergaan het, het gesê dit is opwindind om lewe te skep en dan “wettig” te neem. Hulle is “lopende begraafplase”.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, het gesê dié gevaarlike neiging kom as ’n groot skok vir die departement.

Mvambi het gesê die waarnemende LUR vir gesondheid in die provinsie, Msebenzi Zwane, sal vandeesweek ’n noodvergadering hou om onder meer die hoë voorkoms van aborsies in die Vrystaat te bespreek en oplossings te vind.

Net in Bloemfontein word talle aborsies gedoen.

’n Personeellid van die aborsiekliniek by die Nasionale Hospitaal het verlede week gesê hulle is tot 2 Oktober vol bespreek.

Die houding van vroue, wat meen hulle kry sensasie en opwinding uit hul aborsies, is waarskynlik die gevolg van ernstige trauma in hul kinderjare of verwerping wat hulle beleef het, sê Rozanne Botha, ’n Bloemfonteinse sielkundige. Sy spesialiseer in trauma-behandeling.

“Dit het veroorsaak dat hulle nie meer omgee oor hul eie lewe en dié van ander nie. Hulle leef van dag tot dag en het nie meer genoeg energie om vir hul eie of ander se lewe verantwoordelikheid te neem nie.”

Botha sê traumatiese kinderjare, deurlopende viktimisering en verwerping as volwassenes kan ook veroorsaak dat ’n mens se persoonlikheid disintegreer. Hy of sy ontwikkel só ’n persoonlikheid- of gemoedsversteuring en dit verklaar die gedrag van vroue soos dié met wie Volksblad gepraat het, sê Botha.

“Dis egter belangrik om te weet dat behandeling moontlik is en mense wat getraumatiseerd is en in bogenoemde patroon verval het, gehelp kan word.”

Boonop hou herhaaldelike aborsies ernstige gesondheidsgevare vir vroue in, sê die Bloemfonteinse ginekoloog dr. Do-Jo Jordaan.

Intussen word onwettige aborsies, wat lewensgevaarlik is, ook uitgevoer. Plakkate waarop onwettige aborteurs adverteer, word teen lamppale en kragbokse in veral Bloemfontein se middestad opgesit.

Volksblad het een van hulle gebel. Die joernalis het gesê sy vriendin moet weens ’n ongewenste swangerskap ’n aborsie ondergaan. Die man, wat gesê het hy is ’n dokter van Kenia, was bereid om ’n aborsie op ’n vrou wat reeds 22 weke swanger is, teen R1 000 uit te voer.

Mvambi sê tot en met 12 weke van swangerskap kan verpleegsters aborsies uitvoer.

Tot en met 20 weke moet dokters dit doen, maar mediese redes moet aanwesig wees.

Hierna word aborsies volgens hom nie uitgevoer nie.

Altesaam 21 994 aborsies is in 2011 in die Vrystaat gedoen. Dit is die hoogste provinsiale syfer in die land. Altesaam 77 771 wettige aborsies is verlede jaar in Suid-Afrika uitgevoer.

Joe Maila, dr. Aaron Motsoaledi (minister van gesondheid) se woordvoerder, het gesê: “Ons is baie bekommerd oor nie net aborsies nie, maar ook oor die feit dat daar soveel onbeskermde seks in Suid-Afrika plaasvind.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui