Kyk ook:
*******
Is Jesus se tyd verby of twyfel Christene net? | Volksblad
24 November 2005, Volksblad
Skokkende bewerings word opgedis
JOHAN JANSE VAN RENSBURG
SKOKKENDE dinge word deesdae aan ons opgedis. Onlangs lees ek van ‘n voorbladberig in die Kaapse poniekoerant The Voice, met ’n afdruk van die Laaste Avondmaal en die woorde: “Jesus has had his chips”.
Die berig in Volksblad (15 November 2005:6) lui verder: “Twee Christengroepe het by die persombudsman oor dié voorblad gekla omdat hulle meen dit is godslasterlik, maar die persombudsman het vroeër vandeesmaand beslis The Voice het die reg om sulke materiaal te publiseer.”
’n Paar jaar gelede sou dit as godslasterlik beskou word. Wetgewing sou dit eenvoudig nooit deurlaat nie.
Maar nou leef ons in ’n gesekulariseerde samelewing. Moet ons hieruit aflei dat daar ‘n besliste skuif téén die Christelike geloof gekom het? Ek kan my nie indink dat ‘n dergelike berig oor Mohammed of Allah (Islam) deurgelaat sou word nie. En waar kom so ’n radikale vraag dan vandaan? Is dit sommer ‘n moedswillige of onskuldige gekorswel met die Christelike geloof? Inteendeel!
Die stelling in die berig kom ooreen met die mees fundamentele beginsel van die New Age Beweging (NAB). Vir etlike dekades word die boodskap op verskillende maniere die wêreld ingestuur dat die tyd van Jesus Christus verby is. Hy was die Christus wat in die sterrebeeld van die vis (die teken van die vroeë Christelike Kerk) vir 2000 jaar regeer het. Maar sy tyd is verby omdat ons nou in die sterrebeeld van Aquarius, die waterdraer beweeg het.
Daar is nou ‘n nuwe Christus. Sy naam is Matrya, Hy het reeds verskyn en hy sal al die nasies en gelowe verenig. Die verkondiging van die evangelie sal oorbodig, eintlik onwettig wees, omdat alle gelowe en alle mense onder die nuwe Christus verenig sal wees. Dus het Jesus “sy chips gehad”,
Ongetwyfeld speel die Nuwe Hervorming ook ’n groot rol in die stellingname dat Jesus se tyd verby is. Die historiese Jesus word so gedekonstrueer dat dit al hoe moeiliker word om Hom as die Verlosser te herken en te erken. Jesus is nie uit die maagd Maria gebore nie, Hy het nie ’n goddelike natuur gehad nie, Hy het nie aan die kruis gesterf om mense met God te versoen nie en Hy het ook nie uit die dood opgestaan nie, word deesdae beweer.
Dit alles het baie gelowiges geskud en laat twyfel. Tragies is die onlangse erkenning van ’n teoloog dat hy opgehou het om in Jesus te glo. Is dit die begin van ’n proses waarin al hoe meer Christene die bittere en vernietigende pad van twyfel tot ongeloof gaan loop? Het Jesus “sy chips gehad”?
Dit is natuurlik nie die eerste keer dat Jesus Christus so maklik wegverklaar of weggewens word nie. Baie jare gelede het een van die Beatles die wêreld geskok deur te sê dat die Beatles gewilder as Jesus Christus is. Christene was woedend. Intussen het die Beatles gekom en gegaan. Hulle naam is hoogstens nog legendaries, maar hulle word nie eers meer gereken as die gewildste popgroep aangewys moet word nie.
Duisende jong kinders weet nie eens wie die Beatles was nie. Maar Jesus Christus?
Daagliks is daar honderde (indien nie duisende nie) mense oor die hele aarde wat nuwe sin en betekenis in hul lewe vind deur hul vertroue in Jesus Christus te plaas. Daar is steeds ’n skare wat besluit om sy aanbod tot verlossing wat Hy op Golgota bewerk het, te glo en te aanvaar. En miljoene Christene word nie gesteur of geskud deur die bewerings van die Nuwe Era of die Nuwe Hervorming nie.
Sy Koninkryk gaan daagliks van krag tot krag. Daar was volgens ’n gesaghebbende ingeligte 2 miljard Christene in die wêreld in 2002 teenoor slegs 558 miljoen in 1900. Dit verteenwoordig ’n substansiële groei. Dit is soos die rots waarvan Nebukadneser gedroom het wat alle ander koninkryke verbrysel, maar sêlf in omvang en momentum groei totdat dit die hele wêreld vul (Daniël 2:35).
Het Jesus “sy chips gehad”? Nee! Jesus het self belowe: “Kyk, ek is met julle tot aan die voleinding van die wêreld (Matt.28:20). Hy sal nooit weggewens of weg verklaar kan word nie. Hy sal daar (en hier) wees totdat die einde ’n nuwe begin inlei.
Daarom bely ek steeds saam met die algemene Christelike kerk: “Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, wat gebore is uit die maagd Maria. Wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het. Wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe, en dié wat reeds gesterf het.” Daarop sê ek en miljoene gelowiges: “Amen!”
Prof. Janse van Rensburg is hoof van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.