Kyk ook:
Johann Ernst het op ‘n stadium ‘n 180 grade ommekeer gemaak en vir André Bartlett in 2020 aangekla omdat hy valse inligting oor Chris van Wyk versprei het. Kyk Opsomming van tugklag teen André Bartlett 2020-2021.
*******
Aktuarius verwerp geskorste student se aantygings | Kerkbode
Kerkbode, 17 Februarie 2012
‘n Voormalige teologiestudent aan die Universiteit van Pretoria, mnr Ferdie Mulder, wat in 2006 deur die universiteitsowerhede geskors is nadat hy deur ‘n regter aan oneerlike gedrag skuldig bevind is, het op Kerkbode se Facebookblad ernstige aantygings gemaak teen die aanstelling van dr André Bartlett as hoof van die Sentrum vir Bedieningsontwikkeling by die Universiteit van Pretoria.
Mulder, wat nie meer ’n lidmaat van die NG Kerk is nie, beweer in ’n ope brief wat hy aan eerstejaar teologiestudente rig dr Bartlett se aanstelling berokken die hart van die evangelie ontsettende skade. Mnr Mulder werp ook ernstige refleksies op een van sy medestudente prop Rudolph Scharneck wat destyds saam met hom teologie studeer het.
Die aktuarius-van die NG Kerk se vorige Algemene Sinode, dr Johann Ernst, was ten nouste betrokke by dr Bartlett se aanstelling en het mnr Mulder se bewerings verwerp deur soos volg daarop te reageer:
Daar is ’n paar dinge wat pla in Ferdie Mulder se briewe aan Rudolph en aan die NG studente by UP:
- Ferdie is nie meer lidmaat van die NG Kerk nie en het geen reg om hom tot NG studente te rig nie.
- André Bartlett is nie deur Ferdie aangekla nie, en die blote feit dat André en Julian Müller op vriendskaplike vlak met mekaar verkeer en dat André vir Julian bygestaan het in die ondersoek, is nog geen rede om enige opmerkings oor André se eie teologiese standpunte te maak nie.
- Die direkte verband wat Ferdie trek tussen die ondersoek teen Julian destyds en André se aanstelling nou, is onbehoorlik.
- Die wyse waarop Ferdie homself as regsinnig (met sy kwalifikasies) aanbied, en André as onregsinnig uitwys, is ongesubstansieer en berus op sy eie afleidings.
- Die ophaal van bepaalde persoonlike goed (soos wie Rudolph se skoonpa is en waar sy skoonma werk) is irrelevant tot die gesprek of die berig.
- Die wyse waarop Ferdie die inhoud van sy eie boek as gesag voorhou, is subjektief.
- Die verwarring wat hy reeds by ’n student gesaai het, is ’n bewys dat sy ongekontroleerde optrede ook skadelik is. Ek was lid van die vergadering wat André Bartlett vir die pos benoem het. Hy het in alle opsigte oortuig dat hy die beste kandidaat vir die pos is. Oor sy teologiese bekwaamheid en verbondenheid aan die leer van die kerk, was daar nie die minste twyfel nie. Die Kuratorium het sy verantwoordelikheid nagekom en ek as lid, wat uit my hart die liggaamlike opstanding van Jesus bely en verkondig, is ten volle oortuig dat André dit eweneens doen. Ek beveel studente met vrymoedigheid aan om by hierdie Gamaliél se voete te kom sit. En as daar probleme kom, sal ons dit met liefde en op grond van die Woord hanteer.
Welkom André!