Kyk ook:
- Lys van petisies deur progays
- Gaygesprek weer op NG Kerk se agenda (13 Feb 2026, Kerkbode)
- Versoek dat NGK gays sal aanvaar (14 Feb 2013, Beeld)
Lidmate wil gay-saak weer op kerk se agenda hê | Kerkbode
26/02/2013 | Geliasieer onder: Nuus,Suid-Afrika | Geskryf deur: Admin
KAAPSTAD. – ’n Ernstige poging word tans aangewend om die kwessie van permanente verhoudings tussen homoseksuele mense asook die vereiste dat gay predikante selibaat moet wees, weer op die NG Kerk se agenda te kry.
Die Moderamen van die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland het by sy jongste vergadering “met groot erns” kennis geneem van die skrywe en hersieningsvoorstel wat deur 26 lidmate van die NG Kerk aan hulle voorgelê is.
Dit is deur die Moderamen na die Algemene Sinode, wat in Oktober vanjaar vergader, verwys – met die versoek dat dit op die agenda geplaas word en dat “duidelike leiding” oor die saak gegee word.
In die hersieningsvoorstel word gevra dat twee punte van die Algemene Sinode se 2007-besluit met nuwes vervang word. Die sinode het destyds besluit dat “in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie”. En “dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word”.
Die 26 lidmate stel voor dat dié besluite vervang word met nuwes. Hulle eerste voorstel lui só: “Die Algemene Sinode aanvaar dat daar ’n permanente verhouding met ’n eie unieke aard tussen twee mense van dieselfde geslag kan bestaan en gee opdrag aan die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake om ondersoek te doen na hoe so ’n verhouding aan Christelik-etiese verwagtinge kan voldoen.”
Die tweede voorstel lui: “Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes tot die predikantsamp toegelaat word.”
In hulle motivering vir die voorstel, sê die 26 onder meer: “Terwyl aanvaar word dat die huwelik soos ons dit tans verstaan, tussen een man en een vrou is, kan ’n unieke, liefdevolle, permanente verhouding tussen twee mense van dieselfde geslag bestaan wat in sommige opsigte wél aan die huwelik herinner, en in ander nié. Die kerk moet ondersoek instel na hoe dit kan gebeur sodat daar aan Christelik-etiese verwagtinge voldoen kan word.”
Oor die huidige selibaat-vereiste sê die 26: “As gedoopte, gelowige homoseksuele mense toegelaat word tot al die ampte (soos die 2007-besluit lui) kan daar nie bykomende eise (selibaatskap) aan gelegitimeerde homoseksuele mense gestel word wat nie vir almal geld nie. Van alle gedoopte, gelowige lidmate van die kerk van Christus word veronderstel dat hulle lewe daarvan sal getuig, sekerlik ook van gelegitimeerdes, heteroseksueel of homoseksueel.”
Die Wes-en-Suid-Kaapse Moderamen sê hulle is bewus daarvan dat hierdie ’n erg verdelende kwessie in kerke regoor die wêreld is, “maar ons vertrou dat die NG Kerk dit op ’n nugter, Skrifgefundeerde wyse sal hanteer”.
Dr Johann Ernst, aktuarius van die Algemene Sinodale Moderamen, het op navraag aan Kerkbode gesê die proses vorentoe is nog nie duidelik nie. “Dit is nie vanselfsprekend dat die saak in Oktober op die agenda van die Algemene Sinode sal wees nie. Aangesien die Moderamen van die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland ’n versoek gerig het en nie ’n beskrywingspunt ingedien het nie, sal die saak nie sonder meer op die tafel van die Algemene Sinode wees nie.
“Die versoek kan hoogstens aan die vergadering gekommunikeer word, waarna die vergadering moet besluit of die saak aan die orde kan kom,” het dr Ernst gesê. “Die saak sou anders hanteer kon word indien ’n kerkraad, ring of sinode ’n beskrywingspunt daaroor ingedien het. Die versoek van die Moderamen van die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland is volgens hulle nie bedoel om ’n beskrywingspunt te wees nie.”
Dr Ernst het ook daarop gewys dat die verwysing na “hersieningsvoorstel” die Reglement vir Appèl ter sprake bring. Hiervolgens mag lidmate wat op grond van die Bybel, belydenis of kerkorde beswaar teen ’n besluit van die Algemene Sinode het, dit by wyse van ’n beswaarskrif doen. Maar die beswaarskrif moet binne die voorgeskrewe tydperk ingedien word om ontvanklik te wees.
Volgens dr Ernst bestaan die moontlikheid wel dat ’n taakspan van die Algemene Sinode of die Moderamen by wyse van ’n aanbeveling die saak op die tafel van die Algemene Sinode kan plaas. “Dit het nog nie gebeur nie, maar daar word oorweging daaraan geskenk,” het dr Ernst gesê.
Die hoofsaaklik Wes-Kaapse lidmate wat die hersieningsvoorstel onderteken het, is
-
- ds André Agenbag
- dr Kobus Anthonissen
- prof Hendrik Bosman
- prof Karin Calitz
- dr Cecile Cilliers
- prof Julie Claassens (Robert Vosloo se vrou)
- prof Marius de Waal
- dr Ben (BA) du Toit
- dr Leon Fouché
- dr Frits Gaum
- prop Laurie Gaum
- prof Hendrik Geyer
- dr Chris Jones
- prof Louis Jonker
- adv Theoniel Potgieter
- me Martie Retief-Meiring
- prof Lina Spies
- prof Sampie Terreblanche
- dr Charlene van der Walt
- prof Wentzel van Huyssteen
- ds Tinus van Zyl (sr)
- me Lulani Vermeulen
- prof Robert Vosloo [Julie Claassens se man]
Drie van die 26 ondertekenaars het gevra dat hulle name nie in die pers vermeld word nie.