Wat is verkeerd met ons belydenisskrifte?

*******

Wat is verkeerd met ons belydenisskrifte? | Kerkbode

Wat is verkeerd met ons belydenisskrifte?

Kerkbode, 19 November 2010

Johan Janse van Rensburg

Dit is ironies dat weerstand teenoor ons belydenisskrifte opbou in ’n tyd waarin daar al hoe meer druk is om die Belydenis van Belhar te aanvaar. Waarom een belydenis aanprys as die ander wat ons het, al hoe minder waardeer word? ‘n Tweede vraag word aan ons opgedring: Waarom herbevestig die Algemene en Streeksinodes by herhaling die belydenisskrifte, maar individue in die kerk spreek vryelik hulle bedenkinge oor die belydenisskrifte uit?

Die tendens om belydenisskrifte te devalueer, moet as ’n teken van die tyd gesien word. In ’n postmoderne era waar-in waarheid gerelativeer word, kan ons nie meer mense dwing om presies dieselfde te glo nie, word geredeneer.

Die postmoderne konteks het egter ’n ander drukgroep tot gevolg gehad, naamlik die Ontluikende Kerk. Dit is ’n algemene tendens by skrywers van die Ontluikende Kerk om die kerk se belydenisgrondslag te kritiseer.

In sy boek, Nuwe drome vir nuwe werklikhede verwys Nelus Niemandt na Tony Jones wat meen dat die frustrasie met die kerk se denominasionele beheptheid oorloop. Denominasies formuleer hulle denominasionele belydenisgrondslag in belydenisskrifte. Belydenisskrifte verbloem egter die ware Jesus, meen Jones.

Niemandt skryf: “Dink maar aan die manier waarop Jesus se lewe en betekenis net verstaan word deur die eensydige dogmatiese bril van ons belydenisse. Daar word so eng gefokus op dogmatiese debatte oor die aard en natuur van Jesus dat die Jesus wat tussen mense gewoon en mense genees het, vervaag. Dit is egter juis die einste Jesus wat aarde toe gekom het, dissipels gemaak het en hoop gebring het, wat die fokus van egte geloof is” (bl 41; my kursivering).

Rob Bell vergelyk die waarde van dogmas met die vere van ’n springmat. Dit is net ’n manier om ons verder te bring in ons soeke na waarheid, maar dit is nie ’n doel opsigself nie. Hy suggereer dat die kerk ’n slaaf van dogmas geword het in plek daarvan dat dogmas bloot ’n funksie vervul. Braam Hanekom waarsku in Kerkbode (4 Junie 2010) dat “gewone mense” nie meer in geskrewe belydenisskrifte belangstel nie, maar eerder verkies om onder andere na Rob Bell se nooma-DVD’s te kyk om die kern van hulle geloof daar in te vind.

En wat is die funksie van dogmas? Vir Brian McLaren is dit ’n basis vir gesprek met ander gelowe. Ons verstaan van die evangelie kan verkeerd wees terwyl ander gelowe ons kan help om nader aan die waarheid te kom. Die verset teen belydenisskrifte is by die Ontluikende Kerk duidelik ’n verset teen die evangelie, soos dit in die belydenisskrifte tot uitdrukking kom. Wie Brian McLaren en Rob Bell (om net twee skrywers te noem) se boeke lees, sal gou agterkom dat ons hier met ’n ander evangelie te doen het. Die verset teen dogmas is dus begryplik.

Nog ‘n argument wat ons deesdae hoor, is dat die Drie Formuliere van Eenheid gedateer is. Daarmee word bedoel dat hulle oud is en in ’n bepaalde tyd en konteks vir bepaalde probleemsituasies geskryf is. As ons egter die gevestigde gereformeerde beginsel aanvaar dat ons belydenisskrifte gesag dra omdat hulle met die Skrif ooreenstem, is dit ’n ander saak. Dan veronderstel ons dat Skrif en belydenis dieselfde taal praat. Dan glo en bely ons dat ons hier met ewige waarhede te doen het wat nie verander nie en wat vir alle tye en alle gelowiges geld.

Vir gelowiges wat nie op die postmodernisme inkoop nie, is die waarheid van die Bybel tydloos. Die argument dat die belydenisskrifte oud is, gaan dus nie op nie, tensy beswaardes kan aantoon watter gedeelte van die belydenisskrifte nie met die Skrif ooreenstem nie. Die weg van ’n gravamen is dan aangedui.

Intussen is dit ironies dat daar in die geledere van die Ontluikende Kerk diegene is wat glo dat ons die ou geskrifte juis nodig het! Nelus Niemandt skryf in sy aangehaalde werk die volgende: “In die Harry Potter-reeks illustreer die films die belang van antieke waarhede vir nuwe geslagte …” (bl 138). Die argument dat belydenisskrifte onbruikbaar geword het omdat hulle oud is, is duidelik ongeldig!

Dan is daar nog die gepaardgaande argument dat belydenisskrifte geherinterpreteer moet word omdat dit in ’n bepaalde konteks geskryf is wat nie langer geld nie. Hierdie argument word al hoe meer van akademiese kant gehoor. Wanneer dit oor die kerk se belydenis gaan, kan ons eenvoudig nie so veralgemenend werk nie. Sal dié wat hierdie argument gebruik, dan asseblief die kerk help met nadere besonderhede? Watter artikel of vraag en antwoord van watter belydenisskrif moet geherinterpreteer word? En hoe moet so ’n herinterpretasie lyk?

As dié belydenis-waarheid in ons nuwe tyd en omstandighede hertoegepas word, is dit een saak, maar kom herinterpretasie nie op ’n verandering en dus ’n verwerping van die belydenis neer nie?

Gereformeerde kerke was dit nog altyd eens oor ons belydenisgrondslag. Daarsonder kan ons kwalik ons gereformeerde identiteit behou. In ’n tyd waarin daar al hoe meer gesuggereer word dat denominasionele identiteite uitgedien is, sal gereformeerde kerke oor die vraag of ons ’n belydeniskerk is, onderlinge uitklaring moet kry! Ek was onder die indruk dat dit ’n uitgemaakte saak is.

  • Prof Johan van Rensburg is assessor van die Vrystaatse Sinode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui