NGK Diversiteitsforum 2010 (08a) (2010-11-18, Anton Pienaar se bedanking)

Onderstaande is van die Diversiteitsforum (kyk ook hier) afgetrek, behalwe dat die volgorde van verskillende plasings hier reggestel word. Dit lees makliker as die weergawe op die D-forum self, en wys ook duideliker hoe die webbestuurder Charles Malan vir Anton Pienaar probeer lei en sy skrywes probeer voorstel asof “regse fundamentaliste” sy bedanking veroorsaak het. Dit is tot Pienaar (met wie se sienings ons in die algemeen nie saamstem nie) se krediet dat hy nie swig voor Malan se pogings nie. Pienaar stem nie met die sogenaamde regse fundamentaliste saam nie, maar die rede vir sy bedanking bly hy lê voor sekere kerkleiers, onder andere Ben du Toit. Die verwarrende volgorde op die diversiteitsforum is ook moontlik ’n poging van Malan om die aandag af te lei van die duidelike probleem tussen Ben du Toit (en een of ander ongeïdentifiseerde kerkleier) aan die een kant, en Anton Pienaar aan die ander kant. Ons beperkte kommentaar of byvoegings is in vierkantige hakies in bruin hieronder ingevoeg.

Webbestuurder [Charles Malan]
2010-11-18

WIE BEHEER MENING IN DIE KERK: LEIERS, LIDMATE OF FUNDAMENTALISTE?

Twee dae gelede, 16 November, is die vraag op die forum gestel: “Wat nou as kerkleiers nie meer oor diversiteit lei nie?” Die standpunt was dat lidmate die kerk vorm en die seggenskap het. Sedertdien het ’n belangrike gesprek veral tussen twee hoofrolspelers plaasgevind: ds. Anton Pienaar wat vanweë druk as redakteur van die Kerkbode bedank het, en dr. Ben du Toit, Direkteur Kommunikasie: NG Kerk Sinode van Wes-en-Suid-Kaap.

Die groot vraag in die gesprek is eintlik: wie gee die toon aan om die redakteur van Kerkbode uit te dryf – die “kerkleiding” of regse fundamentaliste? Die korrespondensie kan hieronder gevolg word. […] Persoonlike verwysings na bv. gemeentesake wat nie vir die diversiteitsforum ter sprake is nie, is weggelaat met die ellips: (. . .). […]

VAN BEN AAN CHARLES EN SINODEVERTEENWOORDIGERS

Hallo Charles.

Ek sou wat wou gee dat hierdie skrywe van my nie nodig moes wees nie, maar omdat ek weet dat hierdie elektroniese media honger is en dat dit soos ’n veldbrand versprei, het ek nie ’n keuse as om vir jou die volgende te sê nie.

Jou jongste bydrae [Webmeester, 2010-11-16 NUUSBRIEF AAN ALMAL], asook die stortvloed van reaksie op die berigte van dalende lidmaattal van die NG Kerk en die beeïndiging van Anton Pienaar se redakteurskap van Kerkbode, het my net weer laat besef wat ’n magtige instrument die internet (en openbare media oor die algemeen) is om persepsies te skep – wat dan weer verder uitgebou word, waarop daar dan weer verder reageer word – sodat ’n mens amper op die ou end nie meer mooi weet waar alles begin het en wie die waarheid beet het, en of die waarheid hoegenaamd nog te vinde is nie. Buitendien is daar mos baie meer aan ’n “feit” as wat enigeen vanuit ’n bepaalde hoek daarvan weet, of daarna kyk.

Neem nou byvoorbeeld een van die reaksies van ene Daniel op Rapport se artikel van Hanlie Retief oor Anton Pienaar [Kyk die artikel Hanlie gesels met ds. Anton Pienaar]. Hy klassifiseer my en Kobus Gerber saam met ’n klomp ander “liberales” (wat my nou nie juis ontstel nie – ek is al heelwat etikette omgehang, sommige waar (waardig) ander minder waar (waardig), maar dan krediteer hy my as die (waarskynlike) stigter van die Diversiteitsforum! Sjoe, ek is jammer, maar dit (hierdie eer) kom ’n hele paar ander persone toe, waaronder jy self, wie ’n leidende rol gespeel het in die totstandkoming van die NG Kerk se diversiteitsforum. Daarom doen ek graag hierdie openbare regstelling.

[Ons kommentaar: Regtig? Kyk ondertoe Charles Malan se erkenning van Ben du Toit se kernrol in die Diversiteitsforum. Kyk ook die heel eerste skrywe op die diversiteitsforum waar Charles Malan die volgende skryf: “Ben du Toit versoek ook dat hierde ruimte van nou af vir kommentaar gebruik word en nie e-pos nie. Kommentaar is ook welkom by inkrywings in die argief of by dokumente. Laat hoor van julle!”. Verder is dit interessant dat Ben du Toit homself nie as ’n liberale klassifiseer nie, terwyl hy en Kobus Gerber die SA parlement aanbeveel het om voort te gaan om homoseksuele huwelike te wettig (Begeleidende brief met voorlegging oor huwelikswet) en verder skryf hy baie liberale dinge in sy boek God? Geloof in ’n postmoderne samelewing? (kyk Resensies op Ben du Toit se boek “God? Geloof in ’n postmoderne tyd” en Die NG Kerk stoot postmoderne deure oop). En verder sien Anton Pienaar ook vir Ben du Toit as “een van hulle”.]

So is dit egter ook ongelukkig waar van die onderhoud met Anton, dat hy, benewens die goeie punte wat hy maak, ongelukkig ook perspektiewe skep oor sy werksomstandighede wat doodgewoon nie waar is nie. Anton is ’n hardwerkende en entoesiastiese redakteur. Hy het baie energie in elke uitgawe gesit. Hy maak ook heelwat stellings in die onderhoud met Rapport waarvoor ek hom bewonder vir sy dapperheid. Dit moet/moes gesê word. Maar, ongelukkig is die profeet se eie integriteit nie ongeskonde nie. Ek (onder andere) wat redelik intern gemoeid is met die kerk se kommunikasie, was eintlik gedurende sy tydperk tot ’n groot mate verwonderd oor hoeveel vryheid hy wel gegun word om die redakteur van die “spreekbuis” van die NG Kerk (soos dikwels na Kerkbode verwys word) te bestuur. Hy het baie selfversekerd sy stempel op die publikasies afgedruk – wat veral duidelik sigbaar was in elke uitgawe se twee redaksionele kommentaar-kolomme wat deur homself geskryf was. Dit sal waarskynlik deur die meeste mense as prysenswaardig beskou word. Dat hy op enige manier deur die “kerkleiding” in die uitvoering van sy taak onderdruk of gemuilband was (hy kla dat enige redaksionele vryheid met ’n voorhamer deur die kerkleiers beteuel word), is egter doodgewoon net nie waar nie.

Natuurlik het daar in sy tydperk kritiese stemme ook opgegaan (soos ook prys-stemme). Geen redakteur van ’n publikasie sal dit ooit gespaar bly nie. Sommige kritiek het van die algemene kerklike publiek gekom. Dis mos te verstane. Ander is uitgespreek deur lede van die sogenoemde “kerkleiers” – hulle was/is immers sy kollegas wat elke dag saam met hom gewerk het. Ook dit is mos te verstane – en buitendien was die kere waarvan ek weet, konstruktiewe kritiek in die beste positiewe gees moontlik. Op hierdie stelling van hom (dat hy onderdruk was) is waarskynlik die meeste in die openbaar met verontwaardiging reageer.

(. . .)

Die volgende stelling van Anton wys verder hoe grof hy met feite omgaan om perspektiewe te skep wat hoegenaamd nie waar is nie en boonop inkriminerend is teenoor persone en prosesse wat dit nie verdien nie: “Oor die hernude druk van Braam Hanekom-hulle in die Wes-Kaap om die NG Kerk en die VGK te herenig, sê hy dis nou te laat om nog die doel te dien wat dit oorspronklik moes. “‘n Peiling wys meer as 80% van lidmate wil nié herenig nie. Die kerkleiding het besluit om die uitslag nie bekend te maak nie. Hulle’s oneerlik met hul eie lidmate en die media.

Hy behoort beter as die meeste mense in die kerk te weet dat die konsultasieproses van meer as drie jaar gelede deur die onafhanklike navorsers ’n kwalitatiewe een was en nie kwantitatief nie. Om nou te praat van 80% lidmate (‘n kwantitatiewe stelling) wat teen kerkeenheid is, is absoluut onjuis (onwetenskaplik). Hierdie inligting (van die konsultasieproses) is in elk geval beskikbaar – en was beskikbaar gemaak met die bekendmaking daarvan – waar die openbare media ook teenwoordige was. Geen uitslag is/word weerhou nie. Hoekom hy verkies om inkriminerend hierdie onjuiste persepsie te skep, is onbegryplik. Maar, dat dit die kerk wat hy so hartstogtelik liefhet diep seermaak en in die openbaar verdeel en nou tot gevolg het dat nog verdere beswadderende reaksie op haar getrek word, lei geen twyfel nie. Dit laat mens werklik wonder oor sy lojaliteit en liefde vir die kerk wat hy dramaties in die onderhoud verklaar.

Charles, met hierdie skrywe probeer ek nie (sekere) persone verdedig of hulle as engele voorstel nie. Ek wil egter graag die waarheid verdedig. Ongelukkig is dit so dat, met die bekendmaking van die juiste inligting, mens die gevaar loop om “vuil wasgoed” in die openbaar op te hang (hierdie skrywe is alreeds ’n mate daaraan skuldig). Dis ’n baie ongemaklike situasie en wie weet wat die regte (mees Christelike) manier is om te doen. Wees verseker dat ek jou nie kwalik neem vir die perspektief wat jy op die saak gekry het na aanleiding van die onderhoud in Rapport nie. Enigeen sou dieselfde afleiding kon maak bloot op dit wat daar staan.

En dit is juis die punt van my bydrae: hoe weet ’n mens dat die inligting wat jy versprei en die perspektief wat jy daardeur skep, die ware en juiste een is?

In ons wêreld en tyd van oop, maklike en onmiddellike kommunikasie bly dit die uitdagende vraag. Ek sal die eerste een wees om te bely as hierdie skrywe van my, ten spyte van my beste bedoelings om die waarheid te dien, dalk nie te hulpvaardig was in die bereiking van daardie ideaal nie.

Maar, laat die gesprek voortgaan…

(Hiermee ook my toestemming vir plasing op die forum)

Dr Ben du Toit
Direkteur Kommunikasie: NG Kerk Sinode van Wes-en-Suid-Kaap
Redakteur Elektroniese Kommunikasie Algemene Sinode NG Kerk
Parlementêre Lessenaar Algemene Sinode NG Kerk
Privaatsak X8, Bellville, 7535
Tel: 021 957 7196; Faks: 021 957 7197
Sel: 0823 328 700
bendutoit@kaapkerk.co.za

* There is no limit to what you can achieve, if you don’t mind who gets the credit for it
* Men are only as great as they are kind!

[Ben]

VAN CHARLES AAN BEN EN SINODEVERTEENWOORDIGERS

Hallo Ben

Dankie vir jou skrywe en verduideliking. Ek, en daarmee saam die diversiteitsforum, wil uiteraard nie by die geskil betrokke raak nie. Ek het bloot oor relevante aspekte in die onderhoud met Anton verslag gedoen en ken hom nie.

Dit is goed dat jy jou kant van die saak ook op ’n beredeneerde manier stel. Ek herhaal graag die slot van my boodskap aan almal: “Mag die NGK se diversiteitsprojek en die forum help om alle verskille eerlik in die ope te bring. Die hele doel van ’n forum is om ander standpunte aan te hoor en nie ‘die ander’, selfs in eie geledere, te stereotipeer nie.” [ Ons kommentaar: Bedoel jy dit Charles? Ook die sogenaamde “fundamentaliste”? Of is jy net bereid om tot ’n punt vir hulle te luister?]

Die rol van kerkleiers was ook ter sprake en daaroor is inderdaad onafhanklik van Anton kritiese vrae in my skrywe gestel. Oor die kerkleiding het ek dit egter uitgespel: “Hierdie forum is van die begin af deur sowel fundamentaliste as linkse skeptici verdoem, maar van die vooraanstaande kerkleiers wat voortdurend lees en self gereageer het, was daar tot dusver geen negatiewe geluide nie. Inteendeel, hulle het ’n sterk ondersteunende rol gespeel.”

Daarvoor bedank ek jou graag by name, Ben, al is jy beskeie oor jou kernrol, en natuurlik die taakspanleier, Jan Botha, en Piet Strauss wat sy ondersteuning betuig het.

[ Ons kommentaar: Presies – Daniel was dus nie verkeerd oor Du Toit se groot rol nie. Nou verstaan mens ook hoekom Malan die bydrae van iemand wat Piet Strauss se verwerping van evolusie gekritiseer het, so vinnig verwyder het. Malan se verskoning vir die verwydering was dat dit beledigend was. Kyk egter na Malan se eie beledigings hieronder.]

Uit die ondervinding met die forum is dit baie duidelik dat die opsomming oor die redakteurskap van Kerkbode as “‘n warm stoel waar enige sweempie van redaksionele vryheid met ’n voorhamer deur die kerkleiers beteuel word”, hoogs eienaardig is.

Ek sou graag vir Anton wou vra: Watter “kerkleiers”? Hoe het hulle “beteuel”? Hoekom is die ondervinding met die forum totaal anders? Ons as “liberale humaniste” was immers van die begin af ’n doring in die vlees van die regses.

Die groot vraag is eintlik of hier nie ’n groepie verregse fundamentaliste besig is om in die naam van “die kerkleiding” ’n beplande en volgehoue aanslag op vrye meningsuiting in NGK-kringe te loods nie. Hulle het van alle kante op die forum probeer.

Ben, die einste ou kalant Daniel na wie jy verwys, het bv. ook op die forum gekyk wat hy kan regkry en so ver gegaan om op sy webwerf alle boodskappe wat van die forum verwyder is, in ’n lys te plaas! Dus ’n gratis alternatiewe argief. [Kyk hier.] Alle boodskappe word outomaties op die forum geplaas en eers agterna volgens baie duidelik uitgespelde maatstawwe soos veral in ons missie verwyder. By Kerkbode word dit eers voor plasing gekeur.

[ Ons kommentaar: Wat ’n bluf — sommige antwoorde op ander se vrae het Malan van sy Diversiteitsforum verwyder, maar die vrae het hy behou. En dit terwyl die antwoorde geensins beledigend was nie.]

My indruk is dat hierdie gekef die kerkleiers wat werklik tel, onaangeraak laat. Vir die diepte van besinning hoef ’n mens slegs na die reeks referate deur swaargewigte oor teologiese oorwegings rondom diversiteit op ons forum se dokumente te gaan kyk.

Dit is hoog tyd dat mens met name en feite begin kyk watter rasend swaaiende sterte die hond probeer rondswaai. Waarom kom hulle nie onder hulle eie name na vore en stel hulle standpunte in die openbaar nie? Wat het hulle egter wel reggekry deur bloot ’n skakel na Kletskerk van ons gedeelde NGK-webblad met hulle geblaf te laat verwyder? Enorme negatiewe publisiteit vir die kerk as “verkramptes” wat nie ander menings duld nie.

Ben, ek was werklik trots toe die kerkleiding onlangs verklaar het dat hulle teen die onderdrukking van spraak- en meningsvryheid is (en geen twyfel oor jou rol daarin nie). Dit is nou die tyd om dit in die praktyk waar te maak. Hoeveel Kerkbode-redakteurs moet nog swig voor die verbete regse gekef?

[ Ons kommentaar: Vergelyk laasgenoemde nou met Charles se eie (aanvanklike) verbod op ander mense te beledig op sy Diversiteitsforum. Die gedeelte “Hier is nie ruimte vir beledigende en rassistiese boodskappe nie. Bydraes moet in die praktyk toon hoe daar ten spyte van kritiek verdraagsaam en met respek met “die ander” gekommunikeer kan word.” is later uit die D-forum se visie en missie verwyder.]

‘n Wyse ou professor-mentor van my wat baie kritiek oor sy onverskrokkenheid gekry het, het met elke verwysing daarna laggend gesê: “Let the dogs bark, the caravan moves on.”

Ons kerk met haar dalende lidmaatgetalle moet juis na almal op voetsoolvlak luister EN terugvoer gee. Maar ons kan nie op ’n gekef in die wind reageer nie, ons moet aanbeweeg.

Ben, ek stuur jou boodskap en die antwoord ook na ander e-posgroepe en plaas dit op die forum.

[Charles, as webbestuurder]

VAN CHARLES AAN BEN EN SINODEVERTEENWOORDIGERS

Laat ek begin deur te antwoord dat ek nou dik is om woorde ter wille van ver-regses te tel en ek gaan dit nie doen nie. Hierdie is my persoonlike mening, nie die webbestuurder s’n nie.

Ek stem met die hele strekking van jou brief saam, maar eers ’n belangrike regstelling. Ek het my sin oor die regse fundamentaliste begin met: “Die groot vraag is…” of hulle ’n beplande aanslag volhou. Verder, of hulle “in die naam van die kerkleiding” optree. My punt is immers dat ek glad nie van sulke regse geluide deur leiers bewus is nie.

Anton, wat ook hierdie skrywes ontvang, sou moontlik kon sê wie hom oor regse kerkleiers laat veralgemeen. Ek kan nie een naam noem nie, maar ek is (gelukkig!) buite alle kerklike strukture.

Die fundamentalitiese aanslag op die forum was van die begin af daar vir almal om te lees, maar dit was geensins deur “leiers” nie. Hulle het wel saamgekliek en mekaar ondersteun. Iemand soos Daniel het sy makkers wat ook nou al welbekend is; op die forum is daar bv. minagtend na “Hennie Sesdag” verwys omdat hy ’n ding oor die sesdaagse skeppingstydperk het en mense hom nou al van ander forums af ken.

[ Ons kommentaar: Vergelyk weereens laasgenoemde met Charles se eie aanvanklike verbod op ander mense te beledig op sy Diversiteitsforum.]

Sommige van hulle is wel predikante, maar dit maak hulle in my oë glad nie deel van ’n noemenswaardige “kerkleiding” nie. Kan ouderlinge en diakens nou ook begin om Kerkbode as “leiers” aan te val?

Ben, laat ons aanhou veg vir die reg van almal, ook fundamentaliste en agnostici, om hulle standpunte te stel – dit gebeur op die oomblik op die forum. Solank ons die koring van die kaf kan skei wat besware betref.

As die beswaardes hulle sin kon kry, ook met woedende uitskelskrywes aan my persoonlik, moes die diversiteitsforum lankal die opdrag van die werklike kerkleiers gekry het: houd den bek. Iemand wat al die slagoffer van viktimisasie was, het my pas na hierdie briefwisseling begin het, gewaarsku dat ek die volgende een vir die brandstapel is.

Ek gaan nie sleg slaap nie. As ek nie die vuurhoutjie kan doodblaas nie, sal ’n ware leier dit doen. Ek wag maar te graag vir die onbekende pirotegniek van die “kerklike” parapolitiek. Geen regse gaan eers my en my medegelowiges se hare laat skroei nie. Nie solank ons Christelike naasteliefde as onverbiddelike rigsnoer naastreef nie.

Die ver-regses wat hierdie stelling op die forum lees, kan dit maar gerus as ’n blatante uitdaging lees. Ons skrik lankal nie meer vir julle kabaal en gebare nie. Ons luister graag wat julle sê, maar moenie verwag julle knaende manewales gaan die heeltyd beantwoord word nie. Julle kan nie die NGK met sy trotse tradisie van geregtigheid, vrede en naasbestaan gyselaar hou asof julle dreigemente dat ’n bom onder Kerkbode gaan ontplof, ons almal vir skuiling te laat skarrel nie.

Ben, jy weet wat maar te goed, en skryf dit, wat die ontsaglike mag van veral die totaal onbeheerbare elektroniese media soos die internet is. Noem slegs twee sake: tydskrifte in Woolies en “grapmaker” Casper de Vries. Asof dit die belangrikste sake vir die NGK is om in die lig van kwynende getalle oor gal af te gaan! Maar dit bewys die mag van Christene buite magstrukture om hulle mening te laat tel. Hoe meer van sulke voorbeelde, hoe beter.

Ben, jy verwys tereg na die bevryde “oop gesprek” oor die NGK. Wonderlik! Jou voorbeelde sê alles.

Demokrasie, in hierdie geval kerklik van aard, is volledig aan die werk as elke lidmaat met toegang tot die internet haar of sy mening letterlik oor die wêreld heen kan stuur. “Die kerk” is ons, nie die formele strukture van die NGK nie. Dit saal ons as lesers en lidmate egter ook met ’n verantwoordelikheid op.

Ons kan nie bloot “saam lawaai” sonder om van die feite seker te maak en goed oor ons Christelike grondslae en prioriteite te besin nie. Ons kan nie bloot andersdenkendes as die negatiewe “ander” afmaak sonder om behoorlik te luister nie. In die mate wat ek dit wel gedoen het, vra ek om verskoning, ook namens die forumbestuur. Ons leef in die seisoen van LUISTER. Laat ons dit minstens doen.

[Charles, as Charles]

VAN ANTON AAN CHARLES EN SINODEVERTEENWOORDIGERS

Charles (aangename kennis)

Op ’n manier is die kerk die mees geveinsde organisasie van of in die samelewing. Dit waarvan ons die wereld daar buite beskuldig, dat dit ’n spel van mag en beheer, is ook van ons waar. Die enigste verskil is dat ons vir mense preek om nie so te wees nie. Dit maak ons so geveins.

Laat ek eerstens oor die onderhoud met Hanli sê, ek is net oor een ding spyt en dit is dat daar nie geskryf staan sommige kerkleiers nie. Want inderdaad is die meeste kerkleiers wonderlike mense met groot opregtheid. Waar daar dan wel geskryf staan kerkleiers, dan sluit ek ook myself in. Ek is aan alles wat onder kerkleiers bedoel word, ewe skuldig. En ek het as leier baie oordeelsfoute gemaak. Op baie vlakke van my werk en verhoudings. Dit is maar hoe dit met my gebeur het, en wat ek as gebroke mens gepleeg het.

Om redakteur van Kerkbode te wees is om jou rug geweldig oop te maak. As ek dit geweet het toe ek nog die ambisie daarvoor gehad het, sou ek dit nooit gedoen het nie. Jou rug is oop vir die onderskeie teologiese en politieke strome van lidmate, wat reageer op dit wat hulle lees. Jou rug is ook oop vir mede-kerkleiers, wat elkeen sy opinie gehandhaaf wil sien. En soms, net soms, voel jy aan die mede-kerleiers is nie met die opinies besig nie, hulle is met jou besig. Ek was regtig naïef om te dink daar is ’n span van mense in die leierskorps wat saam met jou wil werk in belang van die kerk. Die ontnugtering het my geleidelik getref. Dit is waarskynlik die eensaamste plek in die kerk, redakteur van Kerkbode. Party sal sê ek het self veroorsaak. Dalk?

(. . .)

In die vroee tagtigs was ek ’n vurige voorstander van kerkeenheid. ’n Polstu-man. Op daardie stadium sou die kerkeenheid vir die land met sy apartheidsbeleid nie net baie beteken het nie, dit sou die NG Kerk binnelands en buitelands geloofwaardig gemaak het. Maar die politiek het die kerk vooruit-gegaan, en die kerk is nog op dieselfde plek. As ons nou verenig, gaan dit nie meer dieselfde impak hê of verskil maak nie. Braam-hulle se pogings is prysenswaardig, maar die mense aan wie hulle dit nou probeer verkoop is bang, want hulle kultuur is op talle vlakke onder druk.

Een van die probleme waarom ons nooit die eenheid kon bewerkstellig nie, myns insiens, is omdat die historiese verbintenis van die NG familie nie duidelik genoeg gekommunikeer is met lidmate nie. Lidmate het meesal ’n gevoel gehad daar is ’n politieke motief agter alles, en daarvoor word die Bybel gebruik. En of dit nou ’n persepsie is of nie, vir hulle is Belhar ’n politieke strydskrif. Dit gaan in die volgende paar jaar moeilik aanvaar word as ’n versoeningsdokument, selfs al is Belhar in die hemel geskryf. Die onlangse opname was ’n skok vir almal, kwalitatief of kwantitatief. Ek het ongelukkig die kwalitatiewe definisie gemis. Indien ons nie die gevoel van ons kerk se mense respekteer nie, gaan ons teen donderweer vasloop.

Ben skryf dat my beswaar oor kerkleiers wat my muilband …. doodeenvoudig nie waar is nie. Dalk het hy vergeet dat hy een van die ouens was wat my ernstig vermaan het oor die saamwoon-nuusberig wat aan die einde van 2009 op die voorblad van Kerkbode verskyn het. Sy woorde was dat die berig die kerk baie skade gedoen het. Ek was verstom om dit van hom te hoor. Sy boek oor postmodernisme was ’n baanbreker om ’n nuwe kultuur, wat ook ’n impak op die kerk gaan hê, te verduidelik. [ Ons kommentaar: En dan dink Ben dat hy nie as liberalis klassifiseer nie.] Ek moet sê dat ek sy vemaning nou nog nie verstaan nie? Omdat ek dit nie van hom verwag het nie, het sy houding my wantrouig gemaak. By dieselfde geleentheid het die ander kerkleier vir my gesê ek moet dalk net eers die moeilike goed na hom en Ben stuur voordat ek dit publiseer.

So is ek ook vermaan oor die spotprent en hoofartikel oor die Doppers wat opnuut hulle vroue die ampte ontsê het. Ek het as redakteur en as kerkleier gedink as ons nie weer bevestig dat ons nou anders dink oor vroue nie, dan kondoneer ons maar in die stilligheid die Doppers se besluit.

Ek kry die gevoel, ook in Ben se skrywe, daar word ’n soort ophang geleentheid vir my beplan. “Die feite sal nog aan die lig kom.” Ruik ons die mag? Ek is bereid om alle verantwoordelikheid te neem vir wat ek verkeerd gedoen het. Ek mag dalk brand, maar ek sien hoe brand die kerk ook. Probleem is die kerk brand al lankal, en dit gaan nie baie help om een boodskapper te uit die pad te kry nie.

Ek hou regtig nie van die twyfel wat Ben oor my lojaliteit uitspreek nie. Ek dink ons het mekaar nodig, bitter nodig ter wille van die kerk. En ons sal almal nie net ’n gesindheidsverandering moet ondergaan nie, ook ’n styl-verandering. Die NG kerk het wonderlike mense. Leiers en lidmate. Tradisies en kwaliteite. Ek sal aan hulle lojaal bly solank ek leef. En aan Kerkbode.

Ons weet almal instinktief dat ons is in die moeilikheid is. Sekularisasie vreet aan ons. Ons geloofwaardigheid is op talle plekke onder verdenking. As ons nie aandag gaan gee aan die noodsaaklike goed om ons geloofwaardigheid te bou en ons beeld te verbeter nie, sink ons net dieper na die vergetelheid weg. Ons as leiers moet voor stap as dit kom by eerlikheid, respek, naastediens, en onderlinge versorging.

Ons sal moet ondertoe. Ons sal saam met die lidmate moet loop, en ons neuse uit die lug kry. Dit is al hoe dit kan werk, want hulle is die kerk. Ons gaan nog hoogdawerend die antwoorde gee, en agterkom hulle is lankal weg.

Anton

[Ons kommentaar: Dit lyk of hier tussen bogenoemde en onderstaande kommunikasie van Charles na Anton uitgelaat is. Het Charles vir Anton nog meer probeer lei dat Anton die rede vir sy bedanking aan “ver-regse fundamentaliste” moet probeer toeskryf? Die volgorde waarin hierdie gedeeltes op die Diversiteitsforum verskyn, verbloem hierdie gaping in die kommunikasie.]

VAN ANTON AAN CHARLES MALAN

Die “regse” ouens wat die diversiteitsforum teiken, is in hoofsaak dieselfde ouens wat ons ook geteiken het. Ek sou hulle kon beskryf as gegote fundamentaliste. Hulle het nie die vermoë om te luister nie, en dit maak dit moeilik. Dit lyk my hulle beweeg van een kring na ’n ander kring. Ek het hulle standpunte altyd toegelaat behalwe waar hulle te persoonlik geword het. Hulle energie raak mettertyd op, soos ek dink met meeste mense gebeur wat hulle lewe op fundamentalisme bou.

Dit was vir my belangrik om alle stemme te akkommodeer. Selfs die wat seermaak. Dit is al hoe ek kon verstaan hoe mense dink.

[Anton]

VAN CHARLES AAN ANTON

Natuurlik moet ons alle stemme minstens aanvanklik akkommodeer. Dit is tog jammer dat die groter “kerkleiding” volgens die Rapport-onderhoud onder skoot was asof hulle, of sommige van hulle, teen jou as redakteur saamgespan het. In jou nuutste boodskap verwys jy egter na die aanvallers, ook van die diversiteitsforum, as “gegote fundamentaliste” – wat heeltemal ’n perd van ’n ander kleur is.

Mens kan heelwat meer van hierdie verbete vegters te wete kom deur ’n insetsel op Kletskerk: “‘n Groepie godsdienstig-ver-regse fundamentaliste in die NG Kerk het ʼn boekie saamgeflans waarin hulle nou die NG Kerk op sy herrie wil gee. Hulle meen daar is ʼn Trojaanse perd in die NG Kerk. Die titel van die boekie is die Trojaanse perd in die NG Kerk en die subtitel is die Kanker van Evolusie en Liberalisme.” Lees daaroor en bestel sommer die boekie by: Kletskerk

Daar is ’n hele lysie van die bekendste fundamentaliste soos Daniel met sy eie webwerf by die webblad. Die twee samestellers, doktor Henrietta Klaasing en doktor Hennie (Sesdag) Mouton, is lank reeds op die forum bekend. Doktor Klaasing het inderdaad so beredeneerd oor diversiteitsake op die forum geskryf en aangehaal dat ek haar selfs gevra het om op ’n vaste grondslag daaroor te skryf. Toe skrik sy groot en raak vinnig weg.

[ Ons kommentaar: Hierdie is eenvoudig ’n verkleinerende wanvoorstelling — dr. Klaasing het per e-pos-korrespondensie aan Charles Malan verduidelik dat sy nie enige spesiale titel of werk van hom wil hê nie omdat sy nie met sy sienings saamstem nie. Hy voel waarskynlik in die gesig gevat en het daarom die “skrik sy groot” uitgedink.]

Anton, dit bly vir my ’n raaisel hoe jy jou deur sulke mense kon laat uitdryf. Naas Ben du Toit, wat jy oor ’n enkele omstrede saak aanhaal, is slegs enkele naamlose “kerkleiers” ter sprake. Ek herhaal dat ek in die “warm stoel” van webbestuurder van die diversiteitsforum nog geen enkele negatiewe woord van ’n kerkleier gehoor het nie. Dit sluit natuurlik nie die genoemde skrifgeleerdes in nie, want hulle is beslis nie die meerderheid lidmate se “kerkleiers” nie.

Vir wie moet ons nou eintlik skrik en weghol as ons op Christus se pad van naasteliefde is?”.

[Ons kommentaar: Charles Malan se bewering dat “ons op Christus se pad van naasteliefde is” ontplof bietjie in sy gesig soos hierbo uit sy eie skrywes blyk.]

[Charles]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui