Verby ons gedagtes

Uitgewer: Bybel-Media, 2021

Willem Nicol se nuutste boek, Verby ons gedagtes: Oop vir verrassende ontmoetings met God, is op die rakke en ’n heerlike feeslees lê hiermee voor! Dit is ’n “volwasse” boek: die geboorte daarvan het bykans 20 jaar tevore reeds in Nicol se gedagtes plaasgevind. Máár, om oor God te skryf, vra geloofsvolwassenheid. Ek glo dat dit ook hulle is wat erns wil maak met geloofsverdieping, wat dié boek sal wil lees.

Ons het almal vrae oor die lewe. Só ook het almal prentjies van God. Nicol “dissekteer” (met die skalpel van annekdotes uit sy eie lewe, sowel as voorbeelde uit jare se geloofsbegeleiding) die sogenaamde “gesonde” van die “ongesonde” prentjies om op dié manier ook by vernuwende insig oor ons lewe te kom.

’n Rasionele verstaan van God is aan Protestante goed bekend. Tog wag “God, die ontwykende Teenwoordigheid” (bl 23) om ons “anderkant verstaan” ook te ontmoet. Hoe verarm ons onsself nie as ons nie die volle moontlikheid van intimiteit met God wil omhels nie!

Koop boek hier.

Die boek bestaan uit ses hoofstukke en ’n stilword-bylaag. Elke hoofstuk bespreek ’n spesifieke Godsprentjie en eindig met riglyne vir nadenke. Ons “prentjies” van God staan nooit in isolasie van ons gemeenskap nie; daarom is hierdie ’n besonderse projek: dit is ook as ’n 12-weke gids vir Bybelstudie-/gespreksgroepe beskikbaar.

Verby ons gedagtes lees maklik, alhoewel die eenvoud van die skryfstyl die lesers nie moet mislei nie. Dit is ’n poëtiese kunswerk met van die mooiste gebede in die blaaie ingevleg, en die werk van ’n uiters belese teoloog.

Die boek is beskikbaar by Bybel-Media, saam met ’n gespreksgids vir groepe.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui