2 Timoteus

Kyk ook:

Die volgende is geneem uit Leer en Beleef, Vlak 1 – Leerboek vir katkisante van die Evangelies Gereformeerde kerk van Suid-Afrika.

*******

In hierdie brief van Paulus val die klem op heiligmaking, asook ernstige vermanings dat die groeiende kerk teen verval moet waak. Die verdorwenheid van die laaste dae word ook sterk beklemtoon.

1 Inleiding

Kort voor Paulus se marteldood was hy weer in die tronk in Rome. Hier het hy sy laaste sendbrief geskryf, nl. die tweede brief aan Timótheūs.

Die bewegings tussen Paulus se eerste en tweede gevangeneming was die volgende: Ná sy eerste brief aan Timótheüs is hy deur Troas terug na Éfese. In Troas het hy sy mantel en boeke by Carpus gelaat, soos in hoofstuk 4:13 vermeld. Van Éfese af is hy na Kreta, en ná sy terugkeer uit Kreta skryf hy sy brief aan Titus, wat in Kreta agtergebly het. Van Éfese af is hy na Miléte, daarna na Korinthe (4:20) en van daar af deur Nikopolis na Rome (Tit 3:12).

Timótheüs was steeds in Éfese, getrou besig om die opdragte wat Paulus hom in sy eerste brief gegee het, uit te voer. Dat hy nog steeds in Efese was toe hy die tweede brief ontvang het, kan afgelei word van die name wat in die brief genoem word, wat Paulus ook in sy eerste brief genoem het. Dié persone was waarskynlik lidmate van die gemeente aan wie Paulus telkens groete laat weet het.

In hierdie stadium van Paulus se lewe was hy ‘n eensame man. Behalwe die werksverpligtinge wat skeiding tussen hom en van sy medewerkers gebring het, het baie ander mense hom verwerp en die rug op hom gekeer (1:15 en 4:9-12).

2 Doel en tema van die brief

Paulus het geweet dat die tyd van sy heengaan naby was, en hy het verwag dat hy ‘n martelaarsdood sou sterf. Hy het in hierdie tyd ‘n diepe behoefte ervaar om die geliefde Timótheüs vir oulaas te sien (lees hfst. 1:4; 4:9 en 4:21). Omdat hy onseker was of hulle mekaar ooit weer sou sien, het hy hierdie brief met sy finale opdragte en bemoedigings geskryf.

Daar is ‘n opvallende verskil tussen die eerste en tweede brief aan Timótheüs. In die eerste brief gaan dit hoofsaaklik om die goeie orde in die gemeente. In die tweede brief lees ons nie weer hiervan nie, maar wel van ‘n groot huis waarin daar voorwerpe tot eer en oneer voorkom (2:19-21).

Die klem in die brief val op heiligmaking en waaksaamheid teen geestelike en morele verval. In hoofstuk 3:1-5 word negentien aspekte van die geweldige morele verval van die laaste dae genoem. In hoofstuk 4:2-3 word ernstige geestelike verval onder predikers én lidmate beskryf. Die fabels wat in die plek van die waarheid verkondig sal word, is mites, leuens, of verdigsels. Die ware evangelie van Jesus Christus sal dus deur wanvoorstellings en afgewaterde, populêre voorstellings daarvan vervang word. Hierdeur sal mense nie gered kan word nie. Die antwoord op hierdie dwalinge is die eerbiediging en handhawing van die gesonde Bybelse leer (3:16-17). Let wel: die hele Bybel is Goddelik in oorsprong!

Paulus wys daarop dat die verkondiging en uitleef van die ware evangelie stryd en vervolging meebring (4:5). Christene moet egter nie hierdeur ontmoedig word nie, want ons kry nie ons beloning vir ons arbeid hier op aarde nie eers in die hemel wanneer ons by Christus sal wees (4:7-8).

3 Indeling

Die hoofstukindeling van die brief is soos volg:

  • Hoofstuk 1 bevat die liefdevolle begroeting van Paulus teenoor Timótheüs, en aanmoedigings om vas te staan in die leer wat hy van hom ontvang het.
  • Hoofstuk 2 is ‘n vermaning om sterk te wees en te midde van teenkanting en teleurstellings te volhard. Verder word ‘n beskry- wing gegee van wat gebeur wanneer mense van die waarheid afdwaal.
  • Hoofstuk 3 gee ‘n beskrywing van die afval van die laaste dae net voor die wederkoms van Jesus, asook ‘n vermaning om in die gesonde Bybelse leer te volhard.
  • Hoofstuk 4 bevat Paulus se laaste woorde. Hy wys op die noodsaaklikheid van volharding tot die einde toe, asook op Jesus se getrouheid teenoor hom.

Vrae

1. Noem drie plekke wat Paulus tussen sy eerste en tweede gevangeneming besoek het.

2. In watter gemeente was Timotheüs die geestelike leier, en hoe weet ons dat hy nog steeds hier was toe hy sy tweede brief ontvang het?

3. Noem tien voorbeelde van morele verval.

4. Wat is die gevolge daarvan as fabels in die plek van die ware evangelie verkondig word?

5. Memoriseer 2 Timótheüs 3:16-17.

6. In watter emosionele stemming was Paulus toe hy hierdie brief geskryf het, en waarom was dit so?

7. Waarna het Paulus aan die einde van sy aardse lewe uitgesien?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui