Uitgeskopte Dopper-gemeente weer deel van kerkfamilie

*******

Uitgeskopte Dopper-gemeente weer deel van kerkfamilie | Netwerk24

Isabel Venter

12 Mei 2021

Die stof het nog nie heeltemal gaan lê oor gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) se besluit om vroue as ouderlinge toe te laat nie.

Die Krugersdorp-gemeente, wat in Maart een van die eerstes geword het om hieroor buite kerkverband geplaas te word, is nou weer deel van die GKSA se familie van kerke.

In ’n verklaring sê die gemeente: “Hiermee word bekend gemaak dat klassis Groter Johannesburg op sy vergadering van 8 Mei met die advies van die deputate van die streeksinode Randvaal, eenparig besluit het om die Gereformeerde kerk Krugersdorp as lid van klassis Groter Johannesburg en daarmee as lid van die kerkverband op te neem”.

Cassie Aucamp, GKSA-woordvoerder, het Donderdag bevestig dat dit inderdaad so is dat die Krugersdorp-gemeente weer deel van die GKSA se kerkverband is.

Netwerk24 het vroeër berig oor die Wes-Rand-klassis wat nie saamgestem het met Krugersdorp se besluit om vroue as ouderlinge aan te stel nie.

Die GKSA het die kwessie van die vrou in die besondere ampte (predikant en ouderling) in 1988 vir die eerste keer bespreek. Op dié sinode en die sinode in 2009 is daar besluit dat vroue nie die ampte mag beklee nie.

In 2018, op ’n buitengewone spesiale sinode, is daar besluit dat gemeentes self kan besluit of hulle vroue as diakens wil aanstel, maar nie as ouderling of predikant nie (in ooreenstemming met die 2009-besluit).

Verskeie gemeentes, soos die Krugersdorp-gemeente, het sedertdien egter voortgegaan om vroue as ouderlinge toe te laat.

Die gemeente se appèl teen die Wes-Rand-klassis se standpunt moet nog aangehoor word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui