Dopper-drama: Storm oor vroue-ouderlinge

*******

Dopper-drama: Storm oor vroue-ouderlinge | Netwerk24

Isabel Venter

19 Maart 2021

’n Storm het losgebars binne die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) oor gemeentes se besluit om vroue as ouderlinge toe te laat.

Die Krugersdorp-gemeente het nou een van die eerste gemeentes geword om buite kerkverband geplaas te word oor sy vroue-ouderlinge.

Die Wes-Rand-klassis (vergadering van plaaslike gemeentes) het op 13 Maart aangekondig dat die gemeente in wese met hul optrede buite kerkverband geplaas is, aldus die gemeente.

In ’n verklaring sê die Krugersdorp-gemeente: “Ons is daarom nie meer welkom om saam met hulle (Wes-Rand-klassis) te vergader nie en die Gereformeerde Kerk Krugersdorp en sy lidmate word nie meer as formele gereformeerde medegelowiges beskou nie”.

Volgens die gemeente het die klassis nie saamgestem met die kerk se besluit om vroue as ouderlinge aan te stel nie.

Die GKSA het die kwessie van die vrou in die besondere ampte (predikant en ouderling) in 1988 vir die eerste keer bespreek. Op dié sinode en die sinode in 2009 is daar besluit dat vroue nie dié ampte mag beklee nie.

Later is ’n besluit geneem dat vroue wel diakens kan wees. In 2018, tydens ’n buitengewone spesiale sinode, is daar besluit dat gemeentes self kan besluit of hulle vroue as diakens wil aanstel, maar nie vir die amp van ouderling of predikant nie (in ooreenstemming met die 2009-besluit).

Tydens ’n besluit op ’n buitengewone sinode in 2018 is dié besluit bekragtig en het die GKSA dit as afgehandel beskou.

Verskeie gemeentes het sedertdien beswaar probeer aanteken, maar tot dusver nog onsuksesvol.

Intussen was die Krugersdorp-gemeente een van ’n handjievol gemeentes wat ná die 2018-besluit voortgegaan het om vroue as ouderlinge toe te laat.

“Dit is verkeerd om die saak van die vrou in die amp tot saligmakende betekenis te verhef en daarvolgens mense toegang tot die kerk van Jesus, soos deur die GKSA bely, te weier,” sê die gemeente in sy verklaring.

Die gemeente sal by die eerskomende vergadering van die Randvaal-streeksinode teen die besluit van die klassis beswaar maak. Verder sal die gemeente ook die uitnodiging van die Groter Johannesburg-klassis aanvaar om daar in te skakel.

Die GKSA kon teen Vrydag nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

Vroue bring nuwe insigte

Greet Frank (70) is een van die vyf ouderlinge wat tans in die Krugersdorp-gemeente diens doen.

“Ek is seker daar is heelwat vroue in van ons ander gemeentes wat graag die geleentheid sal wil hê om hul roeping uit te leef,” sê Frank.

Sy is self dankbaar teenoor haar gemeente vir die besluit om vroue as ouderlinge toe te laat.

Vir haar is dit ook ’n geleentheid om geestelik te groei.

“Ek het ook baie keer gedink ’n vrou kan ’n bietjie meer intiem gesels met ’n vrou,” sê Frank.

Uit Frank se ervaring het sy geleer dat die vroue nuwe insigte en ander benaderings het.

Leenster Eloff (63), wat ook een van die eerste vroue was om ’n ouderling te word, het die besluit verwelkom. Die tyd is min en die werk staan nie stil in die kerk nie, sê sy.

“Wat gaan ek eendag doen, vir die Here sê ek kon nie dien nie, want ek is ’n vrou?” sê Eloff

“Ons is vyf vroue in die ouderlingamp en ons geniet ons werk. Dit is lekker om die Here te kan dien in jou gemeente.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui