Skrif word aangepas by menslike begeertes

********

Skrif word aangepas by menslike begeertes | Netwerk24

Ds. Pieter Prinsloo, Ng Kerk Kroonstad­-Wes (Dolerend)

04 November 2021

Neels Jackson reageer in sy brief “Tyd dat dolerendes gay mense se verhale hoor” (25.10) ongelukkig net op een voorbeeld wat ek gebruik om aan te toon dat daar ontkenning van Skrifgesag in die NG Kerk is.

Ek hoor graag wat hy dink van dosente wat die Bybel se gesag ondermyn deur te beweer dat die Bybel slegs “mensewoorde oor God” is.

Jackson se brief bevestig ook my stelling dat liberales die Skrif aanpas by menslike begeertes eerder as om mense op te roep tot ’n nuwe lewe in Christus. Gays se worstelverhale van smagting na die verbode vrug laat hom die Bybel aanpas volgens hul begeertes. Gevolglik bevind hy dat die huwelik ’n genesingsruimte vir alleenlopers is en dat die huwelik niks met man en vrou te doen het nie. Hy bring hierdie aanname spitsvondig in verband met Jesus se woorde dat die Sabbat vir die mens is en nie andersom nie. Jackson lei af dat die Fariseërs te streng was oor die Sabbat en hy maak die kreatiewe afleiding dat dolerendes te streng oor die huwelik is en daarom teen God se wil leef omdat hul streng opvatting van die huwelik menslike geluk ontneem.

Volgens Jackson se soort huweliksteologie sou Jesus as volg moes reageer oor die moontlikheid van egskeiding: ’n Liefdevolle Jesus sou waarsku dat huweliksgebondenheid minder belangrik as menslike geluk is; Hy sou waarsku teen ’n streng egskeidingsverbod wat mense in saai huwelike kan ontneem van die wonder van geluk en selfverwesenliking in nuwe lewensverbintenisse.

Maar is dit wat Jesus leer?

Jesus is veel strénger as die strengste Fariseërs in Matt. 19 as Hy leer dat dit wat God saamgevoeg het, deur geen mens geskei kan word nie.

Jackson se eensydige gerigtheid op menslike geluk maak dat hy die liefdesbeginsel verabsoluteer ten koste van duidelike Koninkryksbeginsels, soos wedergeboorte en selfkruisiging. Menslike selfverwesenliking en die uitleef van aangebore vleeslike begeertes is daarom allesbepalend in sy huweliksteologie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui