‘Terug na Bybel’ is enigste geestelike behoud

Die volgende artikel is geskryf na aanleiding van die huidige debat in die media oor die dolerende gemeentes in die NG Kerk.

******

‘Terug na Bybel’ is enigste geestelike behoud | Netwerk24

Deur Louis Smith, Strand

25 Oktober 2021

Godsdiens en geloof lyk dit my het hedendaags ’n gebruiksartikel geraak, en elkeen pas dit toe soos wat dit vir hom of haar gerieflik is. Die Bybel leer ons egter dat geloof ’n prysgawe van jouself is en absolute fokus is op die God van die Bybel aan wie ons al die eer, lof en aanbidding moet bring.

Weens die sondeval het die natuurlike verhouding tussen God en mens gebroke geraak, en dit was alleen die bloedoffer van Jesus Christus aan die kruis wat daardie verhouding weer kon herstel.

Die Bybel is God se onfeilbare, ewige en onveranderlike Woord, en buite die raamwerk wat dit vir ons lewe stel, mag ons nie beweeg nie (lees 2 Petrus 1:3-20).

Dit is juis hierdie saak wat vir dolerende gemeentes die kernsaak is. Die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk volg ’n benadering dat die Bybel mense se woorde oor God is wat aanpasbaar is volgens die omstandighede van die tyd waarin ons leef, en daarom is afwykende stemme aanvaarbaar binne die raamwerk van diversiteit.

Die standpunt dat daar verskillende interpretasies van Bybeltekste kan wees, kan nie sonder meer aanvaar word nie. Dit is ’n teelaarde vir dwaallering en bring baie onsekerheid by lidmate. Die AS se besluit oor selfdegeslagverhoudings kan nie Bybels regverdig word nie. Almal is welkom in die Kerk van Jesus Christus, maar onder die gesag van Sy Woord.

Daarom die dolerendes se oproep “terug na die Bybel” – dit is ons enigste geestelike behoud vir nou en die toekoms.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui