Drukgroep se styl pas nie by NGK se werkwyse

Kyk ook:

Hier volg ’n brief van oud-moderator, Piet Strauss.

********

Drukgroep se styl pas nie by NGK se werkwyse | Netwerk24

18 Oktober 2019

Deur Piet Strauss, Kimberley

Oor Daan Nortier van Bloemfontein se brief “Twis laat NG Kerk op wankelende bene stotter” (17.10):

Dit is ’n uitstekende brief.

Hy het dit oor die sg. LGBTI-faksie in die NG Kerk wat, met ’n “onverdunde humanisme” en styl van oorreding wat nie pas by die kerk as – so glo ons – die gemeenskap van die gelowiges nie, ’n verkleinde Algemene Sinode probeer manipuleer om hul besluit oor gays te neem.

’n Deel van die besluit is die Algemene Sinode se oproep dat kerkmense erns maak met die Woord van God. Die besluit van die Sinode self bevat egter geen spoor hiervan nie. Die indruk is eerder dat Daan reg is: Dit gaan oor die SA Grondwet van 1996, eerder as die Bybel.

Dieselfde faksie sleep die kerk hof toe teen R3 miljoen-dankoffergeld. Sonder om ’n traan weg te pink. Aan die kerk se styl om met die Bybelse boodskap te oorreed in plaas van te oordonder, het hulle geen erg nie. In EFF-styl word argumente met bewoorde T-hempies onderstreep.

Ek hoor ’n Nederlander sê: “Wat een verzakte sinodale moraal!”

Sedert 2015 verdiep elke Algemene Sinode met weersprekende besluite die tragedie van hierdie debat in die NG Kerk.

Die Sinode van 2019 bepleit ’n inklusiewe gesprek in NG geledere oor die saak, maar is hierdie weg deeglik benut voordat die hantering van die saak in 2015 ontspoor het?

Dit maak seer as ’n waarnemer die stelling versprei dat dit tragies is dat die NG Kerk in ’n “totale grap” ontaard het.

Selfs eie lidmate neem die Algemene Sinode nie ernstig op nie.

Hoe minder Algemene Sinodes hoe minder alarms in die kerk. Of, ons bly as gemeente nog kerk ten spyte van die Algemene Sinode . . .

In hierdie omstandighede kry woorde van die Algemene Sinode soos “erns met die Woord”, “inklusief en divers”, “ ’n nederige diepe luister na mekaar”, “gesprekruimtes” en “geloofsonderskeidende gesprekke” ’n holle klank.

Moet besluite tot elke prys geneem word as verskille van hierdie omvang na bewering so wyd en emosioneel so diep voorkom?

Dit is eie aan ’n gereformeerde kerk om te reformeer.

Daar’s werk! (Strauss is ’n voormalige moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode.)

1 thought on “Drukgroep se styl pas nie by NGK se werkwyse”

  1. Al het prof Piet Strauss in die verlede nagelaat om sterk op te tree teen verkeerde denkwyses in die tyd toe hy moderator was, is ’n mens dankbaar dat hy nou wel sy stem laat hoor.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui