Styl

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in April 2006 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Ek en Amor het ’n week af wat gelede koffie gedrink by die Goud en Diamante koffieplek op Heidelberg. Die gebou is seker meer as 80 jaar oud. Ek het my weereens verstom oor die detail waarmee die bouers destyds hulle vakmanskap uitgeleef het. Ek het vir Amor gesê die mense van destyds het darem maar “styl” gehad.

Wat is styl nou eintlik? Die koningin van Skeba het haar verwonder oor Salomo se styl. Sy was baie beïndruk met die tempel wat hy gebou het, die geregte op sy tafel, die manier waarop sy amptenare aangesit het, die bediening deur sy tafelbediendes, hulle monderings, sy skinkers en die optog wanneer hy na die huis van die Here gegaan het. Dit word in die Bybel die wysheid van Salomo genoem. Ek glo ’n Christen behoort hom ook te beywer vir styl, omdat ons na die beeld van God gemaak is. Ons behoort aan ’n Koning en dit moet aan ons gesien kan word. Dit is tot verheerliking van God as ons styl het.

Wanneer kry jy styl in jou lewe? Ek dink aan die volgende:

Die Engelse sê “A thing of beauty is a joy for ever.” Hou dit in gedagte as jy iets koop of iets maak. Styl kos iets. Dinge wat haastig aanmekaar geslaan is het gewoonlik nie styl nie. Styl vra volharding en dissipline. Ek het gekyk na die houtwerk van die gebou daar in Heidelberg. Die skrynwerker het die moeite gedoen om met sy eenvoudige gereedskap van destyds patrone in die hout te maak. Dit het tyd en sweet gekos, maar sy werk word tot vandag bewonder en bewaar.

Styl het nie net te doen met dit wat jy maak nie, maar dit het ook te doen met die wyse waarop jy jou besittings in stand hou. Moenie ’n karavaan koop as jy nie beplan om vir hom ’n afdak te maak nie. Moenie vir jou ’n kar koop as jy nie bereid is om hom te laat diens of te verseker nie. Moenie gereedskap koop sonder om ook ’n bêreplek daarvoor te maak nie.

Styl het te doen met netheid. Dit vra nogal iets. My skoonma het as weduwee, elke Saterdagoggend vroeg opgestaan en die tuin skoongemaak en haar kar gewas. Sy het ook ’n koek gebak vir Sondag. En dan as sy met alles klaar was het sy haarself gebad en ’n boek gelees. Toe ek in 1955 begin skoolgaan het, moes al die kinders hulle handjies op die lessenaar sit dat die juffrou kon sien of almal se naels skoon is. Toe ek in 1967 in die weermag was, moes al die soldate soggens op die paradegrond aantree waar ons geïnspekteer is of jy goed geskeer het en of jou skoene geblink het. Ek dink dit is alles deel van styl. Dit sou nie goed gelyk het as die soldate van SA slordig gelyk het nie!

Styl het te doen met die manier waarop jy eet en drink en praat en met die grappe wat jy vertel. Dit het te doene met die manier waarop jy jou geld bestee en waaraan jy dit bestee. Dit het te doen met die manier waarop jy jou tyd bestee. Dit het te doen met die manier waarop jy jou godsdiens beoefen, m.a.w., jou stiltetyd, jou dankoffers en jou kerkbywoning.

Wie slaag regtig daarin om in alle opsigte styl te hê. Ek kyk die ander dag na my lessenaar in my studeerkamer. Dit is ’n mooi stylvolle lessenaar van patryshout wat iemand jare gelede vir my gegee het, maar ek besef die lessenaar word ontsier deur die trosse drade van my rekenaar wat ek ’n paar jaar gelede sommer daar neergesit het. Daar is seker maar in ons almal se lewens los drade waarby ons nie altyd uitkom nie. Laat ons nie te hard wees op onsself en op mekaar nie, want ons bly maar net mense. Ek wil nogtans hierdie skoolvakansie ’n plan maak met die rekenaardrade – en dan met die boeke wat die wêreld vol staan en die papiere van die verlede en die garage wat vol rommel staan en… en… en… Miskien kry ek op die manier ’n bietjie styl terug in my lewe.

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui