Hemel op aarde

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Maart 2006 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

’n Sendeling uit die Midde-Ooste skryf die volgende storie in ’n nuusbrief:

“Wat kan ek nog doen om anders te wees as my buurman,” wonder ’n sheik in ons kontrei wat alreeds alles het wat mens met geld kan koop. Materialisme loop sterk in plekke soos Dubai en Abudabi waar enige droom waar kan word. “Wat van ’n silwer kar?” droom hy verder. Nie net ’n silwer kleur nie, maar van silwer gebou? Tydens ’n onlangse motorskou het sy Audi A8 sy verskyning gemaak, blink soos ’n spieel van alle kante. Silwer sou egter nie goed skoon bly nie, dus het hy uiteindelik besluit op ’n hoogs gepoleerde aluminium bakwerk wat sy bewonderaars kan verblind in die helder lig.  

“Laaste bod? Laaste kans om ’n eksotiese nommer vir jou kar se nommerplaat te kry! Vir die eerste maal, die tweede maal en die derde maal – toegeslaan vir R13 miljoen! Geluk meneer, nou kan jou Jaguar spog met die nommer “1”, alhoewel jy sal moet dink daaraan om jou kar op te gradeer na iets meer spoggerigs!”

Die uiterlike is baie belangrik in die Arabiese wereld, en mense sal fortuine spandeer om hul aansien in die samelewing te verhoog. Elke week word nommerplate opgeveil sodat mense goed kan voel oor hulself. Die nommer 786 is ook gewild, want dit beteken glo iets spesiaals in die Koran. Groepsdruk veroorsaak ’n gedurige soektog na die volgende status simbool. Vir ’n tyd was dit mode om ’n helikopter landingstrook bo op jou kantoorblok of hotel te hê, maar weens ’n gebrek aan helikopters is dit vinnig aan die verdwyn. Om ’n posadres te he in ’n sekere woonbuurt is ook belangrik, selfs al gebruik jy nie eens die kantoor ruimte nie. Tans wedywer twee sheiks met mekaar om die hoogste gebou in die wêreld te bou. Stadig is ’n hotel van 780 meter hoog besig om te verrys, terwyl planne vir ’n 1000 meter hoë toring net langs hom beplan word. Ry mens egter ’n paar kilometer verder kom jy af op bedoeine kampe met kamele wat onverstoord rondom die swart tente wei, terwyl die eienaar kopskuddend oor die duine staar na die groeiende beton horison.

Ek dink ons het almal maar iets van die sheiks in ons waarvan die sendeling  vertel. Ons is almal in die versoeking om die hemel op aarde te soek. Ons kom nie agter hoeveel waarde ons aan materiële dinge skenk nie. Het ons as kinders van die Here, regtig ’n visie om te lewe vir iets groter as aardse besittings.

Die skrywer van die Hebreërbrief skryf van mense wat erken het dat hulle “hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is” (Hebr 11:13). Hy skryf van Moses: “Die smaad ter wille van die Christus het hy ’n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het” (Hebr 11:26). Wat was die skatte van Egipte? Dit was om in ’n paleis te woon met ’n mooi Egiptiese vrou. Om baie bediendes te hê wat hulle bedien het. Om saam met die Farao in ’n strydwa te ry en om baie goud in sy kluis te hê. Moses het hierdie dinge vaarwel geroep en hom met ’n slawevolk vereenselwig, omdat dit God se volk was. Dit het meegebring dat hy ongewild geraak het by die Farao en vir 40 jaar in die woestyn gaan woon het. Daar het hy sy potensiaal en sy beste jare “vermors”. Daarna het hy nog 40 jaar met God se volk in die woestyn in tente gebly. So het Moses hom beywer vir God se saak op aarde. Hy het God se plan vir sy lewe aanvaar en God het hom beloon. Hy het die mag van God in die woestyn gesien en ja, hy het God self gesien. Dit was hemel op aarde!

God roep ons elkeen op om vir sy koninkryk te lewe. Mag die Here ons as gemeente en elkeen persoonlik help om in hierdie jaar soos nooit tevore nie, ’n visie te ontwikkel vir God se koninkryk. As mens se oë oopgegaan het vir die koninkryk van God, is dit nie belangrik om ’n kar te hê van silwer, of om nommer een te wees nie. Om God se doel vir jou lewe op aarde te ontdek: Dit is hemel op aarde!

Seënwense

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui