Sinodebesluit oor duiwel lei tot leerklag

Die volgende artikel het oorspronklik in Kerkbode verskyn.

************

Sinodebesluit oor duiwel lei tot leerklag

KUILSRIVIER. – Die NG Kerk se Algemene Sinode-besluit oor die bose het daartoe gelei dat een van die kerk se leiersfigure van leerdwaling aangekla is.

Die klag teen dr Ben du Toit (foto) is ingedien deur ’n ontevrede lidmaat, dr Wynand Louw van Melkbosstrand in die Kaap. Dr Du Toit is deur ’n ringskommissie onskuldig bevind.

Dr Wynand Louw het egter appèl aangeteken teen die Ring van Kuilsrivier se uitspraak. Die klag volg op ’n uitlating wat dr Du Toit sou gemaak het aangaande die bestaan van die duiwel.

Dr Du Toit is die direkteur: kommunikasie van die NG Kerk se Sinode van Wes-en-Suid-Kaap en redakteur: elektroniese kommunikasie van die Algemene Sinode. Hy hanteer ook die NG Kerk se Parlementêre Lessenaar vir die Algemene Sinode.

Die NG Kerk het verlede jaar tydens sy Algemene Sinode besluit daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

Die dagblad Beeld het destyds berig dr Du Toit het tydens die debat, waarin hy hom ten gunste van die besluit uitgespreek het, gesê hy glo nie in die bestaan van die duiwel nie. Hy aanvaar egter die bestaan van die bose en die verlossing van Jesus Christus.

Dr Louw beskou dr Du Toit se uitlating as dwaalleer. Die ondersoekkommissie het dr Du Toit se verweer, dat hy binne die besluite van die Algemene Sinode is, gehandhaaf.

Dr Du Toit het aangevoer sy standpunt oor hierdie saak is volledig na letter en gees te vind in die besluite van die Algemene Sinode van die NG Kerk.

Die voorsitter van die ringskommisie wat die saak aangehoor het, ds Herman Burger, het op navraag aan Kerkbode gesê die saak is tans onder appèl en geen verdere kommentaar kan vir eers gelewer word nie.

Die besluite van die Algemene Sinode, waaroor die klag in hierdie geval handel, is tydens die sitting van die sinode in Oktober 2011 geneem – en lui onder meer soos volg: “Die Algemene Sinode moedig daarom alle gelowiges aan om deur die krag van die Heilige Gees (in die gees van die oorwinning van Jesus) die boosheid die stryd aan te sê deur spesifiek te fokus op die genadige verlossingswerk van Christus, sodat die kerk die ware kenmerke van evangeliese gehoorsaamheid (liefde, genade, vergifnis en versoening) sal vertoon.

“Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.” – jean@tydskrifte.co.za

Kommentaar

Let wel, dr Ben du Toit is nie onskuldig bevind omdat hy wel aan die duiwel glo nie. Hy is onskuldig bevind omdat die besluit tydens die algemene sinode in 2011 hom toelaat om so te glo.

Dr Wynand Louw het soos volg gereageer op Jean Oosthuizen se berig: Tugondersoek vir leerdwaling teen Dr Ben du Toit

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui