Sinodebesluit kan lei tot hofsaak

**********

Sinodebesluit kan lei tot hofsaak | George Herald

18 November 2016

GEORGE NUUS – Daar is sprake van ’n hofsaak teen die NG kerk ná die algemene sinode verlede week besluit het dat selfdegeslag huwelike nie in die kerk voltrek mag word nie.

Só sê gay proponent Hennie Pienaar van George. Die sinode het verlede jaar in Oktober aangekondig dat NG predikante wat gewillig is, gay paartjies in die huwelik mag bevestig en dat die kerk gay verbintenisse erken.

Die besluit is egter kort daarna opgeskort nadat meer as 20 appèlle daarteen ontvang is, en verlede Donderdag is teruggekeer na die pre-2015 bedeling.

‘n Groep van 11 mense, waaronder Pienaar, het ’n regsmening ingewin oor die toelaatbaarheid van appèlle. Hul regsverteenwoordiger, adv. Wim Trengove het die sinode toe inderdaad per brief ingelig dat die kerkorde nie appèlle teen besluite van die algemene sinode toelaat nie.

In September vanjaar is die opskorting van die 2015-besluit wel opgehef tydens ’n vergadering van die algemene sinodale moderamen en alle regte vir gays in die kerk is tydelik herstel. Dit is egter nie geïmplementeer nie, in afwagting op die algemene sinodesitting in November.

Die algemene sinode het verlede week sy standpunt herbevestig “dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap buite so ’n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie”. Maar dit “erken die realiteit dat daar lidmate van die dieselfde geslag in burgerlike verbintenisse is wat getuig van liefde en trou”.

Daar is besluit “om nie standpunte op gelowiges en gemeentes af te dwing” nie, maar dat kerkrade die reg behou om self te besluit wie in leiersposisies in die gemeentes mag dien, en nie verplig kan word “om enige persoon wat in ’n selfdegeslag burgerlike verbintenis is, in diens te neem nie”.

Nie welkom nie

Pienaar sê hy bly weg van die kerk, want hy is nie bewus van enige gemeente in George wat hom as ’n volwaardige lidmaat sal aanvaar nie.

“As ek as gay proponent in ’n verhouding is, kan ek nie in die leraarsamp aangestel word nie, want daar word vereis dat jy selibaat moet wees. En al sou ek selibaat wees, sal hulle nie weet nie. Dit is ’n belaglikheid.”

Die groep van 11 vergader volgende week oor die pad vorentoe, maar Pienaar sê daar is reeds konsensus dat verdere regstappe oorweeg behoort te word.

“Op hierdie stadium beroep ons ons op gay mense, hul families en vriende om van die kerk af weg te bly en nie hul bydraes vir die kerk te gee nie, bloot vir die rede dat dit ’n spasie is waar ons nie welkom is as volwaardige mense nie. Dit is soos ’n nuwe apartheid wat ingestel is. Hulle kaap die kerk vir hulleself.”

Die “vriendelike” gemeentes is nie genoeg nie, sê hy. “Dit is maklik om vir iemand te sê kom eet saam met ons, maar dit maak geen verskil aan die strukturele onreg wat in plek is nie. Dit is traumaties vir gay mense, hul families en vriende.”

Die Moedergemeente neem op sy webtuiste standpunt in teen selfdegeslag huwelike en oor leiersposisies in die kerk.

“Om twee persone van dieselfde geslag wat in ’n sogenaamde burgerlike verbintenis is toe te laat om in die amp te staan, is gewoon onverantwoordelik en weerspreek dit wat die sinode oor die huwelik bely,” verklaar die gemeente.

George-Suid-gemeente verklaar op sy Facebook-blad: “Ons ondersteun die algemene sinode se standpunt dat slegs die duursame verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.”

ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui