Sedeles vir jongmense voor die huwelik

Sedeles vir jongmense voor die huwelik

Deur Erick van Jaarsveld

Geskryf vir my vier dogters.

2022

Wie het die huwelik ingestel?

God het die huwelik ingestel na die skepping van Eva. Genesis 2: (24)Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.

Wat se betekenis het die huwelik vir my?

Die huwelik is ‘n geskenk van God aan die mens. Dit is juis in hierdie heilige intieme verhouding (liggaam, siel en gees) waar die mens op aarde ‘n beter verstandhouding kry van God se liefde. Dit is ook ‘n hulpmiddel vir die man en vrou om op hierdie pad van saamwees die konsep van ware verhouding te kan ervaar.  Christus verwys nie verniet na die kerk as sy bruid nie en weerspieël ons huwelike dus direk die gesondheid van ons verhouding met Christus.

Wie het vir Eva geskep en hoekom?

God het Eva geskep as hulp en iemand wat by Adam pas. Genesis 2: (18)Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas.

Wat se betekenis het dit vir my dat Eva vir Adam geskape is?

Indien jy genadig is het God vir jou in Sy volmaakte raadsplan ‘n maat geskep wat by jou pas, wat selfs van voor die grondlegging van die aarde reeds bepaal is. (Efesiërs 1:4; Johannes 17:24)

Hoekom is jy “genadig” om iemand te vind om mee te trou?

Deur in die huwelik te tree ervaar ons gemeenskap/verhouding met mekaar en word God se liefdesplan vir ons geopenbaar. Dit is die geleentheid om in liggaam (eros), siel (agape) en gees (phileo) tot kennis te kom van God se volmaakte liefde en dit in jou lewe te implimenteer. Dit is kennis en insig wat slegs deur God aan ons geopenbaar word. Ons word dan bemagtig om die vleeslike uitdagings wat die lewe daar stel op geestelike wyse saam te hanteer.  Die resultaat is vrugte wat by die wedergeboorte pas.  Dit is die beginpunt waar die gesin versterk word en oorspoel in vrug en seën na die gemeente.

Wat is agapeliefde?

Agape is Goddelike liefde wat volmaak is. Dit is liefde wat onvoorwaadelik van prestasie funksioneer. Dit beteken jy het lief sonder om iets terug te verwag. Dit is hoekom God sê dat Hy ons eerste lief gehad het en ons in staat gestel het om Hom lief te hê. (1 Johannes 4:19-21)

Wat is phileoliefde?

Dit is broederlike liefde. Dit is tweerigting liefde en word beïnvloed deur prestasie.

Wat is erosliefde?

Dit is die fisiese liefde tussen man en vrou.

Op watter ouderdom is ons gereed vir verhoudings?

Ons kan in verhouding begin tree as ons gereed is om te trou. Hooglied 2: (7)Ek besweer julle, dogters van Jerusalem: Waarom wil julle wakker maak en waarom wil julle opwek die liefde voordat dit die liefde behaag?

Verbeter dit nie my kans om ‘n huweliksmaat beter te kies as ek veelvoudige verhoudings gehad het nie?

Stellig nie, die wêreldse benadering lei tot sonde en is niks anders as eiewillige godsdiens nie. Die woord leer ons dat ons liggame ‘n tempel is van God en dat ons liggame nie aan onsself behoort nie. Dit beteken dat ons liggame God moet verheerlik en ons gees aan Hom moet behoort. (1 Korintiërs 6:15-20)

Hoe kies ek my lewensmaat?

Ek bid dit van God en vra om die onderskeiding van die Gees om die regte besluit te neem. ‘n Goeie riglyn is om die vraag te vra of die persoon ‘n goeie skoonseun of skoondogter vir jou ouers sal wees.

Wie se verantwoordelikheid is dit om die verhouding heilig te hou?

Dit is die man se verantwoordelikheid om te verseker dat sy verhouding met sy meisie en of verloofde heilig gehou word sonder dat die huwelik ontheilig word voor die troue. (1 Tessalonisense 4:3-7)

Is seks voor die huwelik sonde?

Ja. Kyk 1 Korintiërs 6:15-20. (Ook Die Bybel oor seks voor die huwelik)

Wat is die resultaat van sulke liggaamlike sondes?

Tydens gemeenskap met mekaar word geestelike bande geskep wat ‘n direkte invloed op jou verdere verhoudings sal hê. Die Woord leer ons dat die vleeslike sondes tot ‘n geestelike dood lei.

Is enige ander vorm van seksuele kontak buiten seks, buite die huwelik, met of sonder ‘n ander party aanneemlik?

Enige vleeslike wandel is onaanvaarbaar aangesien by wedergeboorte ons geheel en al in die gees wandel. Dit is ook wat die groot verbond van ons eis – Deur God met jou hele hart, siel en verstand lief te hê.

Hoe hanteer ek vleeslike begeertes?

Jy vlug daarvan weg. Dit beteken dat jy jou gedagtes suiwer hou en nie in ‘n posisie plaas waar jy versoek kan word nie. Dit is slegs die begin, die mees belangrike is dat jy jouself anker in Christus deur die Woord in jou hart te koester en vriende te nader wat jou opinie daaroor deel en wat God met ‘n rein hart aanroep.  Uit ‘n wêreldse oogpunt klink dit of jy op alle pret uitmis.  Dit is wat die wêreld jou wil leer. Moenie dat Satan jou om die bos lei nie – as hy vir Eva kon lieg, hoekom sal hy nie ook vir jou nie.  Lees Job 31:1; Spr 4:25; 2 Timoteus 2:22.

Wat se besluit moet ek neem?

Soek allereers die koningkryk van God en alles sal vir jou daarmee saam gegee word. Dan offer ek my liggaam vir God (Rom 12:1) en is ek nie bang dat ek op iets uitmis nie. Dit is slegs dan wat ek ‘n identiteit in Christus het en kan erken wat is verhouding en liefde. Dit is op dié punt dat ek in staat is om ‘n huweliksmaat te kies en ek en my maat werklik geluk, vreugde, vrede en die liefde kan ervaar in ‘n huwelik. Sien Galasiërs 5:22.

Is pornografie aanvaarbaar?

Die vrou is geskape deur God en haar liggaam is ‘n tempel van God. Pornografie is niks anders as ‘n ontheiliging van God se skepping nie (sien 1 Korintiërs 3:17). Verder is dit nie veel anders as egbreek nie (kyk Die Bybel oor masturbasie).

Wat was Jesus se standpunt oor skei?

Jesus het gesê dat geen mens mag skei wat God saam gebind het nie. Matteus 19:6.

Wat het Jesus geantwoord toe die Fariseërs Hom gevra het oor hoekom Moses die skeibrief gegee het om van mekaar te skei?

“Omdat Moses weens die hardheid van julle harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei.” Matteus 19:8. Die betekenis van die vers is dat jy op ‘n punt kom waar jy nie van sin wil verander nie, nie bereid is om mekaar in ag te neem en mekaar se behoeftes bo mekaar s’n te stel en mekaar werklik te dien nie (sien Filippense 2:3). Dit is in stryd met beginsels in die woord om so op te tree juis oor die persone in die situasie onvergewensgesind teenoor mekaar geraak het.  God leer ons om mekaar te vergewe (sien Lukas 7:41-43 en Vergifnis).

Kan huwelike gered word al gaan dit hoe sleg?

God belowe aan ons in Sy woord dat hy Hom sal openbaar aan ons as ons Hom soek met ons hele hart (sien Jeremia 29:13). God wil juis hê dat huwelike moet werk tussen partye. Dit is ons onvermoë om liefde te verstaan en toe te pas wat ons in die posisie van egskeidings plaas.  Draai na God toe en alles is moontlik (Filippense 4:13).

Hoekom val Satan huwelike aan?

Die gevolge van ‘n verwoesting van ‘n gesin raak ten minste twee geslagte direk en indirek selfs verdere geslagte. Die eindresultaat is ‘n verbreking van verhoudings waaronder liefde nie funskioneer nie. Satan haat ‘n verbond en probeer skeiding bring tussen partye en tussen ons verhouding met God. Hy is egter reeds OORWIN deur die kruisdood van JESUS!

1 thought on “Sedeles vir jongmense voor die huwelik”

  1. Baie dankie vir hierdie kosbare stuk wat jy vir ons dogters geskryf het my man. Ook vir die voorbeeld wat jy vir my en hulle stel van Goddelike liefde en getrouheid.. Jys ’n Godsman!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui