Wat sal van haar word?

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Oktober 2000 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************


Werk die huwelik nog in ons tyd? Werk die gesinslewe nog? Kan ’n mens dit nog regkry om kinders in ons tyd groot te maak? Daar is mense wat begin vertroue verloor in die huwelik en ’n gesinslewe omdat hulle so baie mislukkings en hartseer rondom hulle belewe. Die Here het nie instellings vir ons gegee wat nie kan werk nie! Die huwelik en gesinslewe is steeds een van die kosbaarste besittings wat die Here vir ons mense op aarde gegee het.

Dien die Here en glo in sy beloftes. Vra voortdurend in nederigheid vir die Here die wysheid om vir jou lewensmaat en gesin tot ’n seën te wees. Onthou jou gebede het groot krag. Bid en moenie wanhoop as dinge verkeerd loop nie.

Hier is ’n stel praktiese huisreëls. Bespreek dit saam as gesin en plak dit êrens op as ’n herinnering vir almal. Ek dink dit kan baie waarde hê.

Ds Jan Louw

Ons huis se reëls

  1. Ons gehoorsaam die Here Jesus deur mekaar lief te hê.
  2. Ons eer ons ouers en is dadelik gehoorsaam as hulle praat.
  3. Ons praat die waarheid.
  4. Ons dra die ander se belange op die hart, selfs meer as my eie.
  5. Ons praat bedaard en respekvol met mekaar.
  6. Ons maak mekaar nie seer met ons woorde en dade nie.
  7. Ons vergeef mekaar as iemand jammer is oor sy optrede.
  8. Ons bemoedig die een wat hartseer is.
  9. Ons sorg goed vir alles wat die Here ons gegee het.
  10. Ons maak nie onnodig werk vir die ander nie
  11. As iemand iets lekker het, deel ons dit met mekaar.
  12. As ons werk het om te doen, doen ons dit sonder om te kla.
  13. As een nie weet wat om te doen nie, vra hy.
  14. As dit nodig is om iemand tereg te wys, doen ons dit in liefde.
  15. Die een wat ’n ding oopgemaak het, maak dit weer toe.
  16. Die een wat ’n ding aangesit het, sit dit weer af.
  17. Die een wat ’n ding uitgehaal het, sit dit weer terug.
  18. Die een wat gemors het, maak weer skoon.
  19. Ons tree buite die huis op soos ons binne die huis optree.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui