Ring van Jhb “doleer” oor liefdeloosheid

Die Ring van Johannesburg het tydens hulle ringsitting op 7 Oktober 2020 verklaar dat hulle doleer oor onder andere “liefdeloosheid”.

Hierdie verklaring kom uit reaksie op die dolerende gemeentes (tans 44) wat doleer oor die rigting waarin NG kerk beweeg die afgelope 10 tot 20 jaar (kyk Opsomming van skokkende NG Kerk-besluite).

Dit het ook gelei tot die totstandkoming van die Kairos Netwerk.

Die reaksie van die Ring van Johannesburg is niks anders as ’n sarkastiese manier om dolerende gemeentes by te kom nie. Doleansie gaan spesifiek daaroor wanneer gemeentes in ’n kerk amptelik treur oor onskriftuurlike besluite van die sinode. Dit word nie gebruik om in die algemeen te treur oor die gebroke werklikheid waarin ons leef nie.

Die volgende gemeentes val onder die Ring van Johannesburg:

  • Andrew Murray (ds Rudi Swanepoel)
  • Brixton (ds Hennie van Rooyen)
  • Claremont (ingelyf by Waterval)
  • Crosby
  • Johannesburg (ds André Bartlett)
  • Kensington (ds Jan Swanepoel)
  • Melville (ds Elise Klut)
  • Parkkruin (ds Chris du Preez)
  • Triomf (ds Hans Visser)
  • Waterval (dolerend) (ds Willie du Toit)
  • Westdene (ingelyf by Greymont)

‘n Mens wonder of hulle ook hulle sinodale bydraes gaan terughou…

(Kyk ook prof Hoffie Hofmeyr se brief Wat is motief agter ring se verklaring?)

*******

‘Ons treur oor liefdeloosheid’ | Kerkbode

8 Oktober 2020

Die Ring van Johannesburg het by ons pas afgelope sitting, gehou op Woensdag 7 Oktober 2020, verklaar dat ons doleer (treur).

Ons treur oor die toestand van ons land en van die wêreld.

Ons treur oor die geweld wat ons as mense teenoor mekaar openbaar. Ons treur oor mense wat sterf as uitvloeisel van haat, armoede en middelmisbruik.

Ons treur oor die hardheid van ons woorde en ons onoordeelkundige verspreiding van inligting.

Ons treur omdat ons sukkel met groot verliese weens die huidige pandemie. Ons treur oor lewens, inkomste en geleenthede wat verloor is.

Ons treur oor harte wat verhard, oor polarisasie en die verlies aan biodiversiteit wat ons almal se voortbestaan op talle maniere bedreig.

Ons treur oor ons liefdeloosheid.

Maar terwyl ons treur, verbind ons ons met hernieude erns en toewyding aan ons roeping om met woord en daad getuies te wees van die vernuwing wat in die lewe van mense, in die samelewing en in die natuur bewerk word deur die lewensbevestigende boodskap van die evangelie van Jesus Christus.

Ons doen ’n beroep op alle kerkleiers in ons land om by hierdie doleansie aan te sluit en om sterk, nugter en bemoedigende leiding te gee in ons gemeenskappe en ons land.

Mag sy liefde ons lei.

Die Ring van Johannesburg

*******

Wat is motief agter ring se verklaring? | Kerkbode

Deur Hoffie Hofmeyr

9 Oktober 2020

Prof JW (Hoffie) Hofmeyr (Emeritusprofessor, Teologie, UP) van Pretoria skryf:

Terwyl die meeste lidmate, predikante en teoloë van die NG Kerk hulleself waarskynlik kan vereenselwig met die standpunt van die Ring van Johannesburg dat daar diepe kommer bestaan oor die situasie in die groter wêreld, in ons land, in ons kerk en in die teologie, het ek enkele vrae in my gemoed oor hierdie verklaring. Intussen wil ek my egter hoegenaamd nie uitspreek oor die meriete en die positiewe en negatiewe van die saak van doleansie nie, dit wil sê om te doleer of om te treur oor bepaalde kerklike sake nie. My opregte vrae aan die adres van die Ring van Johannesburg en Kerkbode is dan die volgende:

  1. Wat is die diepste motief agter hierdie verklaring? Is dit gebore uit werklike diepe kommer of is dit om die doleansie-debat wat al lank al in die NG Kerk woed rondom veral Skrifgesag en Skrifinterpretasie en wat grootliks deur die kerkleiding geïgnoreer is, vir eie doeleindes en vir ’n eie agenda te skaak? Die lank-bestaande debat oor doleansie wentel veral om die relativering of aftakeling van die Bybel asook ons kerk se basiese riglyn met betrekking tot sake soos die gesag van die Skrif, die SGV-kwessie wat al holrug gery is onder andere ook deur verteenwoordigers van die Johannesburg-ring, en die gevolglike fokus op sekondêre kwessies eerder as om met die “basics” of kern van kerkwees erns te maak.
  2. Wil die Ring van Johannesburg hiermee verwarring in die kerk saai? Hierdie ring moet versigtig wees dat hy nie homself as nuwe “doleansie-dissipels” in die voet skiet nie. Terwyl hy miskien die teendeel nastreef en moontlik gegronde doleansie in die kiem wil smoor, bevorder hy dalk nou juis die saak van werklike verantwoorde doleansie. Slim kan dus maklik ook sy baas vang!
  3. Wil die Ring van Johannesburg hiermee verdere verdeeldheid in die NG Kerk saai, ’n kerk wat reeds erg verdeeld is? Ons wêreld het al reeds genoeg van polarisasie en dwarstrekkery, en soos dit is, is die NG Kerk reeds ernstig verdeeld, onder andere deur die feit dat kerkleiers nie meer werklik luister na die voetsoolstemme van lidmate, plaaslike predikante en sommige teoloë nie.
  4. Waarom word hierdie verklaring as ’n nuusberig in Kerkbode geplaas in plaas daarvan dat sulke besluite van ringe soos normaalweg by “Amptelike berigte” geplaas word? Word dieselfde prominensie aan alle verklarings van ringe en streeksinodes wat moontlik ander standpunte verteenwoordig, gegee?

Ons almal sal seker saamstem met die verklaring dat God se liefde ons moet lei in hierdie moeilike en uitdagende tye. Ons sal egter juis versigtig moet wees om andere nie van liefdeloosheid te beskuldig terwyl onsself net so of dalk meer skuldig is aan liefdeloosheid nie. Daar is maar een pad wat ons ook in hierdie Hervormingsmaand weer moet bewandel, en dit is om terug te keer na die Woord, na God Drie-enig, en na die reformasie ook van die NG Kerk.

1 thought on “Ring van Jhb “doleer” oor liefdeloosheid”

  1. Wil nog net die opmerking maak dat teen Oktober 2020 was Dr. Hans Visser vir meer as ‘n jaar al oorlede.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui