Riglyne vir die gebruik van sosiale media

Die volgende besluit is waarskynlik geneem nadat die NG Kerk se kuratorium op sosiale media in ’n baie slegte lig geplaas is na aanleiding van ’n paar dinge (kyk “Kyk ook” raampie).

Hierdie riglyne is egter niks anders as ’n poging om behoudendes se monde te snoer nie.

Hierdie het op die Sinode van Wes-Kaapland se webblad verskyn.

*******

Riglyne vir die gebruik van sosiale media

8 September 2021

Die ATP (Algemene Taakspan Predikantesake) en die ATR (Algemene Taakspan Regte) het onlangs riglyne vir gesprekvoering op sosiale media deur gelegitimeerdes goedgekeur. Dit sal mettertyd in die gedragskode vir predikante van die NG Kerk (bladsy 217 van die Kerkorde Algemene Sinode) opgeneem word. Omdat daar dikwels navrae in hierdie verband ontvang word, het die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland geoordeel dat dit nuttig kan wees om hierdie riglyne aan kerkrade en gemeenteleiers in die sinodale gebied beskikbaar te stel.

Ons bevind ons in ’n tyd waar kommunikasie deur gelowiges en gelegitimeerdes in die media en veral die sosiale media, soms veel te wense oorlaat. Die getuienis wat ons uitleef in navolging van Jesus Christus behoort konsekwent in ons optrede en kommunikasie sigbaar te wees. Jesus het dit heel duidelik aan sy volgelinge oorgedra toe Hy in Johannes 13:34-35 gesê het:

“Ek gee julle `n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê.

Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Riglyne vir gesprekvoering deur gelegitimeerdes op sosiale media.

Gelegitimeerdes, maar ook gelowiges se gesprekke op sosiale media behoort altyd kenmerkend te wees van ’n Christelike etos wat gedra word deur Bybelse waardes soos respek, liefde, waarheid, eenheid, luister en ’n besef van eie broosheid en feilbaarheid.

As getuie van Jesus Christus behoort geen gesprek op sosiale media enige kommentaar te bevat wat:

  1. ander se geloof of Christenskap bevraagteken op grond van verskillende interpretasies van sekere aspekte van die Christelike tradisie;
  2. lasterlike opmerkings bevat waar dit ’n individu of geloofsgemeenskappe skade kan berokken nie;
  3. van enige vorm van haatspraak – ingesluit seksisme, rassisme en homofobie – bevat nie;
  4. enige vorm van beledigende taalgebruik besig, wat ander mense se waardigheid of geloofwaardigheid as predikant in gedrang bring nie;
  5. in ’n godsdienstig vermanende trant geskryf word, maar kwetsend, beledigend en vernederend is;
  6. op valse getuienis berus, kwaadwillig en verdagmakend van aard is, skeurmakery bevorder of kru taal bevat nie.

Hierdie riglyne vir gesprekvoering op sosiale media kan in eie konteks na goeddunke aangewend word.

Mag ons almal ons daartoe verbind om na die voorbeeld van Jesus, met mekaar op `n wyse om te gaan wat nie die koninkryk skade doen en die eer van God aantas nie.

Seën vir die res van 2021.

Charl Stander & Marinus Theron

Namens die moderatuur,

NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode Wes-Kaapland)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui