Beswaardes in NGK stig eie groep, sê ‘God nie meer sentraal’

In die volgende artikel word berig dat die Kairos Netwerk voortgaan om hulleself los te maak van die Algemene Sinode van die NG Kerk. In die artikel word Nelus Niemandt, voormalige moderator van die NG Kerk, se opinie hieroor gevra. Net soos die huidige moderator, Nelis Janse van Rensburg, beweer hy dat die “KN ’n wanvoorstelling voorhou van dit wat die NG Kerk werklik is” (kyk Dwaalleer? Dis onsin, sê NG Kerk).

*******

Beswaardes in NGK stig eie groep, sê ‘God nie meer sentraal’ | Netwerk24

Deur Arisa Janse van Rensburg

10 Februarie 2022

Die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk word daarvan beskuldig dat hy homself uitverkoop het aan “ ’n oordrewe menseregte-kultuur”, in so ’n mate dat “nie meer God nie, maar die mens, sentraal staan in die kerk”.

Dit is onder meer waarom die Kairos Netwerk (KN), wat dié beskuldiging rig, besluit het om ’n nuwe groepering binne die kerk te stig.

Die doel is om “alle bestaande Skrif-behoudende en Skrif-waarderende lidmate, gemeentes, ringe en sinodes van die kerk saam te groepeer om hulle te beywer vir die radikale reformasie van die kerk terug na die Woord”.

Die bestuur van die KN het vandeesweek vergader en Donderdag in ’n verklaring gesê hy beplan om die nuwe groepering, die Familie van Reformerende NG Kerke, teen Julie vanjaar op die been te bring.

Dr. Anton Knoetze, die KN se voorsitter, het aan Netwerk24 gesê die groepering was die volgende logiese stap.

“Plaaslike gemeenskapskerke het begin doleer (treur) en Kairos het aan die kerke ondersteuning gebied.

“Ons plan is om nou ’n groep te skep waarvan hierdie dolerende gemeentes en ook lidmate wat nie welkom voel in hul eie gemeentes nie, deel kan word,” sê Knoetze.

Hy sê dit is nog nie seker presies hoe die afsonderlike groepering binne die NG Kerk sal funksioneer nie, maar ’n taakspan is aangewys om na die kerkregtelike aspekte om te sien.

Daar is al voorheen gegis dat dit moontlik as ’n afsonderlike sinode kan funksioneer.

“Ons wil nie ’n skeuring hê nie, maar ons wil die kerk van die binnekant af reformeer,” sê Knoetze.

Die vorming van die KN het gevolg nadat die AS in 2019 besluit het om ruimte te skep vir selfdegeslagverbintenisse in die NG Kerk.

“Die AS, die AS se moderamen (ASM) asook bepaalde dosente aan die kerklike teologiese fakulteite en predikante het hulle sodanig aan ’n oordrewe menseregte-kultuur uitverkoop dat nie meer God nie, maar die mens, sentraal staan in die kerk.”

Dit het daartoe gelei dat die AS in 2019 tot die besluit gekom het dat die NG Kerk in ’n “vasgelooptheid” met die Skrif beland het, wat beteken dat hy “deur hierdie erkenning sy eie ondergang vooruitgeloop het”, lui die KN se verklaring.

Die KN skryf ook dat daar ’n ernstige probleem is met teologiese opleiding wat nie meer getrou is aan die Skrif of die belydenisskrifte van die kerk nie.

Die NG Kerk wou nie kommentaar lewer op die verklaring of op die nuwe groepering in die kerk nie.

Prof. Nelus Niemandt, ’n voormalige moderator van die NG Kerk, het in sy persoonlike hoedanigheid gesê die KN hou ’n wanvoorstelling voor van dit wat die NG Kerk werklik is.

“Die NG Kerk het ’n diep liefde vir die Here, die Bybel en die werk wat die Here ons gestuur het om te doen,” sê Niemandt.

Hy het die NG Kerk weer beskryf as ’n “ruim huis” wat plek het vir verskeie menings en kanale het waardeur die menings gelug kan word.

Hy sê wat die kerkreg betref, is hy seker die kerkorde laat nie eie sinodes toe nie.

Hy sê alle sinodes in die NG Kerk is geografies saamgestel, byvoorbeeld die Vrystaatse en Wes-Kaapse sinodes.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui