‘Opper klagtes oor teologiedosente so’

*******

‘Opper klagtes oor teologiedosente so’ | Volksblad

Volksblad, 22 Junie 2005

Neels Jackson

UV-man gee raad na beweringe oor leer

AS daar klagtes is oor die leer van enige teologiedosente, wees spesifiek en dien ’n klag in. As dit nodig is, voer dit verby die ringe na die sinodes toe.

Dit was gister die raad van prof. Piet Strauss van die Universiteit van die Vrystaat (UV) na aanleiding van beweringe op die NG Kerk se algemene predikantekonferensie dat die kerk se teologiese opleiding nie altyd suiwer is nie.

Strauss het gereageer in ’n warm bespreking in een van die wegbreekgroepe op die konferensie waartydens daar sterk bedenkinge geopper is teen die teologie wat studente by die fakulteite leer.

Hy het gewaarsku teen growwe veralgemenings in die klagte oor teologiedosente en gesê dis nie Christelik om ’n waan van agterdog oor al die kerk se dosente te laat hang nie. As daar spesifieke probleme is, moet dit langs die kerklike kanale gehanteer word.

Mnr. Ferdi Mulder, teologiestudent aan die Universiteit van Pretoria, het ten tyde van die bespreking te kenne gegee dat daar ’n ernstige skroef los is met die teologie-opleiding by Tukkies.

Volgens hom aanvaar nie alle dosente die maagdelike verwekking van Jesus of sy liggaamlike opstanding uit die dood nie. Hy het gevra dat ’n onpartydige kommissie van ondersoek deur die kerk aangestel word om die saak te ondersoek.

Ds. Nick Bezuidenhout van die gemeente Klerksdorp-Goudkop het gesê baie onbewese stellings word gemaak en dat van die stellings al weerlé is.

Die kuratorium by Tukkies se fakulteit hanteer die sake.

Ds. Theo Danzfuss van die gemeente Witfield het egter gemaan dat daar geen illusie moet bestaan nie: Daar is onrus in die kerk oor die suiwerheid van die Woordverkondiging.

Ds. Johan van Schalkwyk van Lynnwoodrif het gevra dat ’n onderskeid getref word tussen die kansel en die kateder.

Teologiedosente word deur die staat betaal en hul kateders is nie die spreekbuis van die kerk nie. Die kansel is waar die kerk praat.

Hierop is die vraag geopper of die kerk nie moet bande verbreek met die universiteite en sy eie kweekskole moet begin nie.

Die koste hiervan is egter as ‘n beswaar genoem.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui