Professor pleit vir konteks in Bybeluitleg

Die volgende artikel het ook in die Volksblad verskyn onder die titel “Maak erns met Bybelse kontekste – kuratorium hanteer klagtes”.

*******

Professor pleit vir konteks in Bybeluitleg | Beeld

Beeld, 23 Jun 2005 (Donderdag bl. 22)

Neels Jackson

Maan fundamentalisme is grootste dwaling in kerk

Bloemfontein. — Die neiging na fundamentalisme in sekere kringe van die NG Kerk is ‘n groter gevaar as enige ander dwaling in die kerk, het prof. Fanie Snyman van die Vrystaatse Universiteit op die algemene predikantekonferensie van die NG Kerk gewaarsku.

Fundamentalisme is volgens Snyman die neiging om die Bybel te verklaar sonder om die literêre of historiese konteks van die gedeelte in ag te neem.

Snyman het in ‘n tweede bespreking deur ‘n wegbreekgroep oor die teologiese suiwerheid binne die NG Kerk gesê die samelewing beleef die oorgang tussen modernisme en post- modernisme, tussen sekerhede en onsekerhede.

Die nuwe onsekerhede laat mense gryp na die sekerhede wat die fundamentalisme hulle bied. Snyman het fundamentalisme egter as “die dood in die pot” bestempel.

Die kerk moet erns maak met die literêre en historiese konteks van die Bybel, het hy gesê.

Op ‘n vraag of dit fundamentalisties is om te glo aan die liggaamlike opstanding van Jesus Christus uit die dood en aan sy maagdelike geboorte, het Snyman gesê ‘n mens moet ankers hê te midde van die relatiwiteit. Hy glo Jesus het liggaamlik uit die dood opgestaan en aan die maagdelike geboorte.

Sy kollega, prof. Johan van Rensburg, het egter gesê daar moenie illusies bestaan dat almal saamstem oor Jesus se liggaamlike opstanding nie. Daar is teoloë wat dit nie wil sê nie.

Prof. Piet Meiring van die Universiteit van Pretoria het gepleit dat die debat op ‘n hoë vlak gevoer moet word.

Hy het die liggaamlike opstanding van Jesus as die kern van die geloof bestempel en bygevoeg hy weet nie van een van sy kollegas wat dit nie kan sê nie. Hy het, soos prof. Piet Strauss van die Vrystaatse Universiteit die vorige dag, gevra dat mense wat wel klagtes oor dosente het, dit op skrif stel en na die kuratorium neem.

Dr. Henk Gous, Wes-Transvaalse moderator, het gesê sulke klagtes word nie doodgedruk nie. Die kuratorium by Tukkies het geen klag teen sy dosente gekry nie. Hy het gemaan teen wilde bewerings in die media.

Prof. Malan Nel van Tukkies het ook gister, nadat hy die konferensie toegespreek het oor predikante se roeping, per briefie die vraag gekry of hy die liggaamlike opstanding van Jesus bely. Nel het “ja” geantwoord (en die daad by die woord gevoeg deur die Apostoliese Geloofsbelydenis op te sê), maar bygevoeg die vraag maak hom “intens ongemaklik”.

As daar bedenkinge oor sy oortuigings was, moes daar lankal ‘n saak daaroor by die kuratorium gewees het, het hy gesê.

Hy het gemaan dat die gesprek in die media oor dosente se standpunte nie skeurmakery is nie, maar verdagmakery.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui