Op pad na hereniging

Kyk ook:

Die volgende artikel het op Netwerk24 verskyn.

Dit is net ongelooflik hoe sterk sekere kerkleiers oor kerkeenheid voel, maar wanneer dit by veel belangriker kwessies soos homoseksualiteit en die duiwel kom, swyg hulle soos die graf.

**********

Op pad na hereniging

NG familie vra hulp by kerk in Nederland

Deur Claudi Mailovich, Woensdag 27 Mei 2015 02:10

Die NG Kerkfamilie gaan ’n tussentydse kerkorde opstel om die weg te baan vir kerkhereniging.

Dié besluit is deur die moderature van die NG Kerk, die NG Kerk in Afrika, die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) en die Reformed Church in Africa (RCA) op hul jaarlikse vergadering in Pretoria geneem.

Hulle beplan om vir hulp aan te klop by die Protestantse Kerk in Nederland, wat self die lang pad na kerkvereniging aangedurf het.

“Dit is die belangrikste besluit wat ons nóg geneem het,” het prof. Mary-Anne Plaatjies van Huffel, moderator van die VGKSA, gesê oor die besluit om die Nederlanders se kundigheid in te roep.

Die Nederlanders het ’n paar jaar gelede gesê hulle is bereid om raad te gee oor die proses, het sy gesê.

“Die proses in Nederland het 40?jaar geduur. Ek dink ons in Suid-Afrika moet rustiger raak en meer tyd vir mekaar maak om te groei in belydenisformasie en in die kerkeenheidsproses.”

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, het gesê ander groot besluite wat op die vergadering geneem is, handel oor gesamentlike openbare getuienis, ’n gesamentlike konferensie vir predikante, die opstel van ’n memoran-dum van ooreenkoms tussen die vier kerke en ’n behoorlike plan oor hoe die kerk moet lyk waarheen die vier kerke op pad is.

Daar is bepaal dat die predikante-konferensie dringend is en dat die memorandum van ooreenkoms so gou moontlik opgestel moet word.

“Ná baie jare se moeisame gesprekke het vandag (Dinsdag se) gesprek my baie moed gegee,” het Niemandt gesê.

Volgens hom besef die kerke dat die Belydenis van Belhar saam met die VGKSA na die eenheidskerk sal kom en dat dit nie iets is wat sal verander nie.

Daar is ook gepraat oor die moontlikheid van die herstrukturering van sinodes en ringe sodat al vier kerkverbande ingesluit word.

Niemandt het benadruk dat dit nie nou die selfstandigheid van gemeentes in die kerk sal raak nie.

“Ek dink ons het ’n nuwe basis vir verdere gesprekke geskep. Dit gaan beter waar die vier kerke bymekaar is as wanneer kerke bilateraal gesels,” het hy oor die vergadering gesê.

Ds. Victor Pillay van die RCA het gesê die groot verskil is dat hulle nou op die pad na kerkhereniging nie meer op vergaderings wag nie en “dat ons as ’n familie van die NG Kerk dinge saam gaan begin doen wat die gesig van die Nederduits Gereformeerde Kerk gaan weerspieël”.

‘Geskiedenis wys dalk dié is ’n keerpunt’

“Dit is potensieel baie belangrike besluite,” het Neels Jackson, redakteur van Kerkbode, gesê.

“As dit goed verloop, sal die geskiedenis wys dat hierdie ’n keerpunt was.”

Volgens Jackson is dit belangrik dat die kerke op ’n lang pad besluit het omdat hulle in die verlede vinniger paaie gevolg het wat misluk het.

“As dit sleg gaan, sal ons oor ’n klompie jare terugkyk en sien dit was ’n dag wat ons hoopvol was, maar dat niks daarvan gekom het nie,” het ­Jackson gesê oor as die besluite nie uitgevoer word nie.

Prof. Piet Meiring, afgetrede teologiedosent aan die Universiteit van Pretoria, het gesê die besluite is goeie nuus.

“ ’n Mens was so bang dat die huiwering van die NG Kerk oor die belydenis van Belhar ’n klip in die pad van kerkhereniging gaan rol,” het Meiring gesê.

Hy meen kerkeenheid is nie ’n luukse nie. “Dit is ’n absolute moet. As ons dié kans deur ons vingers laat glip, sal ons aan die Here en aan ons kleinkinders verantwoording moet doen.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui