NG Kerk leierskap het irrasionele beheptheid met Belhar

Kyk ook:

Die NG Kerk leierskap het duidelik ’n irrasionele beheptheid met Belhar. Dit is steeds onduidelik hoekom dit so belangrik is dat die NG Kerk die belydenis van Belhar moet aanvaar as ’n belydenis. Die Bybel praat nêrens van kerkeenheid nie – wel van eenheid in Christus. Dit kan verkry word sonder kerkeenheid.

************

NELUS NIEMANDT

Sommige lidmate ‘wroeg nog oor Belhar’ sê Nelus Niemandt | Netwerk24

Anika Marais, Dinsdag 05 Mei 2015 13:30

Voorstelle om wél plek vir die Belydenis van Belhar in die NG Kerk te maak, sal heel moontlik Woensdag by die sinode van die NG Kerk in die Wes- en Suid-Kaapland gemaak word.

“Dis nie onmoontlik om steeds ruimte te skep vir die lidmate wat die Belydenis van Belhar wil bely nie. Ons kan ons nie net in jare lange praktyke vasstaar nie. Ons moet nou nuwe paadjies soek om dit moontlik te maak,” het die moderator van die Algemene Sinode, prof. Nelus Niemandt, gesê. Hy was Dinsdagoggend die tweede spreker op die sinode wat vandeesweek by die Goudini-spa naby Rawsonville gehou word.

“Ek verwag dat daar goeie voorstelle sal wees, soos byvoorbeeld dat elke sinode self kan besluit of hulle die Belydenis van Belhar wil bely of nie. Dit is baie moontlik dat die voorstelle ook by die Algemene Sinode kan dien.”

Die sinode van die NG Kerk in die Wes- en Suid-Kaap stem Woensdagmiddag oor die wysiging van art. 1 van die Kerkorde, wat die Belydenis van Belhar opsioneel by die kerk se belydenisgrondslag sal voeg.

Dit is egter nie meer moontlik om die wysiging by die Algemene Sinode te bekragtig nie, omdat alle sinodes dit met ’n tweederdemeerderheid moet aanvaar. Die sinodes van die Vrystaat, die Noord-Kaap en Namibië kon reeds nie die tweederdemeerderheid behaal nie.

“Hoewel ons by die Algemene Sinode nie meer art. 1 kan wysig nie, is dit steeds belangrik om elke sinode die geleentheid te gee om hul stem uit te bring.”

Sy moed het in sy skoene gesak toe drie sinodes nie ruimte vir die Belydenis van Belhar kon skep nie, het hy erken.

“Ek was ontsteld oor die Noord-Kaap en die Vrystaat wat dit pertinent van die hand gewys het. Ek het gehoop daar is nuwe moontlikhede vir die kerk, maar nou moet ons teruggaan na die tekenbord,” het hy gesê.

“Jonger mense raak ongeduldig met die hele storie. Maar daar is duidelik nog heelparty lidmate in die kerk wat nog oor die belydenis wroeg. Ek dink sommige vrees verandering en ander is nog skaam-kwaad oor die verlede.”

Lees ook: ‘Om dominee te wees is rof’

**********

COENIE BURGER

‘NG Kerk sal moet waag, anders gaan ons moet toemaak’

(Netwerk24)

Anika Marais, Dinsdag 05 Mei 2015 12:34

Die tyd vir die kerk om versigtig te wees is verby.

“As die kerk aanhou om net netjies en ordentlik te wees, dan gaan ons nie ver kom nie. Dan gaan ons die kerk eintlik kleiner boer,” het die voormalige moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk, dr. Coenie Burger, Maandagaand gewaarsku.

“Dit is tyd vir waag, want anders gaan ons die boek van die kerk (met die boeke wat natuurlik mooi netjies klop) oor ’n paar jaar moet toemaak.”

Bykans 800 predikante en kerkraadslede van die NG Kerk in die Wes- en Suid-Kaap kom vandeesweek vir die sinode by die ATKV Goudini-spa naby Rawsonville byeen.

Burger, wat ook voorheen die moderator van die sinode van die NG Kerk in Wes- en Suid-Kaap was, was die eerste spreker by die vergadering. Hy tree oor twee maande af en dit is die laaste sinode wat hy sal bywoon.

“Daar is heelparty mense wat hul lus vir die kerk verloor het – mense wat kwaad is vir die kerk, kerkmense wat ophou kerk toe gaan, mense wat stil-stil hulself van die kerk verwyder en liewers op ’n afstand staan,” het hy gesê.

“Maar ons moenie moed verloor vir die kerk nie. Ons kan nie wegstap van die kerk af nie, want Christus het nie weggestap van ons nie. As ons gefaal het, moet ons opstaan en weer probeer. Ons moet net nie stupid genoeg wees om weer dieselfde fout te maak nie.”

**********

Prof. Nelus Niemandt

‘Wees meer soos seerowers’

Kerke moet daarna streef om meer soos seerowers te wees, het die moderator van die algemene sinode van die NG Kerk, prof. Nelus Niemandt, gister vir dominees gesê.

“In die geskiedenis, as die groot skepe beseerde matrose met houtbene, hake vir hande of met oogklappe oor die oë verwerp het en op die naaste eiland afgegooi het, het die seerowers gesê: ‘Welkom’. Seerowers het altyd plek gemaak vir die gemarginaliseerde persone in die gemeenskap. My vraag is: Hoe sigbaar is die randfigure in die Kerk? As seerowers dit kon regkry, kan die Kerk tog ook.”

Niemandt was gisteroggend die tweede spreker op die sinode. Hy het sy toespraak met ’n videogreep uit die rolprent Pirates of the Caribbean begin en die dominees laat terugdink aan Karl Kielblock se stories oor seerowers wat hulle as kinders gelees het.

“Broers en susters, ek besoek baie gemeentes in die NG Kerk dwarsoor die land en ek sien baie min randfigure in die Kerk. Ons moet dringend vreemdelinge in die Kerk begin innooi om ons besluite te beïnvloed. Ook dié wat nie glo nie,” het hy gesê.

[Ek wonder of prof Nelus mooi gedink het voor hy hierdie gesê het. Dit is absoluut so dat die kerk een van die min (of enigste) organisasie is wat bestaan ter will van sy nie-lede, maar om te impliseer dat nie-lede sommer net moet instap en begin rigting aanwys, is verregaande. ’n Mens kan hoogstens leer by nie-lede, maar nie-lede moet opgetrek word tot op die kerk se vlak. Dit lyk so al of prof Nelus dink dat die kerk moet afdaal na die vlak van die nie-lede. Alles gaan nie oor verligting van armoede nie. Die armes sal ons altyd by ons hê (Markus 14:7). Die kerk moet mense geestelik laat groei (Hebreërs 5:12-14).]

Hy het ook herhaaldelik verwys na Dana Sny­man se toneelstuk Die Klaagliedere van ds. Tienie Benade wat Frank Opperman Maandagmiddag vir die sinode opgevoer het.

In dié stuk vertel die dominee van sy ervaring om ’n hawelose man te begrawe wat op die trappe van sy kerk gesterf het.

“Ons het nodig gehad dat dominee Tienie ons kom herinner aan die Sparky’s [die hawelose karakter in die stuk] in die lewe wat op die trappe van die kerk staan. Ons moet hulle begin innooi.”

***********

Prof. Piet Naudé

‘Die NG Kerk lyk nie soos res van SA’

Die NG Kerk lyk nie soos die res van die land nie.

Prof. Piet Naudé, direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool, het gister telkemale die ongemaklike waarheid voor dominees en kerkraadslede gehou: Die see van gesigte in die vergadersaal van die Goudini-spa weerspieël nie die diversiteit van die res van die land nie.

[So nou moet die NGK ook regstellende aksie toepas. Ai tog!]

“Ons lidmate kom uit ’n klein groep bevoorregte mense in Suid-Afrika. Ons sien net die bodorp en ons kyk nie eens na die onderdorp nie. En só is dit ook vir ons moeilik om die groter prentjie van ons land raak te sien.”

’n Mens kon ’n speld in die saal hoor val toe Naudé foto’s van ’n man in ’n plakkerskamp op die skerm gewys het en daarna ’n foto van die propvol parkeerterrein van die Tygervallei-winkelsentrum gewys het.

“Een uit vyf mense in Suid-Afrika leef in uiterste armoede. Maar dis nie mense wat ons of ons lidmate sien nie, want ons leef in die bodorp. Dit is ook my verhaal.”

Naudé, ’n predikant en voormalige moderator van die Oos-Kaapse sinode, het in sy toespraak ’n prentjie van die Suid-Afrika geskets waarin die Kerk vandag moet funksioneer – ’n land met ’n sukkelende ekonomie, ’n jong demokrasie en rassisme wat nog plek-plek kop uitsteek.

[Deur Belhar te aanvaar gaan net mooi niks aan hierdie kwessie doen nie. Die NGK kan wel iets hieraan doen SONDER om Belhar te aanvaar.]

“Die wêreld verander en sê vir die Kerk: ‘Dis nie die boodskap wat ons wil hoor nie’. En dan begin die Kerk onseker raak en wonder: ‘Wat moet ons nou eintlik sê wat die mense wil hoor?’ Die Kerk was vir baie lank heeltemal te mak, want ons is te bang om aanstoot te gee. Maar ongeag hoe die wêreld verander, bly die evangelie altyd aktueel. En ons fokus moet eenvoudig dít wees: om die evangelie te verkondig.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui