Omstrede NGK-predikant nuwe moderator van sinode van Oos-Kaapland

********

Omstrede NGK-predikant nuwe moderator van sinode van Oos-Kaapland | Netwerk24

Cara-Lee Dorfling en Jana Marx

12 Oktober 2021

Die NG Kerk het die verkiesing van dr. Chris van Wyk tot moderator van die sinode van Oos-Kaapland verwelkom.

Van Wyk, predikant van die NG kerk Somerstrand in Gqeberha [Port Elizabeth], wat ook gedurende ’n vorige termyn die amp beklee het, is Dinsdag op ’n sinodesitting verkies.

“Die NG Kerk verwelkom hierdie stap. Chris het in die verlede ook besonderse bydraes tot die kerk gemaak, veral ten opsigte van Bybel-interpretasie. Dit sal lekker wees om hom terug by die breër leierskap te sien,” het dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, aan Netwerk24 gesê.

Van Wyk het gesê hy waardeer die sinode se vertroue in hom. “Ek leef vir die kerk, dit is my roeping en ek sal daarby bly.”

’n Wolk van omstredenheid het vroeër oor Van Wyk gehang nadat die drukgroep Queers Without Borders (QWB) hom in 2019 by die Menseregtekommissie (MRK) verkla het omdat hy na bewering homoseksualiteit met pedofilie vergelyk het.

Dié klagte van haatspraak het gespruit uit Van Wyk se kommentaar in 2018 op die Kerkbode se Facebookblad waar hy onder meer geskryf het as seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, “sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op soortgelyke wyse moet aanvaar”.

Hy het reageer op die bekentenis van ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode van die NG Kerk, dat sy persoonlike oortuigings nie strook met die kerk se vorige standpunt oor selfdegeslagverhoudings nie.

Netwerk24 het vroeër berig Van Wyk het in sy repliek aan die MRK ontken dat hy pedofilie met homoseksualiteit vergelyk het.

Die omstredenheid rondom Van Wyk het vroeër vanjaar opnuut nuusopskrifte gehaal toe hierdie uitlatings en reaksie daarop deel was van ’n tugsaak teen dr. André Bartlett, moderator van die Hoëveld-sinode. Bartlett is onder meer oor die kole gehaal nadat hy Van Wyk se kommentaar op Facebook as haatspraak in ’n Rapport-berig bestempel het.

Van Wyk se regspan het verlede jaar aangekondig dat die MRK dié klagte teen hom laat vaar, maar die MRK het gesê hulle beskou nie die saak as afgehandel nie.

Adv. André Gaum, ’n kommissaris van die MRK, het Dinsdag by navraag gesê die kommissie sal binnekort ’n besluit aankondig oor die pad vorentoe in die betrokke saak. Hy sê verskeie moontlikhede word oorweeg, maar wou nie verder hierop uitwei nie.

Ek leef vir die kerk, dit is my roeping en ek sal daarby bly.

Hennie Pienaar, stigter van QWB, het in reaksie op Van Wyk se nuwe amp gesê hy is baie teleurgesteld.

“Ons is uiters teleurgesteld. Hy is iemand met groot invloed, veral onder mense wat doleer. Ons sal die saak verder ondersoek.”

By navraag aan Claassen of hulle enige teenkanting verwag oor Van Wyk se nuwe amp weens dié saak, het hy gesê omdat die kerk nie weet wat die status van die saak se uitspraak is nie, kan daar nie standpunt ingeneem word hieroor nie.

Van Wyk het gesê hy het laas in 2019 ’n brief van die MRK ontvang wat aandui hulle gaan die klagte terugtrek, maar geen verdere amptelike korrespondensie ontvang nie. Hy sê die saak het nie ’n rol gespeel tydens Dinsdag se verkiesing nie en hy glo ook nie dit sal in die toekoms nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui