Kenia verbied (weer) gay-fliek – wat gratis aanlyn uitgereik word

*****

Kenia verbied (weer) gay-fliek – wat gratis aanlyn uitgereik word | Netwerk24

Deur

12 Oktober 2021

Die Keniaanse Raad vir Rolprentklassifikasie (KFCB) het vir die tweede keer in drie jaar ’n plaaslike rolprent oor homoseksualiteit verbied.

Reuters berig ’n verbod is op die vertoning, verspreiding, besit en uitsaai van die dokumentêr I Am Samuel geplaas omdat dit volgens die raad “nie net godslasterlik is nie, maar ’n poging is om godsdiens te gebruik om selfdegeslaghuwelike te bevorder”.

Die dokumentêr fokus op ’n godsdienstige gay man wat in Kenia – ’n land waar seks tussen mans onwettig is – van sy seksualiteit probeer sin maak. Nadat hy sy ouers vertel dat hy gay is, word hy verwerp. Hy raak ook teen die einde van die dokumentêr verloof aan sy lewensmaat.

Veral dié verlowing het die KFCB rooi laat sien: Die rolprent beledig volgens hulle die land se grondwet, wat dit duidelik stel dat slegs huwelike tussen mans en vroue toelaatbaar is.

Pete Murimi, die dokumentêr se regisseur, sê hy is nie verbaas oor die raad se reaksie nie.

“Ons het geweet dit (die verbod) is moontlik, maar ons het gehoop vir die beste. Toe ek die rolprent gemaak het, het ek dit met Afrika-gehore in gedagte gemaak, so ons gaan beslis (teen die raad se beslissing) appelleer, want ek het daarna uitgesien om met Keniane oor LGBTQ-kwessies in gesprek te tree.”

Volgens die rolprent se vervaardiger het die verbod ’n stokkie voor hul planne gesteek om die rolprent in Kenia uit te reik, maar dit het gelukkig nie ’n uitwerking op uitreikings in die res van Afrika nie.

Dit sal daarom steeds op 14 Oktober op afridocs.net uitgereik word en fliekgangers oor Afrika heen – Kenia uitgesluit – sal dit gratis aanlyn kan kyk.

Die KFCB se verbod op I Am Samuel volg op ’n soortgelyke verbod op die 2018-fiksierolprent Rafiki , wat handel oor die liefde wat tussen twee jong vroue blom.

Dié rolprent, wat deels deur die Suid-Afrikaner Jenna Bass geskryf is, kon weens die verbod nie in Kenia uitgesaai word nie – wat die rolprent uiteindelik sy kans ontneem het om Kenia by die Oscars te verteenwoordig.  – Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui