Tema van konferensie by universiteit ontstel

Vir agtergrond oor hierdie artikel, kyk Opsomming: Queering the prophet conference, Stellenbosch 2022.

********

Tema van konferensie by universiteit ontstel | Kerkbode

15 Februarie 2022

Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: Dit is met absolute afgryse dat ek as toegewyde NG lidmaat lees die Sinode van Wes-Kaapland adverteer ’n konferensie met die titel “Queering the prophet”. Die advertensie begin so: “The *Gender Unit of the Beyers Naudé Centre for Public Theology, Faculty of Theology, Stellenbosch University, invites you to a conference with the title *Queering the Prophet, from 16-18 March 2022” (*gender en *queer: sien voetnotas).

Van die titels van die aanbiedings is onder andere:

  • “Under a desert plant: Queer heterotopias in Jonah”;
  • “Finding a queer kindred in the Book of Jonah”;
  • “When the world no longer appears the right way up: Queering time, space, and the prophetic body in Jonah 2” en
  • “Queering the straight Jonah – A Reception-Exegetical exploration”.

Dan is daar ook nog “Vishnu would have saved the poor fishie: A transtextual reading” waar die Hindoe-afgod Vishnu ingesleep word – dit alles onder die vaandel van die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch!

Betrokkenes by die konferensie is NG gelegitimeerdes soos Juliana Claassens, Hendrik Bosman, Louis van der Riet en die onlangs gelegitimeerde Ashwin Thyssen. Die dekaan van die Fakulteit Teologie Reggie Nel doen die verwelkoming!

Die verontheiliging van ’n historiese Bybelse karakter en die minagting vir die Woord van God skok my tot in my siel. In 2 Konings 14:25 lees ons van Jona, seun van Amittai, ’n profeet van Israel van Gat-Hefer. Jesus self het die Jona-verhaal as histories beskou en hanteer (Lees Lukas 11:29, ook Matteus 12:39-41). Jesus het ook na die herlewing in Nineve as ’n historiese feit verwys. Hy verklaar: “Die manne van Nineve sal saam met hierdie geslag opstaan by die oordeel en dit veroordeel, omdat hulle berou gehad het oor Jona se aankondiging; en kyk – hier is Iemand groter as Jona!”

Dit gaan oor veel meer as akademiese vryheid: Die gesag van die Skrif word aangetas. Die integriteit van een van die NG Kerk se teologiese fakulteite en die Sinode van Wes-Kaapland is ook in die gedrang. Moderamen, gee asseblief duidelikheid oor u standpunte ten opsigte van hierdie advertensie asook die konferensie!

Voetnotas

*Gender: die “identiteit wat deur die seksuele selfbeeld van mense bepaal word”. Daarteenoor word “geslag” biologies bepaal (WAT – Woordeboek van die Afrikaanse Taal).

*Queer: wat ’n seksuele of geslagsidentiteit aandui wat nie ooreenstem met gevestigde idees van seksualiteit en geslag nie, veral volgens heteroseksuele norme.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui