Ek sien nie eenheid in die NGK

Ek sien nie eenheid in die NGK | Netwerk24

Deur Prof. Johan Janse van Rensburg, Bloemfontein

20 Mei 2019

Oor die middelblad-onderhoud “Kerk se krag ‘in eenheid’ ” (17.05), met ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die NG Kerk (NGK): Nelis probeer hard om die beeld van die NGK te poets.

Die de facto-situasie bevestig egter nie die beeld van eenheid nie.

As predikant en teoloog wat die NGK vir 47 jaar lojaal gedien het, kan ek nie Nelis se perspektief op die eenheid van die NGK deel nie.

Die waarheid is dat daar te veel probleme is wat die eenheid bedreig. Daar is die onopgeloste probleem van die Skrifbeskouing waarvan Nelis in ’n radio-onderhoud gesê het dat ons mekaar nie gaan oortuig nie.

Hoe op aarde kan daar werklike eenheid wees as ons so radikaal van mekaar oor die Skrif en die gebruik daarvan verskil?

Nelis verklaar self dat ons ’n groot diversiteit van teologiese voorkeure en spiritualiteite in die NGK het. Hy noem dit identiteitspolitiek, maar in werklikheid gaan dit oor fundamentele verskille oor Skrif en belydenis.

’n Paar jaar gelede het die Algemene Sinode die beginsel van diversiteit in die kerk goedgekeur. Dit is blote wensdenkery om te glo dat die NGK op só ’n basis een kan wees.

Nelis verwys in die onderhoud daarna dat ons weet wie ons is omdat ons die belydenisskrifte het. Daar is egter legio bewys dat die belydenisskrifte oor en oor deur leidende figure in die kerk weerspreek of gerepudieer word, sonder dat hulle tot orde geroep word.

’n Mens kan natuurlik nie wen nie. As jy, soos ek, met “geestelike” pyn ’n verklaring soos hierdie lees, word jy van dislojaliteit teenoor die NGK beskuldig. Tóg is dit slegs die Koning van sy Kerk wat my lojaliteit en integriteit teenoor Hom en die NGK bepaal.

Om die beeld van die NGK te probeer poets, gaan nie die kerk help nie. Om daaroor te swyg, laat net die probleme vermenigvuldig.

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui