NG Kerk se sinode mislei kerkrade, lidmate

{jcomments on}

Kyk ook:

Die volgende brief het in Volksblad verskyn op 17 September 2014. Kliek hier.

***********

Die Sinode van die NG Kerk in die Vrystaat en so ook die ander sinodes van die kerk landwyd mislei kerkrade en lidmate. Die leierskorps van die sinodes is nie meer leiers nie, maar het verleiers geword.

Ek maak dié stelling na aanleiding van die terugvoer van die sinodes na kerkrade en gemeentes met betrekking tot die voorgestelde wysiging van artikel 1 om plek te maak vir die Belharbelydenis. Die sinodes ag dié belydenis blykbaar nie as belangrik nie, want kerkrade en gemeentes wat dit nie as ’n belydenisskrif wil aanvaar nie, hoef dit nie te doen nie. Dit laat alles so onskuldig lyk: Aanvaar dit maar, want dit verander tog niks aan die status quo nie.

Hoe op aarde kan dit deel wees van die belydenisgrondslag van die kerk as sommige lidmate dit kan aanvaar en ander nie? Dit maak mos geen sin nie. Ken ’n mens egter die agtergrond, maak dit wel sin, want die Belydenis van Belhar is slegs die katalisator wat groter dinge in beweging moet bring: kerkvereniging. Dr. Allan Boesak, stigter en eerste moderator van die Verenigende Gereformeerde Kerk, het dit as uitdruklike voorwaarde gestel dat die NG Kerk die blydenis van Belhar moet aanvaar voordat samesprekinge oor kerkvereniging kan begin. ’n Voorwaarde wat vandag nog geld. So ’n vereniging sal tot gevolg hê dat die NG Kerk sy identiteit, sy naam sal verloor en wat waarskynlik ook tot skeuring sal lei.

Dit is dié agtergrondfeite wat die leierskorps van die kerk aan kerkrade en gemeentes weerhou, want hulle maak staat op die onkunde en onbetrokkenheid. Dit is vuil spel en kom neer op growwe misleiding.

S.L. Rautenbach

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui