Kerksaak: Lees volledige uitspraak hier

Kyk ook:

Kerksaak: Lees volledige uitspraak hier | Kerkbode

8 Maart 2019

Ek is ’n predikant in die NG Kerk wat teen 2016 se besluit was. Dis hoekom ek vandag hier is om die uitspraak te hoor,” het ds Johan Conradie (links voor met bril) Vrydag 8 Maart in die stampvol hof by die Noord-Gautengse Hooggeregshof gesê ná uitspraak in die saak tussen die kerk en ’n groep van haar lidmate. “Ek was in die ou dae teen apartheid en so is ek daarteen dat daar teen die LGBT-gemeenskap gediskrimmineer word in die NG Kerk.” Dr Gustav Claassen (staande, links agter) het die NG Kerk verteenwoordig en onmiddellik na die uitspraak gesê: “Ons het prosesse opgestel om in komende weke te kyk na die inhoud van die uitspraak en hoe dit ons impakteer. Ons sal met lidmate kommunikeer wat die aard van die uitspraak was en hoe die kerk daarop gaan reageer.” Foto: Le Roux Schoeman

Die NG Kerk is deur die hof gedwing om te herbesin oor selfdegeslagverhoudings.

Dit ná ’n groep lidmate ’n hofsaak teen die kerk gewen het om die kerk terug te neem na die 2015-sinode-besluit rondom dié kwessie deur die 2016-besluit ter syde te stel.

“Ek is baie bly dat daar nou regsekerheid is,” het dr André Bartlett, moderator van die kerk se Hoëveldsinode kort na die uitspraak by die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria gesê.

“Ek dink dit is belangrik dat die boodskap nou na die kerke uitgaan dat (die besluit wat in 2015 oor selfdegeslag-verhoudings geneem is) ’n akkommoderende besluit is.

Bartlett, wat die voorsteller van die 2015-besluit was, meen “dit skep ruimte vir gay lidmate om ten volle in die kerk aanvaar te word. Maar dit skep ook vir mense wat probleme het met die erkenning van gay verhoudings en die bevestiging van gay huwelike die geleentheid om hul eie standpunt te handhaaf en dit binne die kerk uit te leef.”

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk het buite die hof gesê: “Ons het prosesse opgestel om in komende weke te kyk na die inhoud van die uitspraak en hoe dit ons impakteer. Ons sal met lidmate kommunikeer wat die aard van die uitspraak was en hoe die kerk daarop gaan reageer.”

Hans Oosthuizen, prokureur vir die NG Kerk, het dit betreur dat die saak in die hof moes gaan draai. “Die hele aangeleentheid moes eerder deur die kerk op ’n kerklike en Bybelse wyse gehanteer word en nie in die wêreld se howe nie,” het Oosthuizen kort voor die uitspraak op 8 Maart aan Netwerk24 gesê.

“Ons is positief omdat ons glo dat ons aan die regte kant van die geskiedenis en geregtigheid staan,” het prop Laurie Gaum gesê. “Ons weet egter dat ons saam met medegelowiges op reis is wat ook oortuig is van die teenoorgestelde standpunt as ons s’n. Ons glo dat ons saam mekaar kan verryk met méér van die veelkleurige verskeidenheid van God se skepping en sodoende die kerk meer getrou aan die evangelie kan maak.”

LEES OOK: Hof stel sinode-besluit ter syde

Intussen het die moderator van die NG Kerk voor die hofbeslissing op 8 Maart aan die Algemene Sinodale Moderamen gevra om te bid, en wat ook al die uitspraak, om genadig te wees. Ds Nelis Janse van Rensburg het gesê die uitspraak van hierdie saak, wat Kerkbode in die volgende uitgawe uiteen- sit, het die potensiaal om die kerk te ontwrig.

“Ek dink dis ’n redelike groot moment vir ons. Dit is ’n kwessie wat vir ons oor die afgelope paar jaar geweldige hoeveelhede spanning gebring het. Die uitspraak het die potensiaal om ons te ontwrig. Daar is geen twyfel daaroor nie,” meen Janse van Rensburg. Die dag voor die uitslag bekend gemaak is het hy aan die ASM-vergadering gevra om te bid dat die Here vir hulle “nugterheid gee, grasie gee, genade gee”. Maak nie saak wat die uitspraak is nie.

Hier volg die volledige uitspraak: NG Kerk hofuitspraak 2019

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui