NG Kerk, drukgroep ‘ontsluit’ plan oor gays

NG Kerk, drukgroep ‘ontsluit’ plan oor gays | Netwerk24

Deur Johan Eybers

28 Februarie 2021

Die NG Kerk se leierskorps gaan volgende week ’n buitengewone vergadering van die algemene sinode (AS) oorweeg om weer te besin oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die kerk, het Saterdag aan Rapport gesê ’n afvaardiging van die algemene sinode moderamen (ASM) het onderneem om ’n versoek van die Kairos Netwerk-drukgroep vir ’n buitengewone vergadering voor te lê vir oorweging.

Volgens Pieter Breytenbach, hoof van die Kairos Netwerk, het albei partye ooreengekom dat nuwe modelle en strukture ondersoek gaan word waarbinne nie alle beleidsbesluite bindend is nie.

Die ASM (die NG Kerk se hoogste besluitnemingsliggaam tussen byeenkomste van die algemene sinode) sal na verwagting volgende week op ’n vergadering daaroor besluit.

Die Kairos Netwerk is verlede jaar deur ’n groep dolerende gemeentes gestig “om te treur oor die kerk wat afdwaal” en “om alle besluite van die NG Kerk se algemene sinode wat in stryd is met die Bybel nietig (te) maak”.

Altesame 21 gemeentes het in 2019 gedoleer, 67 in 2020 en twee vanjaar.

Die sentrale werkgroep van die Kairos Netwerk en die afvaardiging van die ASM het Maandag en Dinsdag vir ’n tweede keer vergader om dolerende gemeentes se “diepgaande verskille” met die AS te bespreek. Die Kairos Netwerk is in Desember daarvan beskuldig dat hy aan kerkleiers sê hy soek na oplossings, maar terselfdertyd ’n strategie beplan om die kerk te laat skeur. Rapport het berig oor ’n opname van ’n vertroulike vergadering van die Kairos Netwerk waarop daar openlik voorbrand vir kerkskeuring gemaak is.

Die Kairos Netwerk se handleiding aan gemeentes oor doliansie lui onder meer: “Hoe meer gemeentes doleer hoe sterker is die saak om die AS se besluit te herroep of, indien daar dan wel skeuring plaasvind, ’n tuiste sal wees waarbinne behoudende lidmate ontvang sal word.”

Van Rensburg sê daar kan nie van getalle gebruik gemaak word om druk op die kerk te plaas nie.

“Ons is nie ’n demokrasie nie. Dit gaan nie oor getalle nie, maar oor oortuigings.

“Daar is baie lidmate en gemeentes wat baie gelukkig is dat daar vir hulle ruimte geskep is om volgens hul oortuigings op te tree, terwyl ander ongelukkig is. Dit help nie ons gebruik getalle om oplossings vir verskille te vind nie.”

Van Rensburg sê die vergadering het nie kerkskeuring bespreek nie. “Albei partye het vir mekaar gesê daar is ’n verskeidenheid van strominge en denke binne die kerk.

“Ons het saamgestem dat daar inderdaad ruimte en ’n behoefte is om mekaar binne die kerk te akkommodeer. Dit was die fokus van ons gesprekke.”

’n Verslag daaroor sal aan die ASM voorgelê word.

Breytenbach het gesê die vergadering waaroor Rapport in Desember berig het, is ook nie tydens die vergadering bespreek nie. “Ons doel is nie om weg te breek nie, maar om ruimte te skep vir verskillende strominge.”

Hy sê albei partye het erken dat daar diepgaande verskille is oor teologiese opleiding, Skrifbeskouing en –interpretasie en kerkordelike prosesse en dat daar baie vinnig oplossings gevind moet word om verdere onenigheid en kerkskeuring te keer. Hy sê daar is oor die huidige samestelling en strukture van die kerk gepraat en of dit werklik doeltreffend is in die hedendaagse omgewing.

“Daar is ooreengekom dat ander kerkstelsels ondersoek moet word om ’n meer missionaal-gerigte kerk te bewerkstellig waarbinne daar vryheid bestaan om nie onderhewig te wees aan alle beleidsbesluite nie.”

Hy sê daar is verder ooreengekom dat die algemene kuratorium genader sal word om hul probleme met bestaande teologiese opleiding te bespreek.

Die Kairos Netwerk sê in ’n nuusbrief aan sy lede “die wyse waarop die Here die deelnemers aan die gesprek gelei het, was ’n inspirasie”. “Die twee partye sien uit om die nuwe moontlikhede wat die Here tydens ons gesprek ontsluit het, verder te ondersoek.”

*******

Nuusbrief

Hier volg ’n uittreksel van ’n amptelike nuusbrief wat Kairos Netwerk op 26 Februarie 2021 aan hulle lede uitgereik het:

1. HOOFBERIG: Gesprek met ASM verteenwoordigers

Soos u reeds weet het ‘n opvolggesprek op 22 en 23 Februarie plaasgevind tussen die lede van ‘n afvaardiging van die ASM en die sentrale werkgroep van die Kairos Netwerk (KN).

Die ontmoeting het begin deur oop en eerlike gesprek te voer oor sommige van die probleme en verskille wat veral op drie gebiede naamlik teologiese opleiding, Skrifbeskouing en –interpretasie, en kerkordelike prosesse ondervind word. Beide die partye het tot die besef gekom dat daar diepgaande verskille is ten opsigte van die drie punte. Albei partye het erken dat indien daar nie baie vinnig bevredigende oplossings vir die genoemde verskille gevind word nie dit kan lei tot verdere onenigheid en kerkskeuring.

Die ASM se afvaardiging doen eersdaags verslag aan die volle ASM waar die volgende gesamentlike ooreenkomste voorgelê word vir besluitneming en waar verdere mandate en prosesse om uitvoering te gee aan die voorstelle bepaal sal word:

  • Aangesien meeste van die probleme onder bespreking slegs deur die Algemene Sinode effektief aangespreek kan word, het die ASM afvaardiging onderneem om die KN se versoek vir ’n buitengewone vergadering van die Algemene Sinode aan die volle ASM voor te lê vir oorweging;
  • Dat beide partye saam gaan werk om so gou moontlik kreatiewe en relevante oplossings te vind om die verskille effektief aan te spreek. Dit sluit in die ontwikkeling van nuwe kerklike netwerke/strukture/modelle waarbinne daar vryheid bestaan om nie onderhewig te wees aan alle beleidsbesluite nie;
  • As deel van die verslag is daar ooreengekom dat KN die tersaaklike verslae wat meer besonderhede van die verskille en probleme bevat, beskikbaar sal stel ter motivering van die voorstelle.

Op die teologiese opleidingsfront is daar ooreengekom dat die Algemene Kuratorium genader sal word om die KN te betrek by die soeke na oplossings om die probleme wat die KN met die huidige teologiese opleiding ondervind, intussen te probeer aanspreek.

Die Kairos Netwerk afvaardiging sal ook eers met die res van die lede en asook die dolerende gemeentes gesprek voer oor die moontlikhede en die grense van die KN afvaardiging se mandaat. Die erns van die huidige krisis in die kerk en die dringendheid om nuwe moontlikhede te ondersoek word deur beide partye gedeel.

Die wyse waarop die Here die deelnemers aan die gesprek gelei het, was ‘n inspirasie. Die twee partye sien uit om die nuwe moontlikhede wat die Here tydens ons gesprek ontsluit het, verder te ondersoek.

Daar is wel gepoog om ‘n gesamentlike verklaring vry te stel maar weens tydsdruk en ander verpligtinge van sleutel mense kon dit nie gefinaliseer word nie.

Daar word ook gewerk aan ‘n ‘Weergawe van KN se belewenisse’ wat iets probeer weergee van wat voor, tydens en na Gesprek 2 gebeur het. Daar word beplan om dit in ‘n volgende Nuusbrief te plaas. Die verwagting is dat dit belanghebbers by die saak ‘n beter aanvoeling sal gee van waar ons tans in die proses is en hoe die Here ons gelei het tydens die Gesprek met die ASM.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui