NG gemeente Middelburg-Suid se standpunt oor SGV

Kyk ook:

Verklaring van die NG Gemeente Middelburg-Suid t.o.v besluite van die Algemene Sinode aangaande:

A) Selfdegeslagverhoudings
B) Proses van goedkeuring t.o.v Belharbelydenis

A) Seksuele selfdegeslagverhoudings:

Ons stem nie saam met die Algemene Sinode se besluit aangaande Seksuele selfdegeslag- verhoudings. Ons is oortuig van die volgende:

  1. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek. (2 Tim 3:16)
  2. Selfdegeslagverhoudings binne vriendskap- of familiekonteks, is verhoudings wat aangemoedig behoort te word maar selfdegeslagverhoudings binne seksuele konteks word nêrens deur die Bybel aangemoedig nie.
  3. Gelowiges word aangemoedig om binne heteroseksuele gesinne onberispelik te leef. (Onder andere Ef.5 en 6).
  4. Die Kerk is die samekoms van geredde sondaars wat deur die liefde en genade van God, verlossing in Jesus Christus vind. Sy liefde dring ons om mekaar aan te moedig en selfs te vermaan, om reg te leef voor God.
  5. Ons glo dat die beoefening van homoseksualiteit geen groter sonde is as enige ander sondes waaroor die Skrif praat nie. Vir alle sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus.
  6. Homofobiese taal, gedrag en gesindheid, soos enige ander diskriminerende taal, gedrag en gesindheid is nie opbouend nie en moet aangespreek word.
  7. Liefde kan nooit kant kies vir dinge wat verkeerd is nie (1 Kor 13:6) en daarom word hierdie verklaar in die liefde wat ons in Jesus Christus het.

Ons bely verder saam met die verklaring van NG Moreletapark:

  1. Die Skrif leer ons dat ’n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is. ’n Christelike huwelik bestaan wanneer man en vrou mekaar met die liefde van Christus versorg en Christus die middelpunt is.
  2. Ons glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen God se wil en plan is.
  3. Die gemeente verwelkom alle mense met die liefde en deernis van Christus as deel van die gemeente. Wanneer ’n persoon egter in enige sonde volhard kan hy/sy nie in ’n leiersposisie in ons gemeente dien nie. Die Woord gee duidelike riglyne vir die leer en lewe van geestelike leiers in die gemeente.(bv. 1 Tim 3:1-12)
  4. Ons wil steeds as gemeente die liefdevolle oop arms en bewegende voete van Jesus wees, wat alle mense herinner aan die genade, vergifnis en heling van Christus.

B) Na aanleiding van bepaalde besluite van die Algemene sinode van 2015 aangaande Belhar, betreur die Kerkraad van Middelburg-Suid die volgende:

  1. Die wysiging van die Belydenisgrondslag.
    Dit is vir die Kerkraad hartseer dat die Algemene sinode nie die leiding van die groter kerk respekteer nie, deur wel te besluit dat die kerkorde gewysig kan word om sinodes die reg te gee om te besluit oor die insluiting van ander beslydenisskrifte. Daarmee word die eenheid van die Kerk, asook die eenheid in die gesamentlike Belydenisgrondslag in gevaar gestel.
  2. Die kerkraad onderneem dat beide hierdie standpunte, asook die bekommernis oor die toekomstige rol van die Algemene Sinode binne die NG Kerk, met die Algemene Sinodale kommissie asook die Diensraad van die Oostelike sinode opgeneem word.
  3. Die kerkraad besluit in die lig van die dringendheid van bogenoemde om alle fondse wat direk of indirek aan die Algemene Sinode oorbetaal word te weerhou.
  4. Die kerkraad onderneem om die proses voortdurend tydens kerkraadsvergaderings te evalueer en verdere besluite te neem.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui