NG gemeente Secunda-Goedehoop se standpunt oor SGV

Kyk ook:

Secunda-Goedehoop het sterk standpunt ingeneem teen die Algemene Sinode se besluit (kyk hieronder).

Hulle het ook die volgende SMS aan gemeentelede gestuur:

“Kom luister Sondag aand 22/11 om 17:30 waarom Goedehoop die besluit van die Algemene Sinode ivm selfdegeslagverhoudings verwerp het en ’n treurstem laat aanteken het by Sinode Hoeveld. Groete. Anton en Willem. NGGH: BulkSMS.com”

**********

27 Oktober 2015

Die Kerkraad van die Ned Geref Gemeente Secunda-Goedehoop het op die vergadering van 26 Oktober 2015 besluit om:

  1. Sy teenstem teen die Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings deur te stuur na die Sinode Hoëveld met die versoek om dit langs amptelike kanale onder die aandag van die Algemene Sinode te bring.
  2. Die Kerkraad versoek die Sinode Hoëveld om kennis te neem van die gemeente se verwerping van die besluite en gevolglike treurstem omdat Skrifbeginsels, Skrifgesag en eenheid met hierdie besluit in die gedrang gekom het.
  3. Die gemeente vertrou dat die SDK van Sinode Hoëveld leierskap aan die dag sal lê en ’n gesprek op sinodale vlak sal reël. Dit kan meewerk om vertroue te herstel.
  4. Vind aangeheg die gemeente se verklaring. Ons verneem graag skriftelik van die SDK.

Standpunt van die Kerkraad van Ned Geref Gemeente Secunda-Goedehoop

  1. Die Kerkraad is oortuig van die Skriftuurlike beginsel dat ’n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is en niks anders kan hierby gevoeg word nie. Sodanige huwelik word volgens normale prosedures voltrek.
  2. Die Kerkraad is oortuig van die Skriftuurlike voorskrifte dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik verkeerd is en dat die beoefening van homoseksualiteit teen God se wil en plan is soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat. Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en verlossing deur Jesus Christus.
  3. Die gemeente wil liggaam van Christus in Secunda wees en daarom is enige persoon welkom om hul verbintenis met Christus hier te kom uitleef.
  4. Die Kerkraad is oortuig van die Christelike tug as ’n kenmerk van die ware kerk. Wanneer ’n persoon in enige openlike sonde volhard sal hul met deernis daarop gewys word en dit kan meebring dat lidmaatskapvoorregte in die gedrang kom.
  5. Die Kerkraad sal steeds toesien dat ampsdraers ’n hoë sedelike lewenspeil handhaaf en dat die beginsels soos onder andere in 1 Tim 3:2 en Titus 1:6 toegepas word.
  6. Ons glo dat die onvervalste evangelie steeds die antwoord is vir ’n stukkende en gebroke wêreld. Die Kerkraad aanvaar sy verantwoordelikheid om toe te sien dat hierdie Evangelie suiwer verkondig word om vir alle mense genade, vergifnis en heling te bring.
  7. Die Kerkraad maak hierdie verklaring graag bekend.

KERKRAAD
NED GEREF GEMEENTE SECUNDA-GOEDEHOOP

Dr AW Knoetze

Ds WJ Lubbe

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui