NG gemeente George Moedergemeente se standpunt oor SGV

Kyk ook:

VERKLARING VAN DIE NG KERK GEORGE: SELFDEGESLAGVERHOUDINGS

Inleiding:

Die Kerkraad van Moedergemeente George steun nie die onlangse besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudinge nie. Ons gebed is dat ons mekaar steeds daaraan sal herinner om ons oë op Jesus, wat Sy Kerk met Sy eie bloed gekoop het, te vestig. Ons bid ook dat Hy ons altyd leiding uit sy Woord sal gee. As Kerkraad van Moedergemeente George bely ons op grond van dit wat ons uit Sy Woord verstaan die volgende:

1. Ons verbondenheid aan God is heilig

Dade wat deur die Ou en Nuwe Testament as onheilig veroordeel word, kan nie soos by implikasie deur die Algemene Sinode, nou heilig verklaar word nie. Selfs al is dit tussen gelowiges van dieselfde geslag. Die Woord is tog duidelik dat ’n man sy vader en moeder sal verlaat en saam met sy vrou sal lewe, en hulle twee sal een wees. Hierdie verbintenis is so heilig dat dit met Christus en Sy kerk vergelyk word.

2. Skepping-en-skeppingsopdrag

God het man-en-vrou geskape. Hy het man-en-vrou aan mekaar toevertrou en hulle beveel om te vermeerder. Hieroor is die Skrif baie duidelik. Nie in die Ou-of-Nuwe Testament is daar enige
vermelding van twee mans of twee vrouens wat deur God aan mekaar toevertrou is nie. Ons glo ook dat die Skrif duidelik is oor die feit dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen God se wil en plan is.

3. Leierskap (1 Tim 3)

Binne amps-verband (dit sluit alle leiersposisies in ons kerk in) word verwys na ’n sobere gesinslewe, verwysende na verbintenisse tussen mans-en-vrouens. Om twee persone van dieselfde geslag wat in ’n sogenaamde burgerlike verbintenis is toe te laat om in die amp te staan, is gewoon onverantwoordelik en weerspreek dit wat die Sinode oor die huwelik bely.

4. Skrifgesag-en-Skrifbeskouing (2 Tim 3:16)

Dit wil voorkom of die Sinode besig is om stelselmatig van dit wat ons vanuit die Heilige Skrif oor Skrifgesag verstaan en wat sedert die Reformasie deur ons kerk bely is, naamlik dat die hele Skrif deur God geïnspireer is en groot waarde het om in “die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek”, af te wyk (2 Tim 3:16).

5. Vergifnis en genesing

As kerk wil ons egter steeds die oop arms van Jesus wees wat vir álle mense genade, vergifnis en heling bied. Alle mense word, soos ons doopformulier dit uitspel, in sonde gebore-en-ontvang. Omdat ons almal sondaars is, is almal in ons gemeente welkom. Moedergemeente George stel dit as een van haar primêre Christelike waardes dat ons mekaar in liefde reg sal help en bystaan. Ons herinner mekaar dus dat ons nie sonder meer in énige sonde kan bly volhard nie.

Slotopmerking:

Die Kerkraad wil dit duidelik stel dat daar tans, as gevolg van die Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslag verhoudinge, verdeeldheid en verwarring in die NG Kerk heers. Ons stem nie met hierdie besluite saam nie en wil dit op ’n kerkordelike wyse regstel.

Alhoewel daar wydverspreide gerugte van kerkskeuring in die NG Kerk is, is die Kerkraad van Moedergemeente George se standpunt om nie bande met die NG Kerk en/of Algemene Sinode te verbreek nie.

Die Kerkraad wil dit duidelik stel dat ons van mening is dat die korrekte wyse om die verkeerdhede in die Algemene Sinode aan te spreek, ’n interne kerkregtelike (binne strukture en prosedures voorgeskryf in die kerkorde) proses is.

Die Kerkraad het ’n komitee aangewys wat moontlikhede sal ondersoek oor hoe die proses wat gevolg moet word om verkeerdhede reg te stel, aangepak behoort te word.

Ons wil ’n beroep op elke gemeentelid doen om die aangeleentheid biddend en met rustigheid te benader en nie oorhaastig besluite te neem nie. Ons nooi enige lidmaat van ons gemeente om met ons in gesprek te tree indien meer inligting oor hierdie saak verlang word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui