I/S gay huwelike

Kyk ook:

Die volgende is geskryf deur Ds John Murray. Hy is ’n afgetrede oud leraar van die NG Gemeente Helderberg Somerset Wes en Port Natal, Durban. Hy was die aktuarius van die NG Kerk Natal vir 12 jaar. Hy is tans woonagtig in die Strand.

***********

I/S: GAY HUWELIKE

Aangesien net ’n klein meerderheid Sinodegangers die dubieuse skrifverklarings waarop die voorstellers van die besluit hulle argumente gegrond het, aanvaar het, beteken dit dat 40% dit verwerp het. Aldus het 40% te kenne gegee dat hulle wel die Kerk se belydenis geskrifte aanvaar, naamlik dat die geskrewe Woord van God duidelik, gesaghebbend en volkome is. (Nederlandse Geloofsbelydenis Art 2-7) Wie dit nie aanvaar nie het hulle bande daadwerklik met die NG Kerk, wat genoemde belydenisgeskrifte bely, verbreek. Lidmate wat die Belydenis geskrifte van die Kerk onderskryf, kan aldus nie anders as om hulle geheel en al van die besluit van die Sinode te distansieer nie.

As gevolg van die besluit in verband met Gay-huwelike moet ons onsself, veral ten opsigte van vier ernstige vrae, verantwoord:

1. Wat is die grootste openbaring van liefde? Is dit nie dat die Seun van God ons so lief gehad het dat Hy Sy lewe vir ons oorgegee het nie, ons sonde skuld betaal het, “die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis het, dit vir altyd weggeneem het toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het” (Kol 2:14) en dat Hy niks van ons vra, behalwe dat ons Hom “glo” (Joh 3:16), “ons sondes bely (erken)– Hy is getrou en regverdig Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle kwaad” (1 Joh 1:9)?

2. Kan daar ’n liefdeloser daad wees as om dit wat God as ’n gruwel, ’n afskuwelike sonde beskryf (Lev 18:22; 19:18; 20:1, gedeeltes waarna Jesus in Markus 12:31 verwys wanneer Hy oor liefde praat, sien voetnota ABV 1983) te regverdig en sodoende te verkondig dat daar geen nodigheid is om dit te bely en derhalwe vergifnis te ontvang nie?

Ontneem die kerk nie daardeur, op grond van die duidelike uitspraak in 1 Kor 6:9-10, mense die koninkryk van God as erfdeel nie? Kan n kerk wat aanspraak maak om Kerk van Christus te wees, so n liefdelose daad in die naam van liefde pleeg?

3. Word die Evangelie verkeerd verstaan as ons glo dat Jesus sondaars lief het, so oneindig lief het dat Hy Sy lewe vir ons gegee het, vir elkeen van ons wat met sonde worstel, en wie worstel nie met sonde nie? (Rom 7:15,19) My sonde is miskien my selfsug, dit verskil immers niks van die sonde waarmee gay’s worstel nie. Die wonderlike troos vir ons en vir alle sondaars is dat daar volkome vergifnis is, maar geld dit nie net vir elkeen wat hulle sonde erken nie? Geld dit ook vir die wie hulle sonde misken, of dan ook daarin deur ’n ‘huweliksband’ volhard en derhalwe nie deur Christus daarvan gewas, geheilig en vrygespreek is nie? Kan ook hulle die koninkryk van God beerwe? Of mislei 1 Kor 6:9-11 ons?

4. Kan mense wat sonde misken, geen vergifnis daarvoor vra nie, nie deur Christus se bloed gewas is nie, die kansels van ’n ware Kerk van Jesus Christus beklee en ’n suiwer Evangelie verkondig?

Een van die kenmerke van die ware Kerk is immers die suiwere verkondiging van die Evangelie. (Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 29)

Dié vrae raak die kern van die Evangelie. Antwoorde hierop bepaal of die Kerk ware of valse kerk is, instrument van Satan wat deur misleiding mense die verdoemenis inlei, of van Christus wat Redder is, mense vryspreek, die ewige lewe skenk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui