’n Pa met ’n hart vir gays

Die volgende artikel het in Volksblad verskyn op 15 November 2013.

Kyk ook:

**********

’n Pa met ’n hart vir gays

NG leraar praat oor pad van aanvaarding, liefde met dogter . . . en ’n lekker troue

ANNALIZE DOUBELL

Vrydag 15 November 2013

“EK is baie lief vir julle vier.”

Ds. Hein Kotzé praat van agter sy kateder in die oggenddiens in die NG kerk Uitsig in Bloemfontein.

Sy gesin sit in die middelblok, so vyf rye van voor af.

Sy woorde spreek boekdele. Die vier is sy drie dogters en ’n skoondogter.

As seun van die plaas Modderpan in die distrik Petrusburg en ’n knaap wat van ses jaar af ’n koshuisbrak was, is hy ’n plat-op-die-aarde-mens. Hy word vies as jy hom dominee noem.

Uitsig was sy eerste en enigste gemeente – al 32 jaar.

Spyt is hy glad nie. “Ek dink nie jy kry ’n beter gemeente met ouliker mense as Uitsig nie,” spog hy so ’n bietjie.

Kinders wat hy gedoop en gekatkiseer het, se kinders word ook nou al met dieselfde vingers uit die doopvont besprinkel.

Die gemeente het so ook sý drie dogters sien grootword – ’n donkerkop en twee blondines. Mooi kinders – al drie van hulle. En fluks agter die boeke – die oudste het ’n doktorsgraad, die middelste ’n meestersgraad en die jongste doen honneurs.

Dit is veral oor sy middelste kind waaroor ons praat. Die lang, lenige vrou met die mooi blou oë. Gay.

Goed voorberei

“Ons het lank reeds die vermoede gehad, maar was te bang om te vra. Netnou ís dit so,” onthou hy die wroeging waardeur hy en sy vrou, Adri, gegaan het.

Toe vra hulle maar vir ousus. “Ek weet, maar ek mag nie sê nie.”

Toe weet hulle dit is so.

Maar hoe “konfronteer” ’n pa, nogal ’n NG dominee, en ’n ma so ’n kind?

“Sy het in daardie stadium op Petrusburg gewerk. Toe sy een naweek weer kom kuier, het ons besluit ons móét praat.

“Ons kon ons goed voorberei op die gesprek. Dit het baie vir ons (sy en Adri se) verhouding ook beteken.”

Toe sy die Saterdagoggend uit die badkamer kom, het Hein haar genooi om by hulle in die bed te kom lê. “En daar, tussen haar ouers, kon ons praat.”

Dit was ’n skok vir haar dat hulle reeds geweet het sy is gay. “Ons het haar dadelik die versekering gegee dat ons haar nooit sal probeer verander nie. En as sy enige hulp nodig het, moes sy net sê.”

Hein huil vandag nog oor twee goed.

“Die eerste is dat my kind reeds geweet het sy is gay toe sy 13 jaar oud was. En ek huil ook oor my kind wat 10 treë van ons af geslaap het en ek het nie geweet daar is soveel hartseer in haar lewe nie.”

Hulle het as ouerpaar ’n jaar water getrap voordat hulle weer grond onder hul voete gevoel het en openlik daaroor kon praat. Van toe af was daar geen omdraaikans nie.

Vaste verhouding

Talle vrae het egter deur hul kop gemaal. Wat daarvan as sy ’n verhouding sou aanknoop? Wat as hulle hande sou vashou, of nog erger, soen? Sou ’n vaste verhouding ’n werklikheid word, sou dit bloot kontraktueel wees – soos mense wat saambly – het hulle geredeneer. Trou was glad nie ’n opsie nie.

“Ek het egter tot die slotsom gekom dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie. En daarom het ek besluit om my nie hieroor te bekommer nie. As so ’n mens opdaag, sal ek haar as mens hanteer.”

Hul dogter het feitlik nooit meer saam met hulle by die huis gekuier nie. “Sy was altyd net ’n rukkie tuis, dan is sy weg saam met haar pêlle. Ons het planne gemaak hoe ons haar weer tuis kon kry.”

’n Goeie aanknopingspunt vir Hein-hulle was om die gay-selgroep waarby sy haar ingeskakel het, vir ’n braaigeselligheid by hul huis te nooi.

“Toe daag 25 kinders op! Ek besef toe elkeen van hulle soek ’n plek waar hulle veilig en net hulself kan wees.”

Hier het sy verhouding met gay mense begin. Iets waaroor hy vandag, veral in die huidige klimaat waarin die NG Kerk hom bevind wat gays betref, baie dankbaar is.

Die verhouding waaroor hulle hul aanvanklik gekwel het, het toe gerealiseer. Hulle het lief geword vir dié nuwe “dogter” in die huis. En was baie hartseer toe die verhouding beëindig is.

Toe kom die werklike vaste verhouding. En ’n huwelik.

“Ons het besluit ons gaan ’n lekker troue hou. Ek het dit teologies in my kop uitgesorteer.

“Vir elke voorskrif of wet in die Bybel moet die Here ’n beginsel of bedoeling hê.

“Dié troue was nie vir my ’n huweliksbeginsel nie, maar ’n mensbeginsel – die Here het nie bedoel dat die mens alleen moet wees nie.”

Maar hoe sou hulle by die Bybel verbykom as hulle ’n gay-troue reël?

“Die moeilikste hiervan is om by elke interpretasie (van wat die Bybel sê) verby te kom. Dit is baie makliker om by God se hart verby te kom.”

Daarom het hy sy seën op dié huwelik gesit.

’n Passie

Op die troue het een ding vir Hein uitgestaan – alle gay mense het ’n storie te vertel oor eensaamheid en verwerping.

“Hulle wil net aanvaar word.”

Hier het ’n passie vastrapplek in sy hart gekry.

“Ek wil ouers en hul gay kinders by mekaar uitkry, want as jou familie jou aanvaar, kan die wêreld maar kom. Vrees vir verwerping veroorsaak die verstopping.”

Hein het reeds in ’n gesprek met die moderator van die NG Kerk aangedui dat hy graag in die taakspan wil dien wanneer oor die plek van gays in die kerk gepraat word.

“Die gesprek in die kerk is nog nie klaar nie. Ék wil help met verhoudings met gays.”

Die oplossing is vir hom prakties: “Die kerk sal ’n meer verantwoordelike besluit kan neem as diegene wat die besluit moet neem, eers ’n verhouding met minstens een gay mens het en moeite doen om daardie mens te verstaan.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui